Estimated reading time: 4 minutes
Misdaadsyfers lig dit jaarliks uit: Suid-Afrika is nie ’n veilige plek nie.
Tewens, die Wêreldbank het al genoem dat Suid-Afrika sy ekonomiese vooruitsigte kan lig as die land net sy veiligheid onder beheer bring. Sekuriteitsmaatskappye en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) het ’n gebrek aan ’n behoorlike inligtingsnetwerk om misdaad te help monitor en bekamp, as die hoofprobleem geïdentifiseer.
Oor die afgelope klompie jare het die Suid-Afrikaans Polisiediens (SAPD), landbouers, en ander belanghebbendes hande gevat en begin om ’n landswye veiligheidskameranetwerk op die been te bring. Nou het gerugte Plaas Media se ore bereik dat daar glo diegene is wat van hierdie stuk gereedskap langs die land se nasionale paaie ontslae wil raak.
Landelike veiligheid bied ’n oplossing
Verskeie rolspelers in die veiligheidsbedryf het ’n paar jaar gelede met Besigheid teen Misdaad Suid-Afrika (Bacsa), Agri SA, TLU SA, die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), en die SAPD hande gevat en ’n plan opgestel om hierdie probleem aan te spreek. Aangesien talle boere veiligheidskameras op hul toegangspaaie opstel en voortdurend weet wie verby hul plase gery het, is die Eyes and Ears-inisiatief (E2) opgestel. Hierdie inisiatief behels ’n geïntegreerde stelsel waarin kameras in een stelsel met kameras van ander instansies gekoppel word om, onder meer, voortvlugtige misdadigers te kan opspoor.
Roelof Viljoen, projekbestuurder van Bacsa verduidelik dat hierdie inligting gratis aan die polisie se distrik, provinsiale en nasionale operasionele beheersentrums beskikbaar gestel word. Op hierdie manier kan misdadigers se bewegings dopgehou word en kan hulle makliker aan die kaak gestel word. Die suksesse wat die polisie reeds danksy die E2-stelsel kon behaal is van onskatbare waarde om Suid-Afrika ’n veiliger plek te maak.
Suksesse behaal
Viljoen sê dat hulle met die hulp van hierdie kameras in die laaste jaar sowat 3 000 voertuie opgespoor het. In KwaZulu-Natal alleen is 108 voertuie in Augustus vanjaar opgespoor en in die Noord-Kaap, wat die minste misdaad voorvalle het, is daar tussen Januarie 2024 en Junie 2025 altesaam 53 voertuie opgespoor en 140 mense in hegtenis geneem. Hy sê ook dat daar in een maand nege gevalle van veediefstal aangemeld is en danksy hierdie stelsel is 23 mense in hegtenis geneem.
Daar word maandeliks sowat 5 700 misdaadgevalle aangemeld wat wissel van onrus, oproer, roof, aanranding, diefstal, en so meer. Die stelsel is dus nie net waardevol vir die landbougemeenskap nie, maar stel boere in staat om die oë en ore van die polisie te wees.
By navraag oor die sukses in die Noord-Kaap, sê kapt. Alf Taylor van die Noord-Kaap SAPD-operasionele kamer, die intelligensie wat deur E2 gegenereer word – deur middel van toesigtegnologie, rolspelersamewerking, en gedeelde verslaggewing – versterk multidissiplinêre misdaadbestrydingsoperasies en lewer steeds noemenswaardige resultate in die stryd teen georganiseerde misdaad.
Boere en landbou-unies het op eie onkoste beduidende bydraes gelewer deur die meerderheid van die kameras wat aan die stelsel gekoppel is, te installeer en gratis aan die SAPD te verskaf. Groeiende deelname is van kritieke belang om selfs groter sukses in die bestryding van misdaad in landelike gebiede te verseker.
Boere se bydrae
Uys van der Westhuijzen, voorsitter van Agri SA se Sentrum vir Uitnemendheid: Landelike Veiligheid, is ook vol lof oor die stelsel wat landbouers vir die SAPD beskikbaar stel. Die E2-stelsel verseker dat die Suid-Afrikaanse publiek veilig op die land se nasionale paaie kan reis en dit is maar net een van die maniere waarop boere weereens help om dié land ’n beter plek vir sy inwoners te maak. In die Noord-Kaap, die provinsie met die laagste misdaadsyfer, is daar reeds 700 kameras wat aan die E2-stelsel gekoppel is.
En wat van POPI?
Van der Westhuijzen is bewus van ontevredenheid oor kameras langs toegangspaaie na plase. Vernaam dié wat op die reserwe-dele langs die nasionale paaie opgerig word. Die bewering is glo dat daardie kameras strydig met die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (POPI), 2013 (Wet 4 van 2013), is.
Hierdie bewerings is egter onsinnig, sê hy. “Sanral en Agri SA het ’n geskrewe kontrak opgestel en beide partye hanteer die aangeleentheid volgens die voorgeskrewe voorwaardes in die kontrak, wat POPI insluit”. Van der Westhuijzen voeg ook by dat almal wat by die E2-stelsel inskakel aan ’n hele rits voorwaardes moet voldoen ten einde binne die POPI-wet te bly.
Te midde van ’n ondersoek na gerugte dat die veiligheidskameras langs die Sanral-paaie verwyder moet word, waarsku Van der Westhuijzen dat dit ’n geweldige nekslag vir Suid-Afrika se landelike veiligheid – en veiligheid oor die algemeen – sal toedien. Dié kameras lewer immers ’n reuse bydrae om Suid-Afrika ’n veiliger blyplek te maak. – Koos du Pisanie, Plaas Media

