Monday, December 8, 2025

Agri Gauteng bring nuwe energie

Estimated reading time: 6 minutes

Na ’n paar onstuimige jare was vanjaar se AgriCulture Gauteng jaarkongres ’n fees om by te woon en te sien hoe dié organisasie terugkeer na kernkwessies wat vir primêre landbouers van belang is.

“Ek wil net die bestuurspan gelukwens met hoe julle dié organisasie binne ’n jaar of twee omgeswaai het en teruggekeer het na die kernsake. Baie dankie vir hoe julle die organisasie hanteer,” het megaboer, Jan Basson, uit die gehoor gesê na Konrad Burger, president van AgriCulture Gauteng, se voorsittersrede.

Basson het by name vir Konrad Burger, president van Agriculture Gauteng, en sy twee visepresidente – Corné Vermaak (eerste visepresident) en Sarel Pienaar (tweede visepresident) – bedank vir hul insette. Al drie hierdie manne is weer in hul posisies herverkies. Basson het bygevoeg dat Kobus Visser, hoofbestuurder van AgriCulture Gauteng, se rol agter die skerms ook ’n beslissende rol in die positiewe ommeswaai van hierdie organisasie gespeel het.

Die herverkiesde dagbestuur van AgriCulture Gauteng. Hulle is van links, Sarel Pienaar, tweede visepresident, Konrad Burger, president van Agriculture Gauteng, en Corné Vermaak, eerste visepresident.

Regering ag landbou hoog

LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in Gauteng, Vuyiswa Ramokgopa.

Die LUR vir landbou en landelike ontwikkeling in Gauteng, Vuyiswa Ramokgopa, het in haar groeteboodskap die belangrikheid van Gauteng se produsente uitgelig. “Gauteng is die mees dig bevolkte provinsie in die land. Hier woon 16 miljoen mense en dis die taak van ons boere om hulle almal kos te gee.”

Ramokgopa het benadruk dat dit nie maklik is om te boer nie, maar dat daar ’n Afrika-spreuk is wat sê: “Wie heuning wil eet, moet steke verdra.” As mens dus die soet van die landbou wil beleef, moet jy die pyn wat daarmee saamgaan verdra. Dít spreek ook boekdele van die karakter van mense binne die landbou. “Uiteindelik is hierdie sektor se grootse bate nie sy tegnologie, grond, of navorsing nie. Dis die kaliber mens wat in die sektor werk.”

Ramokgopa het ’n hand van samewerkende vriendskap na AgriCulture Gauteng uitgesteek en gesê dat haar departement graag saam met die organisasie wil werk omdat die afgelope jaar beklemtoon het dat die land sal moet saamstaan om kwessies soos dieresiektes ’n nekslag toe te dien. “Gauteng se staatsveeartse is fantasties, maar die skaal en omvang van die bek-en-klouseer(BEK)-uitbrekings is eenvoudig oorweldigend. Daarom moet ons met die bedryf saamwerk as ons ’n langtermynoplossing vir hierdie probleem wil vind.”

Samewerking is ook krities met die oog op internasionale geopolitiese omstuimighede, sê Ramokgopa. “Suid-Afrika is ’n baie klein rolspeler met ’n baie oop mark binne ’n globale omgewing wat al meer vyandig teenoor vryehandel is. Daarom moet ons as ’n land worstel met die implikasies van hierdie nuwe verwikkelinge. Dit is veral krities dat ons as regering baie nou met verskillende departemente skakel en sorg dat ons uit een mond praat wanneer ons die wêreldgehoor aanspreek.”

Ramokgopa sĂŞ geen regering of individuele organisasie kan hierdie land se toekoms skep nie. Almal se insae is van kardinale belang om beleide te skep wat die landbou vorentoe kan neem.

Ekonomiese onstuimigheid

Loffie Brandt, uitvoerende beampte vir landbouverkopebemagtiging by Absa Agribesigheid, sê dis interessant om te sien dat banke se landboukrediet nie meer so hoog is soos in die verlede nie, wat beteken dat produsente oor die algemeen meer geld maak en versigtiger geword het om skuld te maak. “Dit dui daarop dat boere nie meer op dieselfde skuldvlakke as in die verlede wil leef nie.”

Dié inligting dui ook daarop dat produsente al groter en meer doeltreffend begin boer het. Tog is daar kwessies soos waterskaarste en dieresiektes wat steeds ’n groot risiko vir produsente inhou, waarsku Brandt.

Binne die makro-ekonomiese omgewing behoort daar eers binne die volgende drie tot ses maande duidelikheid te wees oor hoe presies die Amerikaanse president, Donald Trump, se reusetariewe op verskeie lande veral die Amerikaanse ekonomie gaan raak. Brandt sĂŞ hoewel Amerika nie Suid-Afrika se grootste uitvoermark is nie, moet die invloed van hierdie tariewe op individuele produsente nie onderskat word nie, omdat Amerika wel sommige produsente se grootste uitvoermark is.

Georganiseerde landbou belangriker as ooit

“Te midde van stygende insette, veranderende wette, en politieke uitdagings bly die landbou se veerkragtigheid iets om te bewonder,” het Burger tydens sy presidentsrede gesê. Binne hierdie onseker wêreld is die ondersteuningsrol wat georganiseerde landbou aan produsente bied belangriker as ooit tevore.

“Ons is bewus van die bekommernisse rondom onlangse wetgewende verwikkelinge, soos die Onteieningswet 2024, (Wet 13 van 2024). Dit is egter belangrik om te beklemtoon dat geen grond tot dusver sonder vergoeding onteien is nie, en dat afsonderlike voorvalle verantwoordelik hanteer is,” sê Burger. “Misinformasie moenie ons aandag van die werklike vordering wat gemaak word aflei nie.”

As deel van AgriCulture Gauteng se hernude pogings om produsente by te staan, het die organisasie sy befondsingsmodel aangepas en talle streeksgesprekke word gehou om te verseker dat produsente en diensverskaffers ruim netwerkgeleenthede het. Verder word produsente ook geondersteun met inligting oor watersake, vuurbekamping, bek-en-klouseer-inligting, en enige veranderinge rondom wetgewing, sĂŞ Burger.

Willem de Chavonnes-Vrugt, adjunk-president van Agri SA, het die belangrikheid van al die verskillende vertakkings van georganiseerde landbou – spesifiek binne die Agri SA-konteks beklemtoon. Hy het benadruk dat produsente in 1904 ook baie van die uitdagings van moderne produsente beleef het. Agri SA se voorloper, die Suid-Afrikaanse Landbou Unie (SALU) is daardie jaar gestig. “Dit was net na die oorlog en Suid-Afrika was ’n netto invoerder van graan. Boere het toe met die dreigemente van nuwe tegnologie geleef, omdat die eerste meganisasie en gebruik van kunsmis toe plaasgevind het,” vertel De Cavonnes-Vrugt en voeg by dat die organisasie gestig is omdat produsente ’n behoefte aan ’n verenigde stem en ’n drukgroep nodig gehad het, wat hul belange kon bevorder.

Agri SA se krag lê steeds op sy grondvlak, waar individue by die boere-unie die verskil maak. “Op grondvlak kan ’n enkele persoon of twee, ’n enorme invloed hê. Ek het egter agtergekom dat die enkele ding wat die grootste verskil in ’n organisasie se sukseskoers maak, is fokus.” Daar waar ’n landbou-unie byvoorbeeld fokus om die veilingsterrein op te knap of die munisipaliteit oor ’n kwessie aan te vat, of fondse in te samel – dít is waar hul sukses beleef, sê De Chavonnes-Vrugt. “Fokus net op een of twee kwessies en jy sál ’n verskil sien.”

Kuikenboer is top jongboer

Een van die hoogtepunte op die dag se program was toe Gerritz Maritz, eienaar van Brandvlei Chickens, as die AgriCulture Gauteng en Toyota se Jongboer van die Jaar aangewys is. Die Maritze is kontrak-braaikuikenprodusente en hulle boerdery is langs die N14 tussen Brandvlei en Johannesburg.

Verlede jaar se wenner, Valeska van Schoor van Gro4Africa, het hom geluk gewens en gesê hy moet dié lewensveranderende ervaring geniet. “Die afgelope jaar was ’n ongelooflike ervaring waar ek kon beleef hoe goed Suid-Afrikaanse boere werklik kan boer. Dit het beide my lewensuitkyk en besigheid laat groei. Ek hoop dat dit dieselfde vir jou kan beteken.”

Maritz het op sy beurt sy vrou, Mignon, huisgesin, hul werkspan, en sy Hemelse Vader bedank vir hulle ondersteuning en krag. Hy het verder tong in die kies genoem: “Ek kyk nou skielik ’n bietjie anders na admin …” – Susan Marais, Plaas Media

’n Karoo-boerdery geskoei op natuur en kennis

Estimated reading time: 7 minutes Sybrand Venter, ’n bekende gemeenskapsleier en produsent van die plaas...

Oilseeds Focus December 2025 

The December issue of Oilseeds Focus explores South Africa’s fertiliser use, smart cultivar choices for profitable...

Stockfarm December hits the shelves

The December 2025 edition of Stockfarm shines the spotlight on the resilience and adaptability...

Trust and muffins lead the way

Estimated reading time: 4 minutes In any business, communicating in silos is the main cause...