Lantana camara: Waak teen dié struik

Estimated reading time: 3 minutes

Lantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by vee en veroosaak lewerskade, geelsug en fotosensitiwiteit, en lei dikwels tot pynlike velletsels en vrektes.

Lantana camara is ‘n plant uit die Verbenaceae-familie en staan ook as wilde roosmaryn of gomdagga bekend. Dit kom in Suid-Afrika op sowat twee miljoen ha grond voor en word allerweë as een van die skadelikste indringerplante beskou. Dit word vir baie jare al as ’n verklaarde onkruid en kategorie 1b-indringerspesie geklassifiseer. Dit beteken grondeienaars is wetlik verplig om die plant, waar moontlik, uit te roei of doeltreffend te beheer.

Linde du Toit, medeprofessor by die Universiteit van Pretoria se Departement Veekunde, sê lantana versteur die ekologiese balans van gesonde veld deur aggressief met ander plante om sonlig, water en voedingstowwe mee te ding. In swaar-besmette gebiede kan digte stande die drakrag van weidings met tot 80% verminder. Selfs met geïntegreerde bestuurspraktyke kan dit etlike jare neem om die plant te beheer.

Lantana-vergiftiging by vee

Prof du Toit sê lantana-vergiftiging is een van die algemeenste vorme van plantvergiftiging by vee in Suid-Afrika. Die plant bevat giftige triterpenoïede, waarvan lantadeen A en B die twee belangrikste gifstowwe is wat lewerskade, geelsug en fotosensitiwiteit veroorsaak, en dikwels tot gesigekseem lei.

Lantana-letsels word deur blootstelling aan sonlig vererger en vorm verdikte, skurwe sere voordat die vel afskilfer.

Geelsug ontwikkel as gevolg van die lewerskade, terwyl swelling, verkleuring en uiteindelik die afskilfering van ongepigmenteerde vel voorkom, veral rondom die kop en gesig. Fotosensitiwiteit word deur die fotodinamiese verbinding, filloëritrien, veroorsaak. Dit is ’n derivaat van chlorofil wat in die liggaam ophoop en met sonlig reageer. Die reaksie beskadig die vel se selle en lei tot die ontwikkeling van pynlike velletsels.

Hoewel hoofsaaklik beeste deur lantana vergiftig word, is gevalle ook by skape en bokke aangemeld. Plantvergiftiging vind meestal plaas wanneer plante nog in ’n vroeë groeistadium is, asook gedurende droogtes, tydperke van oorbeweiding en wanneer diere na nuwe weidings of gebiede verskuif word. Vrektes is egter ook tydens die somermaande op goeie weidings aangemeld.

Liggevoeligheid is een van die kenmerkendste tekens van lantana-vergiftiging. Aangetaste diere toon dikwels ’n gebrek aan eetlus, lyk depressief en kan rumenstase, diarree en geelsug ontwikkel. Geswolle ore, ontsteekte ooglede en pynlike letsels op die liggekleurde dele van die vel kan ook voorkom. Hierdie letsels word deur blootstelling aan sonlig vererger en vorm verdikte, skurwe sere voordat die vel afskilfer. Tydens nadoodse ondersoeke word ’n geelbruin, geswolle lewer en ’n vergrote galblaas gewoonlik waargeneem, wat op ernstige lewerskade dui.

Wat staan produsente te doen

Aangetaste diere moet onmiddellik na ’n skaduryke kamp met skoon water en goeie gehalte voer verskuif word. Veeartsenykundige hulp is noodsaaklik, aangesien daar geen spesifieke teenmiddel bestaan nie. Veeartse kan wel binneaarse vloeistowwe toedien om die lewer- en nierfunksie te ondersteun.

Hoewel behandeling dikwels beperkte sukses oplewer, kan geaktiveerde koolstof gebruik word om die opname van gifstowwe te verminder. Sowat 2,5kg geaktiveerde koolstof kan in ’n 20ℓ-elektrolietoplossing gemeng en met ’n maagbuis aan aangetaste diere toegedien word. ’n Tweede dosis kan die volgende dag gegee word, gevolg deur ’n derde behandeling vier tot vyf dae later. Velletsels vereis dikwels ekstra sorg om sekondêre infeksies te voorkom en die herstelproses te versnel.

Lantana se sterk hergroeivermoë en langlewende saadbank vergemoeilik die plant se beheer. Dit vestig ook maklik in digbeboste gebiede, en daarom word ’n geïntegreerde benadering aanbeveel. Meganiese en chemiese bestuur bly die algemeenste en doeltreffendste strategieë. Plante word naby die grond afgesny, waarna die stompe onmiddellik met goedgekeurde onkruiddoders behandel word om hergroei te beperk. – Christal-Lize Muller, Veeplaas

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan prof Linde du Toit by linde.dutoit@up.ac.za

100 jaar van wolproduksie (Deel 5): Die boublokke van ’n welvarende land

Estimated reading time: 7 minutesDie Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) betree binnekort die volgende 100 jaar...

RPO Vrystaat-kongres: Winsgewendheid, BEK en leierskap

Estimated reading time: 3 minutes’n Besigheid moet winsgewend wees om volhoubaar te funksioneer.Die Rooivleisprodusente-organisasie...

Die geur, kleur en eer van Merino-ramveilings

Estimated reading time: 6 minutesHy het vir hom ’n geel Jaguar met ’n bedrag...

NWKV vier ‘n eeu van trotste vooruitgang met daadwerklike aksie

Estimated reading time: 9 minutesVir meer as ’n eeu ondersteun die NWKV kommunale wolprodusente...