Estimated reading time: 7 minutes
Langslewendheid en langtermyn winsgewendheid is belangriker as vinnige, hoë produksie op grond van hormoonbehandeling.
Die Maki-Tuis Jersey-stoet en melkery van Jaco en Jennifer Pieters in die Potchefstroom-distrik, is hulle trots. Ondanks verskeie uitdagings hou dié toegewyde span konsekwent by hul teeldoelwitte, bou voort op uitstaande genetika en lewer deurgaans hoë-gehalte melk.
Jaco vertel dat sy pa, Wessel, ’n groot liefde vir melkbeeste gehad het. Sy pa en broer, Hannes, wat steeds by die boerdery betrokke is, het destyds ’n melkery gehad. Die kudde was egter hoofsaaklik vir spekulasiedoeleindes aangehou. In 2003 het Jaco en sy pa besluit om die melkery uit te brei en in ’n stoetkudde te belê. Swak mieliepryse en ’n nie-lonende saaivertakking het hulle laat besef dat kuilvoer vir die melkkudde ’n waardevoller bate sou wees.
Die Jersey-kudde is stelselmatig gebou. Die eerste stoetkoeie is by ’n produsent in Memel aangekoop. Die kombinasie van Deense genetika (hoë melkvastestofinhoud) en Amerikaanse koeie (hoë melkvolume) wat reeds op die plaas was, het bottervet, proteïene en volume verbeter.
Hulle het aanvanklik met 80 koeie in melk begin, en die kudde het sedertdien tot 460 gegroei. Die kudde is geregistreer en suiwer gehou om basterkrag te vermy en voldoende data vir teelbesluite te verseker, aangesien hul dogter, Bernice, daarin belangstel om met die melkery voort te gaan. Hulle is by Jersey SA sowel as SA Stamboek geregistreer.
Waarom Jerseys?
Jaco sê hulle het op Jerseys besluit omdat hul melkkoper destyds ongepasteuriseerde melk met hoë melkvastestowwe verkies en goeie pryse daarvoor betaal het. Vandag lewer die kudde steeds hoë-gehalte melk, met ’n bottervetinhoud van tot 5,1% in die winter en ’n proteïeninhoud van 3,89%.
Hulle maak van ’n intensiewe, totaal-gemengde rantsoen (TGR)-stelsel gebruik. Aangesien Jerseys ’n klein raam het, is hul voeromset per liter melk teenoor kg voer doeltreffend, met minder kuilvoer wat vir dieselfde melkvolume benodig word. Die diere het ook ’n goeie temperament. Jaco selekteer vir melkvastestofinhoud, produksie, goeie uieraanhegting en -vorm, en hoewe wat daarop dui dat koeie goed kan stap.
Vandag maak die melkery sowat 80% van die boerdery uit, met die oorblywende 20% wat uit mielieproduksie bestaan. Die lakterende koeie se rantsoen bestaan uit Smutsvingergras (self gesny, gehark en gebaal), kuilvoer, brouersgraan, ’n hoë-proteïen konsentraat en water.
Rantsoensamestelling
Sonri Mare van Vitam doen maandeliks sifkastings om die hoeveelheid onverteerde materiaal in die boonste fraksie van die mis te bepaal. Faktore wat geëvalueer word sluit die voedingswaarde van die rantsoen in, veral die gehalte en verteerbaarheid van die ruvoer. Daar word ook gekyk na effektiewe vesel, wat die rumenmat en die deurvloei van kleiner partikels beïnvloed. Rantsoenformulering speel ’n belangrike rol, veral wat deurvloeitempo, rumen-pH en mikrobiese populasie betref.
Wanneer ’n koei kalf, is die doel om haar binne 90 tot 150 dae weer dragtig te kry. Sodra sy dragtig is, produseer sy vir sowat sewe maande melk. Daarna word die dragtige koeie in die melkstal opgedroog vir ’n rustydperk van twee maande, waartydens hulle in die somer op natuurlike veldgrasse en in die winter op mieliereste wei.
Die laaste twee weke voor kalwing word die koeie na ’n kamp naby die huis verskuif, waar hulle ’n opstoomrantsoen kry om rumenfunksie te herstel en die koeie voor te berei om weer melk te produseer. Wanneer ’n koei kalf, is haar rumen reeds aangepas en kan sy dadelik na haar gewone rantsoen terugkeer en gemelk word.
Die kudde kalf regdeur die jaar, met ’n gemiddelde tussenkalfperiode van 390 dae. Die melkery is nie seisoenaal nie en lewer heel jaar melk.
Kalwings regdeur die jaar
Sodra ’n koei gekalf het, ontvang die kalf bies en word vinnig van die koei verwyder en na ’n kalfhok geskuif. Die koei keer terug na die melkstal totdat sy weer dragtig raak. Hierdie praktyk help om te voorkom dat die kalf heeltyd na die koei soek. Dit verhoed ook dat die koei se uier hard word of dat sy melk terughou, wat bydra tot vinniger melkproduksie ná kalwing.
Die kudde word kunsmatig geïnsemineer (KI). Die CowManager-stelsel monitor vrugbaarheid, gesondheid, voeding, die oorgang van die kudde en gedrag, en maak die vinnige identifisering van siektes moontlik. Dit dui ook aan wanneer ’n koei op hitte is, in watter stadium sy verkeer en of sy siek is.
Wanneer ’n koei die piek van haar hittetydperk bereik, word sy ge-KI. Indien sy ná drie pogings nie bevrug word nie, word ’n opvangsbul gebruik om haar natuurlik te dek.
Vers- en bulkalwers
Die verskalwers ontvang vir vier maande vars melk vanuit die melkstal. Hulle word in kalfhokke aangehou en ontvang elke oggend en aand melk saam met ’n aanvulling.
Jaco maak tussen 80 en 90% van sy bulkalwers self groot. Hulle bly vir vier maande in aparte hokke en word ná speen vir minstens nog ’n maand aangehou, totdat hulle goed van melk gespeen en aangepas is. Daarna word hulle verkoop en in ’n voerkraal grootgemaak.
Hy sê dit is nie winsgewend om bulkalwers saam met die melkery te voer nie. Hy het aanvanklik die bulkalwers op die ouderdom van sowat ‘n week na ’n veilingskraal geneem, maar dit was onsuksesvol, aangesien Jersey-bulkalwers se mortaliteit te hoog is.
Hy behou slegs enkele van sy top koeie wat met elite-saad van World Wide Sires en Genimex ge-KI is, se bulkalwers vir latere gebruik in die kudde. Al die verskalwers word egter teruggehou om die vervangingsverse aan te vul, aangesien koeie gemiddeld tot 12 jaar oud word voordat hulle uitgeskot word.
Melkgehalte
Jennifer sê hulle uitgangspunt ten opsigte van melkgehalte is eenvoudig: Wat jy vir ’n koei voer, kry jy terug. Jaco voeg by dat hulle streng fokus op die gemak en welstand van hul koeie; die omstandighede moet reg wees, die diere moet gelukkig wees, en die rantsoen moet melkproduksie ondersteun. Langslewendheid en langtermyn winsgewendheid is belangriker as vinnige, hoë produksie op grond van hormoonbehandeling. Koeie wat hormoonbehandeling ontvang lewer wel meer melk, maar hulle uiers boet in.
Jaco sê hul stalgemiddeld is tans 21ℓ oor al die koeie, terwyl hoë-produserende diere tot 56ℓ/dag lewer. Hy streef nie na ’n stalgemiddeld van byvoorbeeld 28ℓ nie, aangesien hy nie die koeie wil druk nie. Hul koeie word twee keer per dag gemelk, vroegoggend en smiddae. Dit is wel moontlik om drie keer per dag te melk, maar dit is syns insiens nie volhoubaar nie – dit beïnvloed jou gesinslewe en die genot van ’n melkery.
Die melkery gebruik ’n DeLaval-stelsel met ’n 28-punt oorswaaistal wat 56 koeie gelyktydig toelaat. Hulle werk met outomatiese afhalers en die DeLaval DelPro-plaasbestuurstelsel. Jennifer gebruik dié bestuurstelsel daagliks om die inligting oor hul koeie en kalwers aan te teken, insluitend opdroogtye, opstoomdiere en data vir SA Stamboek.
Al die melk gaan eers deur ’n verkoeler wat die temperatuur tot 14°C verlaag, voordat dit in melktenks met ’n totale kapasiteit van 17 000ℓ gestoor word. Daarna word die melk verder afgekoel tot 3°C. Hulle lewer sedert 2003 melk aan Bandini Cheese in Krugersdorp, wat Jersey-melk verkies vanweë die hoë bottervet- en proteïeninhoud – ideaal vir kaasproduksie.
Voorkoming van siektes
Koeie word twee keer per dag voor melktyd vir mastitis getoets. Die uiers word slegs skoongemaak indien nodig, aangesien dit tydrowend is en daar net vier werkers in die melkstal is. ’n Deeglike naspeendoop word ook gedoen.
’n Kuddeveearts doen dragtigheidsondersoeke en ondersoek verse na kalwing. Hulle het ook ’n goeie inentingsprogram in plek. Die kudde word jaarliks vanaf einde Oktober teen knopvelsiekte en Slenkdalkoors ingeënt, met bykomende vitamiene. Voor die winter kry die hele kudde weer vitamieninspuitings en ’n dooie entstof teen longinfeksies.
Met betrekking tot bek-en-klouseer, volg hulle streng toegangsbeheer. Bande word ontsmet, en hoewel die kudde reeds teen die siekte ingeënt is, bly biosekuriteit noodsaaklik. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Jaco Pieters by jenniferp@makituis.co.za of 082 802 7887.
