Estimated reading time: 4 minutes
Die beskikbaarheid van bek-en-klouseer (BEK)-entstof vir skraaginentings in die Vrystaat word toenemend bevraagteken namate duisende diere hul volgende dosis moet ontvang. Dit terwyl produsente sukkel om entstof in die hande te kry.
Christo Doman van Vrystaat Landbou waarsku dat die huidige fase van die inentingsveldtog nuwe risiko’s meebring. Die Vrystaat is een van die provinsies erg deur die uitbreking geraak is.
“Ons sit reeds met ’n tekort aan entstof en die diere wat ses maande gelede ingeënt is, moet nou hul tweede rondte kry,” sê Doman.
Is entstof vir skraaginentings beskikbaar?
Hoewel die Nasionale Departement van Landbou aangedui het dat miljoene dosisse ingevoer is, dui inligting uit die veld daarop dat toegang tot entstof vir skraaginentings nie konsekwent is nie.
Die nasionale kudde word op sowat 14 miljoen beeste geraam, wat saam met kalwers tot ongeveer 27 miljoen diere kan toeneem. Daarteenoor is ongeveer 13,5 miljoen dosisse verkry, waarvan slegs sowat vier miljoen skynbaar reeds toegedien is.
Volgens Doman laat hierdie syfers die vraag ontstaan of daar werklik genoeg entstof beskikbaar is om die volle inentingsiklus – insluitend skraagdosisse – te ondersteun, en waarom ’n groot deel van die voorraad nog nie in die veld gebruik word nie.
Rolspelers in die bedryf meen die probleem lê nie noodwendig slegs by die totale voorraad nie, maar ook by logistiek en implementering. “Daar is nie genoeg entstof om die skraagdosisse toe te dien en die nuwe gevalle te hanteer nie,” sê Doman.
Die verspreiding van entstof, die tempo waarteen dit toegedien word en die gebrek aan duidelike riglyne oor prioritisering skep onsekerheid op grondvlak. Produsente is grootliks afhanklik van staatsprogramme, terwyl prosesse om self entstof te verkry nog nie ten volle in plek is nie.
Kompetisie tussen ou en nuwe gevalle
Die kern van die probleem, verduidelik Doman, lê in hoe beskikbare entstof aangewend word. Die standaard inentingskema vereis ’n eerste dosis, ’n opvolgdosis binne enkele weke, en ’n skraagdosis sowat ses maande later.
Dit beteken dat dieselfde entstofvoorraad gelyktydig vir twee doeleindes gebruik moet word: om nuwe kuddes te beskerm, en om bestaande immuniteit te handhaaf.
Hierdie werklikheid plaas besluitnemers voor ’n moeilike keuse: As nuwe uitbrekings prioriteit geniet, kan diere wat reeds ingeënt is hul beskerming verloor. Indien skraaginentings voorrang kry, kan nuwe brandpunte vinniger versprei.
Logistieke uitdagings vererger druk
Benewens entstofbeskikbaarheid, is daar ook praktiese beperkings wat die veldtog vertraag. Doman wys op ’n tekort aan arbeid om inentings op groot skaal uit te voer, wat beteken dat selfs beskikbare entstof nie noodwendig vinnig genoeg toegedien word nie. Daarby bly regulatoriese prosesse rondom die alternatiewe verkryging van entstof onduidelik, wat produsente afhanklik hou van ’n sentrale stelsel wat reeds onder druk is.
Implikasies vir immuniteit
Die uitstel van skraaginentings hou direkte risiko’s vir kudde-immuniteit in. Dr Danie Odendaal, ’n veearts en direkteur van Veearts Netwerk, verduidelik dat die beskerming wat deur die entstof opgebou word, tydelik is indien die volle skedule nie gevolg word nie.
“Immuniteit bereik ’n piek binne twee tot drie maande en daal teen ses maande onder die beskermingsvlak wanneer ’n oliebasis gebruik word; met ’n ander medium, soos water, is die tydperk selfs korter,” sê hy.
Dit beteken dat diere wat nie hul skraagdosis betyds ontvang nie, weer vatbaar vir infeksie kan raak, selfs al is hulle aanvanklik ingeënt. In ’n omgewing waar die virus reeds wyd versprei het, verhoog dit die risiko van verdere uitbrekings.
Onsekerheid oor die pad vorentoe
Met honderde bevestigde gevalle en ’n voortdurende behoefte aan sowel nuwe inentings as skraagdosisse, bly die sentrale vraag vir Vrystaatse produsente onbeantwoord: Waar is die entstof, en wie kry voorkeur?
Sonder duidelike leiding oor beskikbaarheid, verspreiding en prioritisering waarsku bedryfsrolspelers dat die huidige fase van die BEK-veldtog moontlik die bepalendste gaan wees – nie net vir die beheer van nuwe uitbrekings nie, maar ook vir die behoud van bestaande immuniteit in die nasionale kudde. – Nikilene Steenkamp, Plaas Media