BEK-inenting en naspeurbaarheid skep nuwe standaard vir stoetveebedryf

Estimated reading time: 9 minutes

Vertroue in die rooivleisbedryf moet gebou word, en die bedryf moet goed verstaan word voordat die verskillende fasette en faktore doeltreffend aan die breër landboubedryf oorgedra kan word. Beesvleis moet winsgewend, volhoubaar én verantwoordelik geproduseer word, aangesien verantwoordelike praktyke onlosmaaklik deel van die toekoms gaan wees.

Volgens Kobus Bester, voorsitter van die Stoettelersfederasie van Suider-Afrika, is die toepassing van sulke praktyke, wat naspeurbaarheid en betroubare inentingsprosedures insluit, onlangs by twee afsonderlike stoetveilings gedemonstreer. Hy meen die stoetbedryf het ’n belangrike mylpaal bereik tydens die BTB Simmentalers-uitverkoping van Johan Styger en die Zinabos Bonsmara-produksieveiling van Fourie Scheepers naby Fouriesburg.

Bester het tydens Styger, ’n bekroonde stoetteler en voormalige voorsitter van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF), wat sy boerdery weens gesondheidsredes gestaak het, se veiling in die Hartbeesfontein-distrik, met Veeplaas gesels. Hy het verduidelik dat albei die veilings uniek was, omdat al die diere wat verhandel is, aan naspeurbaarheidsvereistes voldoen het.

Met die regering se samewerking rakende die beskikbaarstelling van bek-en-klouseer (BEK)-entstof, Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) en SA Stamboek se IDTrax-naspeurbaarheidsrekordhoudingstelsel, is die diere op ’n verantwoordelike en gekontroleerde wyse verkoop en weggery na hul nuwe bestemmings.

Johan Styger van BTB Simmentalers, en Kobus Bester, voorsitter van die Stoettelersfederasie van Suider-Afrika.

Beskikbaarstelling van BEK-entstof

Bester het verduidelik dat beide stoetkuddes ingeënt is met BEK-entstof uit die 50 000 dosisse wat die minister van landbou, John Steenhuisen, vroeg in Mei aan die stoetveebedryf beskikbaar gestel het. Die voorwaarde was dat die entstof verantwoordelik toegedien word en dat volledige rekenskap van alle dosisse gegee word. Volgens hom is meer as die helfte van die dosisse reeds toegedien. Indien alles volgens plan verloop, behoort verdere voorraad beskikbaar gestel te word om uiteindelik alle stoetkuddes in die land in te ent.

Die federasie wend die entstof hoofsaaklik aan by stoetkuddes wat op veilings aangebied word, sodat diere wat aan die mark beskikbaar gestel word, behoorlik ingeënt, naspeurbaar en veilig vir kopers is. Dit verminder ook die risiko vir bestaande kuddes op die plase waarheen die diere verskuif word.

Hy het verduidelik dat die besonderhede van diere wat op die twee veilings aangebied is, vooraf op die IDTrax-stelsel gelaai is. Dit sluit onder meer die diere se inentingsrekords in. Elke dier is gekoppel aan ’n globale liggingsnommer (GLN), wat dan na ’n volgende GLN oorgedra word. ’n Bewegingspermit dui aan watter dier dit is, en saam met ’n unieke identifikasienommer is daar ook volledige besonderhede van die inenting wat toegedien is – insluitend die tipe entstof, datum van inenting en selfs die spesifieke bottel waaruit dit toegedien is.

Hierdie data word daarna aan die nuwe eienaars oorgedra, sodat inentings professioneel bestuur en betyds opgevolg kan word wanneer entstowwe verval. Volgens Bester is betroubare data noodsaaklik om Suid-Afrika se inentingsrekords akkuraat en op datum te hou. Dit word moontlik gemaak deur die IDTrax-stelsel in samehang met die GLN wat deur RMIS uitgereik word.

Korrekte data-opname noodsaaklik

Die diere op die veilings was almal teen BEK ingeënt, naspeurbaar en uniek geïdentifiseer. Elke dier het ’n GLN ontvang en wanneer dit na ’n nuwe bestemming verskuif is, het die volledige BEK-inentingsrekord saamgegaan.

Dit was ’n klinkklare bewys dat die stelsel doeltreffend funksioneer. Die stoetbedryf is reeds gewoond aan deeglike data-opname en verantwoordbaarheid, maar die belangrike mylpaal is dat daar nou bewys kan word dat die data korrek vasgelê is en die stelsel betroubaar werk. Dit skep die geleentheid om die stelsel na die kommersiële bedryf uit te brei en dit selfs in kommunale gebiede toe te pas.

Hy het beklemtoon dat ’n inklusiewe benadering noodsaaklik is en dat geen produsent uitgesluit moet word nie. Bester het produsente gerusgestel dat data nie deur die staat beheer word nie, maar deur onafhanklike datadiensverskaffers. Data word slegs gedeel wanneer diere die openbare mark betree, byvoorbeeld tussen stelsels soos IDTrax, FlexiAuction en die Animal Identification Movement and Safety (AIMS)-stelsel.

Bester meen vrese oor rekordhoudingstelsels is ongegrond. Die bedryf moet aanvaar dat Suid-Afrika in ’n BEK-situasie verkeer en dat groter verantwoordbaarheid vereis gaan word. Diere sal ingeënt en naspeurbaar moet wees om vertroue in die mark te verseker en kuddes teen besmetting te beskerm. Geloofwaardigheid, samewerking en ’n positiewe verhouding tussen die bedryf en die staat is noodsaaklik om die bedryf vorentoe te neem.

Globale liggingsnommers

Elri du Toit, naspeurbaarheidsadministrateur by RMIS, sê daar was ’n duidelike behoefte aan ’n stelsel of data-uitruilplatform wat met al die rekordhoudingstelsels in die land kan kommunikeer. RMIS het hierdie gaping raakgesien, en tans is 13 rekordhoudingstelsels met die RMIS-platform geïntegreer. Produsente wat nie digitale stelsels gebruik nie, kan van die RMIS-toep gebruik maak. Sy het die proses en RMIS se rol verduidelik: Die verkoper se plaas moes eers ’n GLN by RMIS ontvang voordat diere in hierdie geval op die IDTrax-stelsel, of op enige van die geïntegreerde rekordhoudingstelsels of die RMIS-toep, gelaai is.

Wanneer diere verkoop word, word ’n digitale inligtingspakket van die verkoper se GLN na die koper se GLN gestuur. RMIS omskep dié data na ’n formaat vir die betrokke rekordhoudingstelsel, soos IDTrax, E-Livestock of die RMIS-toep, waar die nuwe eienaar se vee-inligting dan beskikbaar is.

Die minimum inligting wat saam met die dier beweeg, sluit die oorplaatjienommer en inentingstatus in – nie die volledige produksiedata nie. Du Toit het beklemtoon dat naspeurbaarheid begin by die identifisering van waar diere in Suid-Afrika voorkom. Plaasporsies word geregistreer en ontvang ’n unieke GLN, wat soos ’n strepieskode of digitale plaasadres funksioneer. Volgens haar vorm hierdie basiese, betroubare inligting die grondslag van ’n doeltreffende naspeurbaarheidstelsel.

Fritz Bezuidenhout, besigheidsontwikkelingsbestuurder en hoof van bemarking by SA Stamboek, en Ruan Maré, sagtewareontwikkelaar by IDTrax.

’n Naspeurbaarheidstelsel vir die stoetveebedryf

Fritz Bezuidenhout, besigheidsontwikkelingsbestuurder en hoof van bemarking by SA Stamboek, het verduidelik dat die ontwikkeling van die IDTrax-naspeurbaarheidstelsel sowat 18 maande gelede begin het, nadat die behoefte aan ’n omvattende stelsel in die bedryf geïdentifiseer is. Omdat SA Stamboek reeds oor uitgebreide diererekords beskik, was dit maklik om diere vinnig op die stelsel te registreer.

Volgens hom is die fokus om ’n eenvoudige en praktiese stelsel te ontwikkel wat die daaglikse bestuurs- en bewegingsbesluite van produsente ondersteun. Die stelsel, wat vroeër vanjaar bekendgestel is, is intussen verder ontwikkel en aangepas om ook aan die vereistes rondom BEK te voldoen. Hy het beklemtoon dat die stelsel nie net vir SA Stamboek-lede en stoettelers beskikbaar is nie, maar ook vir kommersiële kuddes. Dit is gratis en oop vir alle bees- en skaaprasse.

’n Digitale gesondheidsertifikaat vir diere

Volgens Bezuidenhout bevat die stelsel ’n geïntegreerde ‘medisynekas’-afdeling waarin entstofinligting en groepnommers van entstofbottels geregistreer word. Wanneer diere ingeënt word, word die inligting geskandeer en direk aan elke dier gekoppel. Alle diere op die veiling is aan ’n spesifieke ligging en bestemming met koördinate verbind. Die stelsel toon op rekord watter dier op watter vervoermiddel gelaai is, asook aan watter koper dit verkoop is. Die rekord in die stelsel dui die beweging van die dier wat gekoop is op ’n kaart aan, van die verkoopspunt tot by die dier se nuwe bestemming.

Hierdie inligting vorm ’n permanente rekord van die dier. Wanneer die dier later weer verskuif word, byvoorbeeld na ’n voerkraal of slagpale, word die nuwe beweging ook aangeteken. Die stelsel maak dit dus moontlik om die oorsprong, verkope en bewegings van diere volledig van een koördinaat na ’n ander na te spoor.

Die dier se entstofgroepnommer word saam met die rekord bewaar, en die stelsel monitor ook wanneer die entstof verval. As Dollvet-entstof byvoorbeeld gebruik is, sal die stelsel ná ses maande ’n waarskuwing uitstuur dat die dier weer ingeënt moet word.

Bestelling en toediening van entstof

Bezuidenhout het verduidelik dat verkopers voor die twee stoetveilings hul eie veearts moes nomineer, wat ook oor ’n GLN moes beskik. Die veearts moes die kudde vooraf ondersoek om die BEK-status van die diere te bepaal.

Wanneer die entstofbestelling op die stelsel geplaas word, word die inligting na ’n pakhuis gestuur waar die spesifieke besending en groepnommers van die entstof verpak word. Die entstof word daarna aan die genomineerde veearts gestuur, wat die inentings op die plaas uitvoer.

Registrasie van nuwe gebruikers

Die stelsel is gratis en produsente wat nog nie geregistreer het nie, kan maklik by die platform aansluit. Gebruikers registreer op die IDTrax-webtuiste met ’n gebruikersnaam en wagwoord.

Bezuidenhout het verduidelik dat die Artikel 10-skema onder die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet 35 van 1984) bepaal dat entstof nie sonder GLN-/koördinaatinligting toegedien mag word nie. Hierdie nommer dien as ’n unieke koördinaat- of liggingverwysing vir die plaas.

Sodra die GLN op die IDTrax-stelsel geregistreer is, word die produsent aan RMIS gekoppel. Wanneer diere beweeg, bepaal die sagteware outomaties waar die laaste geregistreerde ligging van die dier was en werk die rekord dienooreenkomstig by. Die hele proses geskied outomaties.

Van links is Elri du Toit, naspeurbaarheidsadministrateur by RMIS, Monet Kleynhans en Melanie Khoza, albei interns by RMIS.

Oorplaatjies en naspeurbaarheid

Volgens Bezuidenhout bestaan daar ’n wanpersepsie dat ’n naspeurbaarheidstelsel bloot op elektroniese oorplaatjies berus, wat nie die geval is nie. Die Artikel 10-skema bepaal dat ’n produsent elke dier uniek moet identifiseer en op ’n rekordstelsel moet vaslê.

SA Stamboek het egter verder gegaan en spesifiek vir die IDTrax-stelsel elektroniese oorplaatjies ontwikkel om die proses te vergemaklik. Die F3-oorplaatjie bevat ’n nommer en ingeboude mikroskyfie, wat die unieke identiteit van die dier elektronies bevestig. Dit voldoen aan die Artikel 10-skema se vereistes vir unieke diere-identifikasie.

Die oorplaatjie vorm deel van ’n geïntegreerde naspeurbaarheidstelsel en word ook deur slagpale en voerkrale gebruik. Die uiteindelike doel is volledige naspeurbaarheid – van die dier op die plaas tot by die finale vleisproduk wat deur die verbruiker gekoop word.

Bewegingsertifikaat

In die agtergrond van die stelsel kan vooraf aangedui word watter diere op ’n spesifieke vragmotor gelaai word, saam met die bestuurder se besonderhede en die voertuig wat gebruik word. Die stelsel registreer ook die beweging van die vragmotor van een punt na ’n ander. Op grond hiervan word ’n bewegingsertifikaat outomaties gegenereer, wat uitgedruk of as ’n QR-kode saam met die besending gestuur kan word.

Hierdie inligting word ook met sekuriteitsmaatskappye en die polisie gedeel. Indien ’n voertuig voorgekeer word, kan die QR-kode geskandeer word om te bevestig dat diere vervoer word, wie die bestuurder is, en hoeveel diere op die vragmotor behoort te wees. – Christal-Lize Muller, Plaas Media

Related

Simbra elite-veiling behaal verskeie rekordpryse

Estimated reading time: 4 minutesDie Simbra-beestelersgenootskap van Suidelike Afrika se elite-veiling, wat by die AfriDome in Parys aangebied is, het weereens bewys dat die...

Suid-Afrikaanse Jongwynskou vier 194 jaar van wynuitnemendheid

Estimated reading time: 6 minutesDie Suid-Afrikaanse Jongwynskou wat jaarliks onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Nasionale Wynskouvereniging (SANWSV) aangebied word, het vanjaar weer verskeie...

SA Canegrowers welcomes DBRP adjustment, but says more is needed to close import...

Estimated reading time: 3 minutesSA Canegrowers welcomes the decision by the government to adjust the dollar-based reference price (DBRP) for sugar imports. The upward adjustment is critical...