Estimated reading time: 7 minutes
Vorige artikels in hierdie reeks het gefokus op aspekte soos die gradering, gehalte, produksiegebiede en produksiemetodes van lusernhooi. In hierdie artikel word produsenteprystendense en die faktore wat lusernhooipryse beïnvloed, onder die vergrootglas geplaas.
Die Suid-Afrikaanse pryse vir verskillende grade lusernhooi vanaf 2017 tot aan die einde van 2023 word in Figuur 1 aangedui. Verskeie faktore met noemenswaardige effekte is waargeneem en word vervolgens bespreek.
Lusernhooi word in vyf gehaltegrade verdeel: Supreme, Prima, Graad 1, Graad 2 en Graad 3. As gevolg van faktore wat die produksie en -gehalte van hooi beïnvloed, beskik die mark nie altyd oor ‘n verskeidenheid van gehaltegrade nie, soos in Figuur 1 aangedui. Die nuutste gehaltegraad, Supreme, is aan die begin van die 2021-produksieseisoen amptelik bekendgestel en dui op voortreflike, hoë-gehalte lusernhooi.
Figuur 1: Lusernhooipryse vanaf 2017 tot 2023. (Bron: Eie berekeninge)
Seisoenale patrone
Die seisoenaliteit van lusernhooi is van 2017 tot aan die begin van die 2023-produksieseisoen ononderbroke waargeneem. Veranderinge in vraag en aanbod het dikwels ‘n duidelike invloed op die produsenteprys van lusernhooi. Die produksieseisoen vir lusernhooi strek van Augustus/September tot Maart/April, met opbrengste van die hoogste gehalte wat gewoonlik aan die begin en einde van die seisoen voorkom wanneer die klimaatstoestande meer gunstig is.
Tussen Mei 2021 en Februarie 2022 het die algemene seisoenale skommelinge in Suid-Afrikaanse lusernhooipryse afgeneem, en pryse het eerder ’n egalige opwaartse tendens getoon tot in die eerste maande van 2022. Verskeie faktore het bygedra tot hierdie prysstabiliteit. Abnormale weerpatrone soos oormatige en meer gereelde reënval asook wisselende dag- en nagtemperature is gedurende hierdie tydperk in lusernhooiproduksiegebiede waargeneem.
’n Ander faktor wat tot die stabilisering van produsentepryse bygedra het, was die ontsluiting van die Chinese uitvoermark vir Suid-Afrikaanse lusernhooi tydens die 2019/20-produksieseisoen. Dit het die vraag na Suid-Afrikaanse lusernhooi in die internasionale mark verhoog, aangesien die land reeds na buurlande en die Midde-Ooste (Saoedi-Arabië en die Verenigde Arabiese Emirate [VAE]) uitvoer.
Prysskommelings en markdruk
Vanaf Februarie 2022 is ’n dramatiese styging in die produsenteprys waargeneem. Dit is hoofsaaklik gedryf deur ’n hoër vraag in die internasionale mark, veral vanuit China. Terselfdertyd was die aanbod van lusernhooi egter in die aanloop tot hierdie tydperk beperk as gevolg van ongunstige weerstoestande. Talle lusernhooiprodusente het hul produksie in daardie tydperk gestaak as gevolg van laer winsgewendheid. Hierdie kombinasie van verhoogde vraag en verminderde aanbod het ‘n aansienlike bydrae gemaak tot die merkbare styging in die produsenteprys.
Lusernhooipryse het aan die begin van 2023 begin daal danksy beter hooimaaktoestande, wat dus die aanbod van lusernhooi verhoog het. Die buitengewone hoë produsenteprys het meer produsente gelok, en sommige het van ander kontantgewasse soos mielies en koring na lusernhooiproduksie oorgeskakel. ’n Laer vraag na lusernhooi vanuit China weens ’n afname in die Chinese vraag na melkprodukte ná die Covid-19-pandemie, sowel as opgehoopte voorraad in Chinese hawens weens ‘n wêreldwye bottelnek, het ook ‘n bydrae gelewer (Hay and Forage Grower, 2021).
Produsentepryse het herstel en in Junie 2023 ’n hoogtepunt bereik as gevolg van ’n toename in internasionale vraag (Chinese mark), waarna dit geleidelik tot die huidige vlakke gedaal het. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ’n ooraanbod in vorige seisoene. Die oorvloed lusernhooi van vorige seisoene, tesame met verhoogde produksie as gevolg van hoër produsentepryse in daardie seisoene, het tot die dalende prystendens bygedra.
Die pryse toon duidelik dat wanneer lusernhooi volop is, die prysverskille tussen grade meer opmerklik is as gedurende tydperke met ‘n beperkte aanbod. Produsente is in staat om die prysrisiko te versag deur lusernhooi te stoor om dit dan later teen hoër pryse te verkoop.
Dit is egter nie die norm nie, aangesien die meeste produsente nie oor stoorfasiliteite of die finansiële middele beskik om hooi te stoor vir latere verkoop nie. Dit is hoofsaaklike koöperasies en handelaars wat lusernhooi in grootmaat berg vir latere verkoop of kontrakte.
Uitvoere na internasionale markte
Suid-Afrikaanse lusernhooiproduksie, uitvoere en die waarde van uitvoere vanaf 2018 tot 2022 word in Figuur 2 geïllustreer. Die hoeveelheid en gehalte van geproduseerde lusernhooi hang af van die weertoestande gedurende die produksieseisoen, wat die volume beskikbaar vir uitvoer beïnvloed.
Geen data is tot nou beskikbaar rakende die volumes van die verskillende grade wat uitgevoer word nie. Suid-Afrikaanse produksie het oor die jare stabiel gebly en is grotendeels afhanklik van optimale weersomstandighede vir hooimaak tydens die produksieseisoen (Nasionale Luserntrust [NLT], 2022).
’n Toename in uitvoere word sedert 2018 waargeneem en word toegeskryf aan ’n groeiende vraag na Suid-Afrikaanse lusernhooi in die internasionale mark, hoofsaaklik gedryf deur die ontsluiting van die Chinese mark teen die einde van 2018/19 (Nasionale Landboubemarkingsraad [NLBR], 2018, 2019; Verenigde Nasies [VN] Comtrade-databasis, 2024).
Die waarde van uitgevoerde lusernhooi word in Amerikaanse dollar (US$) aangedui en sluit alle grade lusernhooi in. Hierdie waarde, aldus die VN Comtrade-databasis, verteenwoordig koste, vrag en versekering.
Figuur 2: Suid-Afrikaanse gegradeerde lusernhooi, uitvoere en waarde van lusernhooi-uitvoere (US$), 2024. (Bron: Eie berekeninge en VN Comtrade-databasis)
Suid-Afrikaanse lusernhooi word hoofsaaklik na ons buurlande en die Midde-Ooste uitgevoer. Vir baie jare was die Koninkryk van Saoedi-Arabië en die VAE die voorlopers wat Suid-Afrikaanse lusernhooi-invoere betref (Figuur 3). Suid-Afrika voer gemiddeld tussen 140 000 en 260 000 ton jaarliks uit. Teen die einde van 2023 is ’n afname in totale uitvoere egter waargeneem, hoofsaaklik as gevolg van ongunstige weerstoestande tydens die hooimaakseisoen, wat die beskikbaarheid van hoë-gehalte hooi geaffekteer het (VN Comtrade-databasis, 2024; NLT, 2023).
Figuur 3: Suid-Afrikaanse lusernhooi-uitvoere (ton) vanaf 2018 tot 2023 (HS1214), 2024.
Internasionale lusernhooimark
In 2019 het lusernhooi-uitvoere na China met slegs 800 ton afgeskop. Dit het geleidelik toegeneem tot meer as 68 000 ton in 2022. Die toename kan toegeskryf word aan die groei in die vraag wat voortgespruit het uit handelsooreenkomste tussen China en Suid-Afrika in 2018 (NLBR, 2018; VN Comtrade-databasis, 2024).
Uitvoere na Midde-Oosterse lande het sedert 2018 relatief konstant gebly, met afnames wat teen die einde van 2023 waargeneem is. ’n Moontlike verklaring vir die afname is die groeiende vraag na lusernhooi in China, wat die groeistatistieke van die Chinese melkbedryf weerspieël (Amerikaanse Departement van Landbou [USDA], 2021).
In 2018 het ’n handelsooreenkoms tussen China en Suid-Afrika ’n nuwe uitvoermark vir Suid-Afrikaanse lusernhooi ontsluit. Lusernhooi vorm deel van ’n verskeidenheid landboukommoditeite wat met China verhandel word (NLBR, 2018). Die ontsluiting van die Chinese mark het geleenthede geskep vir lusernhooiprodusente in Suid-Afrika om toegang tot internasionale markte te verkry en die volhoubare groei van die land se lusernhooibedryf te ondersteun.
Twee faktore het die handelsooreenkoms grotendeels gedryf: Eerstens het die Verenigde State (VSA) en China betrokke geraak by wat algemeen bekend staan as handelsoorloë, met verhogings op verskeie produkte se tariewe (NLBR, 2019). Tweedens het China se vraag na ingevoerde voergewasse gegroei. In 2021 het China meer as 1,16 miljoen ton lusernhooi ingevoer, met ’n konstante groeiende vraag wat aan China se vinnig-groeiende melkbedryf toegeskryf word (USDA, 2021).
Die VSA is die grootste produsent van lusernhooi ter wêreld, gevolg deur Australië en Spanje (Figuur 4). ‘n Nadere bestudering van handelsvloei toon dat Suid-Afrika veral met die VSA en Spanje se uitvoere moet meeding.
Figuur 5 bied ‘n algehele internasionale oorsig van die lusernhooimark en dui die lande met die grootste verbruik van lusernhooi wêreldwyd aan, waarvan die Midde-Ooste en Asië die voorlopers is. Wat die belangrikste invoerlande betref, voer Suid-Afrika slegs na die Midde-Ooste en China uit. Japan is die grootste verbruiker van lusernhooi ter wêreld en voer jaarliks meer as twee miljoen ton in. Data vir Saoedi-Arabië ontbreek in die 2023-databasis.
Figuur 4: Lusernhooi-uitvoerlande vanaf 2018 tot 2023 (HS1214). (Bron: VN Comtrade-databasis, 2024)
Figuur 5: Lusernhooi-invoerlande vanaf 2018 tot 2023 (HS1214), 2024.
– Dr Hermias van Niekerk, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
In die volgende uitgawe van Veeplaas fokus die laaste aflewering van hierdie reeks op die winsgewendheid van lusernhooiproduksie in Suid-Afrika. Vir meer inligting of verwysings, stuur ’n e-pos na vNiekerkHN@ufs.ac.za