Produsente-seminaar skei koring van die kaf

Estimated reading time: 6 minutes

Die produsente-seminaar wat elke jaar tydens die Swartlandskou op Moorreesburg gehou word, is een van die hoogtepunte van die skou. Plaas Media, Swartlandskou se mediaborg, is saam met Nedbank, Graan SA, die KAL-groep, en Santam, die borge van die produsente-seminaar.

Die tema van die 2025-seminaar, wat deur sowat 400 boere en ander rolspelers in die landbou bygewoon is, was “Graanboerdery se toekoms: Ons skei die koring van die kaf”. Theo Vorster, uitvoerende hoof en medestigter van Galileo Capital, het ’n paneelbespreking oor die tema tydens die seminaar gelei. Hy het gesê die feit dat Suid-Afrikaanse boere met alles wat in die wêreld aangaan, steeds betroubare en bekostigbare voedsel op verbruikers se tafels kan sit, is iets waarop die landbou baie trots kan wees.

Van links is MJ Swart, Graan SA se bemarker in die Wes- en Suid-Kaap; Sean Welsh, uitvoerende hoof van die KAL-groep; Richard Krige, voorsitter van Graan SA; Hugo Lochner, Plaas Media se Wes-Kaapse streeksbestuurder; en Jacques Bester, voorsitter van Swartlandskou.

“Ons boere is veerkragtig en entrepreneurs. Hulle moet bly fokus op dit wat hulle goed doen en dít is die primêre produksie van voedsel.” Boere het nie uitsonderlike hulp van die regering nodig nie. “Die regering moet net ’n omgewing skep waarin die Suid-Afrikaanse landbou-entrepreneurs dit wat hulle reeds doen, beter en meer volhoubaar kan doen, en so voedselsekerheid kan verseker,” het Vorster gesê.

Stille oorlog oor tariewe en chemie

Dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA, het gesê die landbou doen tans verstommend goed. Landbou ondersteun ekonomiese groei, verdien buitelandse valuta, en skep werksgeleenthede. Suid-Afrika het van die mees mededingende boere in die wêreld. “Deur nuwe tegnologie te gebruik, maak ons boere seker dat hul produksiekoste laer is, en dat hulle veilige en bekostigbare voedsel kan produseer. Daarmee kan ’n mens op enige plek in die wêreld meeding as die speelveld gelyk is.”

Die koringbedryf se speelveld is byvoorbeeld nie gelyk nie. Dit is ’n moeilike tyd om nou ’n koringboer te wees. Daar is ’n stryd rondom die tariewe op ingevoerde koring en die toegang tot nuwe tegnologie, soos die nuutste landbou-chemie en teeltegnieke wat moeilik is om gelisensieerd te kry.

“Ons is bekommerd oor die stille oorlog met aktiviste oor hul aanslag op chemikalieë wat in die landbou gebruik word. So ook met die meulenaars rondom die tariefbeskerming. Die beginsel van die tarief is bevestig, maar die stelsel werk nie. Die aansoek om dit reg te maak lê in ’n politieke moeras, met toutrekkery tussen die Nasionale Departement van Landbou en die Departement van Handel en Nywerheid.”

Tariewe: Brics-lande nie ons vennote nie

Dr Doyer het verder gesê dat een van die grootste verrassings vir hom met die instel van die VSA se 30%-tariewe, was toe hy besef het dat die Verenigde State van Amerika (VSA) voorheen slegs minimale invoertariewe op Suid-Afrikaanse produkte gehef het. “Dit is die Brics-lande wat bitter swaar tariewe hef en ons sal ons voetwerk moet regkry om toegang tot markte soos Indië en China te kry. As jy mooi na die situasie kyk sal jy sien hulle hou ons by hul markte uit,” het Dr Doyer gesê.

JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder en konsultant vir Nedbank Private Wealth, het met Dr Doyer saamgestem en gesê Suid-Afrika se Brics-vennote hanteer hierdie land soos ‘n vennoot nie. Dit is egter besig om te verander, soos China se besluit om alle tariewe op feitlik alle Afrika-lande weg te vat.

Die paneelbespreking tydens die landbou-oggend is deur Theo Vorster (tweede van regs), uitvoerende hoof en medestigter van Galileo Capital, gelei. Saam met hom op die foto is (van links) Dr Tobias Doyer, uitvoerende hoof van Graan SA; prof Johan Fourie, professor in Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch; en JP Landman, politieke en ekonomiese ontleder en konsultant vir Nedbank Private Wealth.

“Daar is egter fynskrif waarna gekyk moet word en dit is dat hulle met elke land individuele transaksies wil beding. In Suid-Afrika se geval het hulle byvoorbeeld gesê hulle sal alle tariewe op Suid-Afrikaanse produkte wegvat, maar dan wil hulle toegang tot ons vervaardigingsektor hê. Dit is ’n doenbare transaksie, maar jy moet op jou voete kan dink en weet waar jy mededingend in jou vervaardigingsektor is,” het Landman gesê.

Subsidies steeds ’n probleem

Prof Johan Fourie, professor in Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch, het gesê tegnologie is tans besig om ongelooflike vooruitgang te maak. Dit is goeie nuus vir boere. Daar is risiko’s, tariewe, en uitdagings met internasionale handel, maar as die landbou meer in nuwe tegnologie belê, kan dit produksie verhoog.

Volgens hom was landbousubsidies in ryk lande nog altyd ’n probleem. Die landbousubsidies in die VSA, en veral in Europa, het ’n baie groter negatiewe effek op Afrika as wat die ontwikkelingshulp ooit gehad het. Die 14 000 katoenboere in die VSA se subsidies verplaas basies alle katoen in Wes-Afrika, al is Wes-Afrika die beste plek om katoen te verbou.

Prof Fourie het gesê daar moet baie meer politieke klem op hierdie subsidies geplaas word. Dit is ’n politieke kwessie wat op ’n multinasionale vlak opgelos moet word. Ongelukkig het die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) platgeval en is daar nie plek vir hierdie onderhandelinge nie.

“Die probleem van tariewe is dat as dit vir 20 tot 30 jaar daar is, skep jy ’n klas van bevoorregtes. Hierdie bevoorregtes wil nie hul voorregte verloor nie. Bedrywe in die vervaardigingsektor wat nie volhoubaar is nie, soos die staalbedryf, moet dus nie met subsidies aan die gang gehou word nie,” het Landman gesê.

Koringbedryf in warm water

Dr Doyer het gewaarsku dat Suid-Afrika homself ’n geweldige onguns sal aandoen as hy toelaat dat bedrywe soos die plaaslike koringbedryf, wat in ’n ongunstige internasionale omgewing moet meeding, verwoes word.

Koring se internasionale handelsomgewing is ongunstig omdat plaaslike koringboere met koringboere in die res van die wêreld wat goed gesubsidieer word moet meeding. Dit bring reuse-uitdagings vir die koringbedryf in die Swartland.

“Ons moet die bedryf beskerm. Graan SA werk hard om ’n beter bedeling vir koringboere te kry. Dit waarvoor ons baklei is baie belangrik, want dit gaan oor veel meer as net die produksie van koring. Dit gaan ook oor die skep van werksgeleenthede, die ondersteuning van die landelike ekonomie, en ander ekonomiese voordele”, het Dr Doyer gesê. – Hugo Lochner, Plaas Media

Related

Government and ARC gives update on FMD vaccine numbers

Estimated reading time: 3 minutes The Agricultural Research Council (ARC) confirmed on 1 April that it has released another 20 000 doses of locally produced foot-and-mouth...

26th AFSTA Congress: Empowering Africa’s future, one seed at a time

Estimated reading time: 6 minutes Seeds are not just agricultural inputs; they embody our future, the promise of a resilient Africa in the face of...

Meet the new NAMC board

The minister of agriculture, John Steenhuisen, recently announced the appointment of ten new members to the National Agricultural Marketing Council (NAMC). These members will...