Monday, December 15, 2025

Stram tariefmeganisme rem koringbedryf

Estimated reading time: 4 minutes

Die Suid-Afrikaanse koringbedryf is in ‘n kritieke toestand wat die volhoubaarheid van die bedryf in gevaar stel. Koringprodusente veg teen toenemende insetkoste, lae internasionale pryse en onvoldoende markbeskerming, sê Richard Krige, voorsitter van Graan SA.

Die organisasie doen ‘n beroep op al die rolspelers in koring se waardeketting, insluitend die publiek en die regering, om dringend aandag aan die krisis te gee.

Krige sê die tariefstelsel, wat die koringbedryf moet beskerm, hou nie tred met markrealiteite nie en saam met die stygende insetkoste en onderdrukkende internasionale pryse, plaas dit produsente op die rand van finansiële ondergang. Indien ingryping verder vertraag word, kan plaaslike produksie onomkeerbaar afskaal.

“Brood is ’n stapelvoedsel vir miljoene Suid-Afrikaners, maar min verbruikers besef koringprodusente is onder groot druk. Die huidige prysvlakke is nie lewensvatbaar nie, omdat die produksiekoste tans sowat R16 000 per hektaar beloop, wat ’n gelykbreekpunt van minstens 3,4 ton per hektaar gee.”

Net 18 % van broodprys na produsente

Krige wys daarop dat koring net 18% van die koste van ’n brood uitmaak. “Op ’n brood van R17,92 ontvang die produsent net R3,23. ‘n Verhoging in die koringprys sal dus nie ‘n beduidende impak op die prys van ‘n brood hê nie.”

Die koringbedryf speel ‘n belangrike rol in die plaaslike ekonomie, veral in die landelike ekonomie van die Wes-Kaap, wat die vernaamste koringproduserende streek in die land is. “Indien plaaslike koringproduksie nie meer kan voortgaan nie, sal verbruikers tot R643 miljoen per jaar meer vir brood van dieselfde gehalte betaal.”

Die bedryf skep sowat 12 600 werksgeleenthede, waarvan 73% in die Wes-Kaap is. Dit is net in die primêre bedryf en neem nie werkskepping van die ander dele van die waardeketting, soos insetverskaffers en silo-operateurs, in ag nie.

Dié aksies dringend nodig

Graan SA beklemtoon vyf prioriteit-intervensies wat onmiddellik aandag verg. Dit is die volgende:

– ‘n Meer doeltreffende invoertariefstelsel met ‘n aangepaste basisverwysingsprys en ’n outomatiese snellermeganisme. Graan SA het reeds in Junie 2024 ‘n aansoek vir ‘n aangepaste basisverwysingsprys en ‘n outomatiese snellermeganisme ingedien. Die organisasie wag steeds op die finale verwerking van die aansoek. Volgens Krige word die huidige aansoek deur die meulbedryf se weerstand teen verwysingsprysverandering vertraag.

– ‘n Beperking op die invoer van koring tydens plaaslike strooptyd. Krige sê groot volumes koring word net voor en tydens strooptyd ingevoer, wat die plaaslike koringpryse kunsmatig afdruk. Dit ondermyn produsente se inkomste.

– Moderne genetiese en produksietegnologie is nodig om koring volhoubaar te verbou. Daarvoor moet regulasies van nuwe teeltegnieke bygewerk word en witkoring moet in die nasionale mandjie ingesluit word om diversifikasie en opbrengsstabiliteit te versterk.

– Produksieondersteuning en risiko-bestuur deur gesubsidieerde oesversekering en ‘n meer regverdige liggingsdifferensiaalstelsel op SAFEX.

– Die herstel van effektiewe vervoer- en logistieke strukture. Volgens Krige word die koste van swak logistiek direk deur produsente én verbruikers gedra.

As produsente val, val almal

Krige waarsku dat die tyd vir besluitneming vinnig opraak en sê ‘n vasberade en gekoördineerde ingryping van die staat én die waardeketting is nou nodig. “As produsente val, val die hele ketting – en uiteindelik betaal die verbruiker en die plattelandse ekonomie die prys,” sê Krige.

Koringtarief nou R236/ton laer

Suid-Afrika se koringinvoertarief is op 27 November vir ‘n verlaging geaktiveer, wat ‘n nuwe heffing van ongeveer R616/ton stel. Hierdie laer tarief sal eers in werking tree wanneer dit amptelik in die Staatskoerant gepubliseer is, sê dr André van der Vyver, uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Graan- en Oliesadehandelaars (SACATO).

Daar is tans geen vaste tydlyn vir die implementering onder die bestaande implementeringsproses nie. Tot publikasie bly die hoër koers van R851,50/ton van toepassing. Hoewel die uiteindelike vermindering koste-verligting aan meulenaars sal bied en koringbekostigbaarheid sal ondersteun, plaas die tydsberekening steeds onnodige finansiële druk op die bedryf, sê dr Van der Vyver.

As voorbeeld noem hy dat as ‘n versending van 50 000 ton sou land voordat die nuwe tarief in werking tree, sou invoerders en hul kliënte (meulenaars) ‘n bykomende koste van ongeveer R12 miljoen in die gesig staar, bloot as gevolg van die vertraging in implementering.

Dr van der Vyver sê onder die huidige tarief van R851 per ton, en volgens SAGIS, is ongeveer 890 000 ton koring tussen 11 Julie en 14 November 2025 ingevoer. Dit het oor hierdie tydperk alleen ongeveer R750 miljoen in SARS-tariefinkomste beloop.

Outomatiese snellermeganisme nodig

SACOTA het in ‘n gesamentlike poging met die bedryf, ‘n nuwe outomatiese metodologie voorgestel wat tariefveranderings binne ‘n korter en meer voorspelbare tydperk in werking stel, soortgelyk aan die maandelikse brandstofprysaanpassingstelsel. Volgens die voorgestelde benadering sou vandag se sneller gelei het tot implementering vanaf 1 Januarie 2026, net 22 werksdae later.

Volgens dr Van der Vyver is die Internasionale Handelsadministrasiekommissie van Suid-Afrika (ITAC) steeds besig om die aansoek vir ‘n outomatiese implementeringstelsel te verwerk. Dit is egter al 13 maande sedert die aansoek by ITAC ingedien is vir die hersiening van die implementeringsmetodologie sonder om ‘n uitkoms te ontvang.

Hierdie saak is nou ook op die agenda op ministeriële vlak geplaas deur die Grain Value Chain Round Table onder die Landbou- en Agro-verwerking Meesterplan, sê dr Van der Vyver. – Hugo Lochner, Plaas Media

Popular stories