As jy die reg in eie hande neem

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Die Grondwet van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) gee erkenning aan die oppergesag van die reg.
  • Daar is baie min gevalle waar gegriefde landsburgers regtens toegelaat word om, sonder die tussenkoms van die howe of by wyse van ’n regsgeding, ’n regsgeskil met ’n ander persoon of instansie met fisieke optrede aan te spreek.  
  • Wanneer ’n geskil ontstaan en die saak teruggeneem word, beteken dit nie dat die eienaar nou die reg in eie hande mag neem en die saak fisiek en self terug mag neem nie.
  • ‘n Spoliasiebevel word verleen om die besit van die saak dadelik te herstel en die respondent te dwing om die reg behoorlik af te dwing deur ’n wettige proses.
  • Dit is wys om by enige geskil oor fisieke beheer en besit oor ’n saak, eerder behoorlike regsadvies in te win en seker te maak oor die moontlike regsgevolge van optrede.

In vorige artikels het ons gesels oor onwettige uitsettings en die gevolge daarvan. In hierdie artikel bespreek ons die moontlike ander gevolge wanneer iemand sou besluit om die reg in eie hande te neem.

Die Grondwet van Suid-Afrika, 1996 (Wet 108 van 1996) gee erkenning aan die oppergesag van die reg en beskou ons howe as die laatste en enigste instansie wat geskille tussen landsburgers en instansies kan oplos. Dit beteken daar is baie min gevalle waar gegriefde landsburgers regtens toegelaat word om, sonder die tussenkoms van die howe of by wyse van ’n regsgeding, ’n regsgeskil met ’n ander persoon of instansie met fisieke optrede aan te spreek.  

Moenie kortpaaie vat nie

Vir baie mense is die regsproses soms ’n groot frustrasie, omdat hofsake duur is en die howe, met verwysing na die tyd wat dit soms neem om geskille op te los, in sommige sake ondoeltreffend en ontoeganklik is. Dit is dan wanneer ’n kortpad soms gevat word, soos om iemand se water of kragtoevoer af te sny of om ’n nuwe slot op ’n toegangshek te sit.

Dit is maar net enkele voorbeelde. Dikwels word hierdie stappe geneem deur iemand wat ’n geldige reg het; die persoon maak egter dan die fout om die reg verkeerd, en sonder die tussenkoms van die howe en ’n behoorlike wettige hofbevel, af te dwing.

In ons gemenereg word ’n onderskeid getref tussen ’n reg soos eiendomsreg, gebruiksreg, regte oor of tot ’n saak (eiendom) wat by ooreenkoms tussen persone ontstaan, asook ongestoorde beheer of besit oor ’n saak. ’n Plaaseienaar kan dus die regmatige eienaar van die plaas wees, maar het byvoorbeeld met ’n huurkontrak beperkte gebruiksregte en besit aan ’n huurder oorgedra. Wanneer besit geneem word van die plaas, word dié besit beskerm. Dit geld ook vir roerende eiendom soos ’n voertuig of implement.

Reg in eie hande

Wanneer ’n geskil ontstaan en die saak teruggeneem word, beteken dit nie dat die eienaar nou die reg in eie hande mag neem en die saak fisiek en self terug mag neem nie. Dit is omdat ongestoorde gebruik en besit van ’n saak, regtens deur ’n spesiale regsremedie beskerm word wat verhoed dat reg in eie hande geneem word. Dit staan as die mandement van spolie bekend.

’n Persoon wat in ongestoorde gebruik of besit is van ’n saak en daarin versteur word sonder ’n hofbevel en deur iemand wat reg in eie hande neem, kan die hof (heel dikwels dringend) op grond van die mandement van spolie nader vir ’n spoliasiebevel om die besit te herstel.

Wanneer die hof so ’n bevel oorweeg en toestaan, is die regte tot die saak irrelevant in die hof se oorweging en sal die hof alleenlik bepaal of die aansoeker (die gegriefde persoon wat ongestoorde besit of beheer van die saak gehad het) daadwerklike ongestoorde beheer en besit van die saak gehad het voordat dit versteur was. Die hof sal ook bepaal of die respondent, sonder tussenkoms van die howe, wel die ongestoorde besit en beheer versteur het.

‘n Spoliasiebevel word verleen om die besit van die saak dadelik te herstel en die respondent te dwing om die reg behoorlik af te dwing deur ’n wettige proses, en nie deur die reg in eie hande te neem nie.

Besitreg beskerm almal

Buiten die verleentheid om aan die verloorkant te wees in so ’n saak, word ’n spoliasiebevel gewoonlik ook aangevra met koste of selfs ’n bestraffende kostebevel teen die respondent wat die besit moet herstel. Die toestaan van ’n kostebevel kan etlike duisende rande beloop.

Hoewel daar begrip behoort te wees vir die desperate omstandighede waaronder sommige geskille tussen mense en instansies ontstaan, is dit wys om, ten spyte van die frustrasie, nie die reg in eie hande te neem nie. Buiten die regsgevolge en meegaande kostebevel is dit belangrik om te verstaan dat die regsorde wat besitreg beskerm, almal in Suid-Afrika beskerm. Wanneer dit ondermyn word, is die alternatief anargie en ’n stelsel waar geweld en miskenning van die oppergesag van die reg en ons howe se rol om geskille op te los, oorboord gegooi word.  

Dit is wys om by enige geskil oor fisieke beheer en besit oor ’n saak, eerder behoorlike regsadvies in te win en seker te maak oor die moontlike regsgevolge van optrede voordat enigsins opgetree word. Dit is nie die moeite en gevolge werd om reg in eie hande te neem nie. – Hans-Jurie Moolman, Moolman & Pienaar Inc.

Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan die outeur by hj@mmlaw.co.za of skakel 018 297 8799 (Potchefstroom) of 033 032 0241 (Pietermaritzburg).

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 12 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...