Estimated reading time: 4 minutes
- Snotsiekte is ’n siekte wat voorkom wat tot groot finansiële verliese kan lei.
- Die virus word slegs afgeskei gedurende tye van erge stres in wildebeespopulasies, veral in die kalfseisoen.
- Besmetting in beeste kom sporadies voor.
- Afskilfering van die vel tussen die kloutjies en by die basis van die horings weens velontsteking word hoofsaaklik by skaapgeassosieerde snotsiekte gevind.
- Daar is tans ook geen entstof vir snotsiekte nie. Die fokus moet dus op voorkoming wees.
Snotsiekte is ’n wêreldwye en dodelike sistemiese siekte wat voorkom in beeste van alle ouderdomme en wat tot groot finansiële verliese vir beesboere in Suid-Afrika kan lei. Die siekte word veroorsaak deur ’n tipe herpesvirus wat beteken dat diere wat daarmee besmet is, lewenslank draers van die virus bly. Die siekte word geassosieer met populasies van wildebeeste en/of skape wat in noue kontak met beeste was. Daar is tans geen suksesvolle behandeling vir snotsiekte nie.
Piektye vir siektevoorkoms
Om die oordrag van die siekte na beeste te verstaan, moet ’n mens die bron van die virus ondersoek. Wildebeeste wys geen tekens van die siekte nie en daarom moet alle vrylewende wildebeeste as besmet beskou word. Die virus word slegs afgeskei gedurende tye van erge stres in wildebeespopulasies, veral in die kalfseisoen (Desember tot Februarie, terwyl jong kalwers die virus ook tot in Mei kan afskei) en speentyd. Die jag- en wildvangseisoen in Mei tot Augustus veroorsaak ook verhoogde stres by ouer wildebeeste wat beteken dat September tot November ook ’n piektyd vir snotsiektegevalle in beeste is.
Besmetting in beeste kom sporadies voor. Hoewel die virus ná afskeiding deur die wildebeeste en/of skape se neusslym deur direkte kontak – en waarskynlik ook deur inaseming deur middel van lugverspreiding van die virus – aan beeste oorgedra word, is daar nog nie klinkklare bewyse van presies hoe dit gebeur nie. Die virus kan na bewering honderde meter ver oorgedra word – moontlik deur middel van ’n vektor (draerinsek).
Dit is soms baie moeilik om die oordrag van die siekte te voorkom wanneer twee aangrensende plase beeste en wildebeeste het. Dit is belangrik om te noem dat bees-tot-bees-besmetting nie kan plaasvind nie, behalwe onder laatdragtige koeie wat die virus aan hul ongebore kalwers kan oordra. Hierdie kalwers kan gesond gebore word, maar vrek gewoonlik binne ses weke ná geboorte.
Diagnose en behandeling
Tekens van snotsiekte in beeste kan akuut wees of eers ná ‘n paar maande sigbaar wees, omdat die inkubasietydperk gewoonlik tussen drie en sewe weke is (selfs langer). Dit het ’n geweldige vinnige koorsreaksie tot gevolg. Albei neusgate kry ’n slymerige uitloopsel wat in die neus aanpak en korse vorm wat die neus blok en asemhaling bemoeilik. Albei oë ontsteek en raak vaalgrys ondeursigtig, met horingvliesontsteking (keratitis) wat tot blindheid kan lei.
Afskilfering van die vel tussen die kloutjies en by die basis van die horings weens velontsteking word hoofsaaklik by skaapgeassosieerde snotsiekte gevind. Hierdie diere ontwikkel soms senuweetekens en vrek binne vier tot vyf dae.
’n Voorlopige diagnose kan gemaak word op grond van ’n dier se geskiedenis, simptome en nadoodse letsels. ’n Veearts kan ’n bevestigende diagnose maak deur bloedmonsters vir viruswaarneming te neem. Hierdie toets is belangrik om te onderskei tussen skaap- en wildebeesgeassosieerde snotsiekte, of moontlik die identifisering van ’n ander siekte soos beesvirusdiarree (BVD), mukosasiekte, bek-en-klouseer en knopvelsiekte.
Dit is belangrik om die tekens noukeurig aan te teken en ’n veearts te raadpleeg sodat die korrekte stappe geneem kan word in terme van bloedmonsters en behandeling, of ’n noodslagting.
Voorkomende maatreëls
Die prognose van snotsiekte in ’n bees is gewoonlik nie goed nie en lei meestal tot vrekte. Daar is nog geen behandelingsprotokol wat enige konstante voordele lewer nie. Daar is tans ook geen entstof vir snotsiekte nie. Die fokus moet dus op voorkoming wees:
- ’n Skeiding van minstens 1km tussen beeste en wildebeeste om die risiko van oordrag van die virus tot ’n minimum te beperk.
- In piek snotsiektetye, wanneer erge stres onder wildebeeste voorkom, moet goeie beplanning en bestuur toegepas word om die beeste sover as moontlik van die wildebeeste te hou.
- Bure of groepe aangrensende plase wat beeste en wildebeeste naby mekaar aanhou, moet deurgaans kommunikeer. Vroegtydige waarskuwings oor beplande wildvangoperasies of uitdunning sal beesprodusente tyd gee om hul beeste na verafgeleë kampe te skuif.
Voorkom, voorkom, voorkom
Die wetlike aspek van snotsiekte is ook belangrik aangesien dit al gelei het tot hofsake oor finansiële verliese onder beesprodusente. Beslissings verskil van een situasie na die volgende, en in baie gevalle word die saak buite die hof geskik. Uitstekende kommunikasie en boerderybestuur is die enigste manier om hierdie potensieel verwoestende siekte te voorkom. – dr De Wet Vorster, Vrede Dierehospitaal, en dr Renaldo Oosthuizen, Warden Dierehospitaal.
Vir meer inligting, kontak dr De Wet Vorster by 071 872 3313, of dr Renaldo Oosthuizen by 064 975 8450.



