Die bestuur van somatiese seltelling in melkbeeste (Deel 1)

Share This Post

Estimated reading time: 5 minutes

  • Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van ’n onderliggende probleem.
  • Somatiese seltelling is ’n aanduider van uiergesondheid.
  • Die uitdaging is om SST laag te hou, en daarom is dit belangrik om die onderliggende oorsaak te identifiseer.
  • Die vinnigste manier om SST te verlaag, is om die melk van die koeie met hoë SST uit jou melktenk te hou.
  • Die opleiding van personeel is ’n belangrike aspek van voorkoming.

Hoë somatiese seltelling (SST) in melkkoeie is ’n simptoom van ’n onderliggende probleem, en die enigste volhoubare oplossing is om daardie onderliggende oorsaak te identifiseer en reg te stel. So sê dr Mark Chimes, raadgewende veearts vir Melk SA en bestuurder van die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) se dieregesondheids- en welsynsprogram.

Lees Die bestuur van SST in melkbeeste (Deel 2).

Tydens ’n SSA-webinaar oor die bestuur van hoë SST in 2024 het hy beklemtoon dat, hoewel infeksie en hoë SST dikwels hand-aan-hand loop, daar ook ander redes vir hoë SST kan wees en strek die bestuur van SST veel verder as mastitisbehandeling en -voorkoming.

“Voordat jy daaraan kan dink om jou melkproduksie te verhoog, is dit belangrik dat jy eers die gehalte van jou melk op standaard kry,” het hy beklemtoon. “Melkgehalte behels nie net bottervet en proteïen nie, maar grootliks ook SST.”

Uiergesondheid

Somatiese seltelling is ’n aanduider van uiergesondheid. As ’n koei se SST onder 200 000 is, is dit ’n aanduiding van goeie gehalte melk wat by die melkverwerkers in aanvraag is. ‘n SST van tussen 200 000 en 400 000 is ’n aanduiding dat die betrokke koei subkliniese mastitis het. Bo 400 000 word geklassifiseer as kliniese mastitis. Wetlik word ’n produsent slegs toegelaat om melk te verkoop met ’n melktenk-SST van onder 500 000.

Die vinnigste manier om SST te verlaag, is om die melk van die koeie met hoë SST uit jou melktenk te hou. Dit beteken dat elke koei getoets en elke individuele koei se situasie oorweeg moet word – is sy ’n ou koei wat in elk geval aan die einde van haar produktiewe lewe is? Is sy aan die einde van haar laktasie? Produseer sy dalk in elk geval nie baie melk nie, wat beteken dat om haar uit te skot jou kontantvloei nie noemenswaardig gaan beïnvloed nie.

Dis natuurlik ook moontlik dat jy die koeie kan behandel sodat die melk ná ’n tydperk weer melktenk toe kan gaan. Dis egter so dat koeie met ’n uitermate hoë SST dikwels aanhou probleme gee, wat dit soms die moeite werd maak om hulle uit te skot.

“Met melkaantekening, waar elke koei se produksie sowel as SST gereeld aangeteken word, kan ’n mens redelik akkuraat bereken hoeveel elke koei tot die totale SST in jou melktenk bydra. ’n Individuele koei kan maklik tot soveel as 5% van jou totale SST bydra. Ons vind ook dat die 5% koeie met die hoogste SST soveel as 50% tot jou totale melktenk-SST bydra. Deur hierdie koeie se melk uit jou melktenk te hou, kan die SST in die melktenk met soveel as 50% daal. Hierdie verlaging van die SST in ’n melktenk is egter ’n korttermyn oplossing. Die oplos van die onderliggende oorsake van hoë SST verg ’n langtermyn strategie.”

Identifiseer oorsake

Die uitdaging is om SST laag te hou, en daarom is dit belangrik om die onderliggende oorsaak te identifiseer. Die oorsake val breedweg in twee kategorieë, naamlik fisiese en besmetlike oorsake. Fisiese oorsake word in melkmasjien- en nie-melkmasjien-oorsake verdeel.

By die besmetlike oorsake word onderskei tussen aansteeklike vorms van mastitis en opportunistiese bakterieë wat in die omgewing voorkom wat mastitis kan veroorsaak as dit die uier binnedring, veral as die koei se immuunstelsel verswak is. Besmetlike oorsake is aspekte soos bakterieë, virusse, giste en swamme wat infeksie en mastitis kan veroorsaak.

’n Belangrike behandeling van mastitis by nie-aansteeklike én aansteeklike oorsake, is anti-inflammatoriese middels. Mastitis is pynlik en anti-inflammatoriese middels help om pyn en inflammasie te verlig. Hou net streng by die onttrekkingstydperk van die middels, waarsku hy. 

Voorkoming deur higiëne

Hoewel entstowwe teen spesifieke mastitis-veroorsakende organismes beskikbaar is, is dit sinneloos om in te ent as daardie organisme nie vir die probleem verantwoordelik is nie (byvoorbeeld Staph aureus of E. coli). Identifiseer dus eers die organisme voordat jy inenting oorweeg.

Die opleiding van personeel is ’n belangrike aspek van voorkoming. Hulle moet nie net weet wat om te doen nie, maar ook waarom dit belangrik is om dit reg te doen. Dit is dus ’n goeie idee om gereeld verteenwoordigers soos die seep-agent en die melkmasjientegnikus, te vra om opknappingskursusse vir personeel aan te bied.

“Wat soos ’n paal bo water uitstaan, is dat ’n goeie en betrokke bestuurder die grootste faktor is wat SST onder beheer hou. Hiermee saam loop noukeurige persoonlike higiëne van personeel, en die was van hande met ’n ontsmettingsmiddel tussen die hantering van elke koei. By die ontsmetting van spene is kontaktyd ook belangrik. Die ontsmettingsmiddel het ten minste 30 sekondes nodig om die bakterieë te dood.

Gesonde koeie het goeie immuniteit, het hy afgesluit. “Dit word bewerkstellig deur goeie voeding, die regte vitamiene en minerale, en algemene koeigemak wat met higiëne gepaard gaan.” – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Mark Chimes by 074 510 7316 of besoek die Suiwelstandaard-agentskap se webwerf by www.dairystandard.co.za.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 1 minute Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 12 of 2026

The weekly pork carcass prices are brought to you...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a wholly...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not as...

Bloednier: Die stille moordenaar onder kleinvee

Estimated reading time: 4 minutes Om vroeg in die oggend...