HomeMagazinesVeesiektes wat kwel: Rapportering wys tendense uit

Veesiektes wat kwel: Rapportering wys tendense uit

-

Estimated reading time: 7 minutes

  • Die landswye siekterapporteringstelsel word deur Veearts Netwerk bedryf in samewerking met die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) en Rooivleisbedryfsdienste (RMIS).
  • Die privaatrapporteringstelsel is intyds, aangesien dit elektronies na een databasis gedoen word.
  • Die rapporteringstelsel het ook ten doel om op ’n nasionale basis op Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se webwerf ’n kaart te verskaf waarop die voorkoms van veesiektes op ’n maandelikse basis toeganklik is vir veeprodusente en ander bedryfsrolspelers.
  • Siektebeheer op plaasvlak is in die hande van die veeprodusent, wat in samewerking met sy/haar plaaslike veearts praktiese oplossings moet vind.
  • Asiatiese rooiwater is deur die siekterapporteringstelsel uitgewys as hoë prioriteit wat verdere navorsing betref, sodat ’n beter en meer permanente oplossing vir die vrektes wat dit veroorsaak, gevind kan word.

Die landswye siekterapporteringstelsel word deur Veearts Netwerk bedryf in samewerking met die Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika (RuVASA) en Rooivleisbedryfsdienste (RMIS). Hierdie rapportering word hoofsaaklik gedoen deur privaatveeartse wat in die veebedryf werk, en maandeliks die siektes rapporteer wat hulle op plaasvlak teëkom.

Lees dit in Engels.

Privaatveeartse se siekterapportering fokus op al die siektes en parasiete wat vrektes en produksieverliese op plase veroorsaak, terwyl die staat s’n fokus op staatsbeheerde en aanmeldbare siektes. Die privaatrapporteringstelsel is intyds, aangesien dit elektronies na een databasis gedoen word. Die stelsel bied aan elke veeartspraktyk wat rapporteer, ’n oorsig van siektes wat oor ’n jaar of aantal jare in die praktykgebied voorkom.

’n Nasionale arendsblik

Die rapporteringstelsel het ook ten doel om op ’n nasionale basis op Rooivleisbedryfsdienste (RMIS) se webwerf ’n kaart te verskaf waarop die voorkoms van veesiektes op ’n maandelikse basis toeganklik is vir veeprodusente en ander bedryfsrolspelers.

Veearts Netwerk stel dan ook maandeliks ’n nasionale verslag met die volgende onderafdelings saam:

  • Siektebewusmaking: Siektes wat nog baie voorkom, maar wat doeltreffend voorkom kan word deur inenting of ander spesifieke siektevoorkomingsbestuur.
  • Siektes wat buite beheer voorkom: Meestal siektes waarvan die beheer meer kompleks is, en die beheer of uitroei daarvan omvattende siektebestuur benodig wat toets en uitskot, biosekuriteit (kwarantyn) en inenting insluit.
  • Siektetendense: Siektes wat beperk was tot ’n spesifieke gebied, maar nou na ander gebiede uitgebrei het of siektes wat nooit voorgekom het nie, maar nou ’n probleem word.
  • Prioriteitsiektes: Siektes wat groot verliese veroorsaak en waarvoor doeltreffende beheermaatreëls nie tans bestaan nie. In baie gevalle is nog navorsing nodig om beter oplossings te vind.

Siektebewusmaking

Die belangrikste siektes waarteen inenting nou reeds afgehandel moes wees, is die insekoordraagbare virussiektes wat ’n maand of meer na die begin van die reënseisoen in die somerreënvalgebied sal voorkom. In die winterreënvalgebied is die voorkoms anders, omdat dit reeds in die winter gereën het en die siektes van die lente af voorkom wanneer dit warm word en die insekte uitbroei.

Knopvelsiekte

Die siekte word deur ’n pokkevirus in beeste veroorsaak en kom hoofsaaklik van Januarie tot Maart voor. As na die langtermynvoorkoms van die siekte gekyk word (Figuur 1), is dit duidelik dat baie produsente nog nie doeltreffend inent nie. Die lewende entstof teen hierdie enkele virusstam is beskikbaar, is uiters doeltreffend en kan die siekte heeltemal voorkom en langtermyn immuniteit opwek, veral nadat die entstof vir ’n tweede jaar herhaal is.

Figuur 1: Uitbrekings van knopvelsiekte, April 2022 tot September 2024.

Drie-dae-stywesiekte

Drie-dae-stywesiekte veroorsaak spesifiek in vleisbeeste probleme in die somerteelseisoen. Vervangingsverse (jaar-oud en twee jaar oud) en teelbulle word die meeste geraak. In melkbeeste veroorsaak die siekte groot melkverliese en in baie gevalle kom die dodeliker vorm van die siekte, wat longemfiseem en vrektes veroorsaak, ook in hoogs-vatbare melkbeeste voor.

Beeste soos verse en jong bulle wat vir die eerste keer ingeënt word, moet twee keer met die beskikbare geïnaktiveerde entstof ingeënt word. Daarna is ’n jaarlikse inenting nodig, met die skraaginenting wat gegee moet word net voor die tydperk waarin die siekte gewoonlik in ’n spesifieke area voorkom.

Met drie-dae-stywesiekte is die tydsberekening van die inenting belangrik, omdat die entstof minder immunogenies is en inenting of skraaginenting ’n hoë vlak van immuniteit opwek, net voor en tydens die tydperk van hoogste siekte-oordrag (Januarie tot Desember in die somerreënvalgebiede). Dit is belangrik om direk met die plaaslike veearts saam te werk, sodat hy/sy ’n vroeë waarskuwing kan uitstuur wanneer die eerste gevalle vir die seisoen voorkom.

Bloutong

Bloutong is ’n komplekse, insekoordraagbare siekte in skape, maar kan ook beeste aantas. Hulle wys in die meeste gevalle geen siektetekens nie. ’n Groot aantal verskillende stamme van die bloutongvirus kan skape aantas. In Suid-Afrika is 21 serotipes van die virus al geïsoleer. Elkeen van die serotipes kan die siekte veroorsaak en daar is min of geen kruisbeskerming tussen serotipes. Dit was tot dusver nog nie moontlik om al die verskillende stamme van die bloutongvirusse (serotipes) in een entstof te sit nie.

Die lewende entstof het 15 verskillende serotipes (vyf in elke fraksie) en ontwikkel baie goeie immuniteit. Dit moet as drie inspuitings gegee word met ’n interval van drie tot vier weke. Dit is die optimale entstof om in jong vervangingsooitjies en rammetjies ouer as ses maande te gebruik. Vroegdragtige ooie en ramme kan nie net voor of tydens die teelseisoen ingeënt word nie.

Die nuwe geïnaktiveerde entstof het 11 serotipes. Ná die eerste inenting met die entstof moet ’n skraagdosis drie tot vier weke later toegedien word vir beskermende immuniteit. Jong skape moet ook vir die eerste keer na ouderdom ses maande ingeënt word. Die geïnaktiveerde entstof kan in dragtige skape en ramme voor en tydens die teelseisoen gebruik word.

Siektes wat buite beheer is

Die belangrikste erosiesiekte in beeste is beesbrusellose, ’n staatsbeheerde siekte. Hierdie bakteriese siekte kan ook na mense oorgedra word en is veral ’n groot risiko vir veeprodusente, veewagters en veeartse wat met die beeste werk. Die siekte moet by die staatsveearts aangemeld word, wat dan siektebeheer op besmette plase sal oorneem.

Die siekte word hoofsaaklik deur staatsveeartse maar ook deur privaatveeartse gerapporteer. Die siekteverspreidingskaarte van die epidemiologie-afdeling van die staatsveeartsenydienste (Figuur 2) toon duidelik dat die siekte buite beheer is, veral in vleisbeeskuddes.

Figuur 2: Uitbrekings van beesbrusellose, Januarie 2018 tot Desember 2022.

In melkbeeskuddes is brusellose onder beheer, aangesien melkprodusente jaarliks toets en maandeliks die afwesigheid van die siekte deur melkringtoetse monitor. Dit is ’n voorwaarde van melkkopers.

Hondsdolheid

Hondsdolheid kan van honde, jakkalse of ander draerdiere na vee en veral beeste oorgedra word. Dit is ook oordraagbaar na mense wat deur ’n hondsdol dier gebyt word of met vee werk wat hondsdolheid onder lede het.

In die geval van hondsdolheid wat in vee voorkom, is intydse rapportering deur veeartse belangrik aangesien die siekte op ’n spesifieke tydstip net in beperkte gebiede voorkom. Dit is belangrik dat ’n vroeë waarskuwing uitgestuur word na veeprodusente in die betrokke gebied aangesien inenting teen hondsdolheid nie deel van die standaard inentingsplan is nie. Dus moet vee as ’n noodmaatreël op aangrensende plase en binne ’n 5- tot 10km-sone voorkomend ingeënt word, sodat hulle nie ook verliese ly nie. Dit neem twee weke sedert inenting voordat die dier beskerm is. Daarom is voortydige optrede en ’n werkende vroeë-waarskuwingstelsel nodig.

Prioriteitsiektes

Asiatiese rooiwater is die belangrikste prioriteitsiekte in beeste wat deur die siekterapporteringstelsel uitgewys is as ’n siekte wat steeds uitbrei en die belangrikste oorsaak van vinnige vrektes in beeste is.

Die siekte word deur die pantropiese bloubosluis oorgedra. Anders as met Afrika-rooiwater, is daar nie altyd tipiese siektetekens soos rooi urine en selfs bleek slymvliese as gevolg van inwendige bloedverlies nie. Die organisme wat in die rooibloedselle verdeel veroorsaak dat rooibloedselle aan mekaar vaskleef om mikrostolsels in die kapillêre bloedvaatjies te veroorsaak.

In vatbare kuddes is die benadering om die hele kudde ’n blokbehandeling te gee om verdere vrektes te voorkom. Een van die probleme wat ontstaan, is dat die nawerking van die blokbehandeling verkort, wat daarop kan dui dat weerstand ontwikkel teen die middels wat gebruik word.

Die enigste huidige langtermyn oplossing is die gebruik van die bloedentstof om immuniteit teen die siekte op te wek. Die probleem is dat die entstof vir lank nie beskikbaar was nie, juis in ’n tyd toe beesprodusente voor die reën moes inent en die bloubosluise wat die siekte oordra, meer geword het.

Asiatiese rooiwater is deur die siekterapporteringstelsel uitgewys as hoë prioriteit wat verdere navorsing betref, sodat ’n beter en meer permanente oplossing vir die vrektes wat dit veroorsaak, gevind kan word. Gevalle van Asiatiese rooiwater wat die afgelope 18 maande deur veeartse in die Vrystaat gerapporteer is (waar die siekte die grootste probleme veroorsaak), was wydverspreid regdeur die provinsie.

Ten slotte

Siektebeheer op plaasvlak is in die hande van die veeprodusent, wat in samewerking met sy/haar plaaslike veearts praktiese oplossings moet vind. Die siekterapporteringstelsel bied die geleentheid om die voorkoms en beheer van veesiektes beter te verstaan en meer geteiken te beheer. – dr Danie Odendaal, Veearts Netwerk

Vir meer inligting, skakel dr Danie Odendaal by 082 454 0523.

Must Read

BEK-inentingsveldtog onder druk: Entstowwe beskikbaar, maar uitvoering sloer

Estimated reading time: 5 minutes Bek-en-klouseer (BEK) in Suid-Afrika is steeds nie in sy spore gestuit nie en onsekerheid heers steeds – nie net oor...