Estimated reading time: 2 minutes
Suid-Afrikaanse vleisinvoerders ervaar deesdae probleme met permitte om ingevoerde vleis uit die hawens te verwyder. Die probleem het glo ontstaan nadat die Grensbeheeragentskap (BMA) aan die begin van die jaar nuwe regulasies ingestel het en onnodige tyd nou verlore gaan.
Imameleng Mothebe, uitvoerende hoof van die Vereniging vir Vleisinvoerders en -uitvoerders (AMIE), het in ’n verklaring gesê die nuwe stelsel is nie behoorlik in plek nie en dit veroorsaak dat besendings vars vleis byna twee weke langer neem om beskikbaar te kom vir verwydering uit hawens. Die gevolg is onnodige koste wat van verbruikers verhaal moet word.
Inspekteurs moet by wees
Die nuwe vereistes is onder meer dat veeartseny-inspekteurs teenwoordig moet wees as die houer se seël gebreek word om die inhoud daarvan te inspekteer. Daar moet ook tussen 35 en 45% van die houers per besending ondersoek word. Dit is nie nodig dat al die houers oopgemaak word vir inspeksie nie.
Sy sê in die verlede het dit sowat 48 uur geneem om permitte te kry om vleis van die grenspos of hawe te verwyder, maar dit neem tans agt tot nege dae. Suid-Afrika se totale vleisinvoere in 2023 was R6,9 miljard, wat 5% meer as in 2022 is, en die uitvoere word op R5,6 miljard bereken, ’n styging van 12% teenoor 2022.
“Regeringsregulasies speel ongetwyfeld ’n belangrike rol om te verseker dat die voedselsektor regverdig en volhoubaar funksioneer, terwyl openbare gesondheid beskerm word, maar wanneer dit sonder die nodige kapasiteit om die regulatoriese las te hanteer, ingestel word, kan hierdie maatreëls rampspoedige onbedoelde gevolge hê,” sê Mothebe.
Net veilige produkte
Die kommissaris van die BMA, dr Michael Masiapato, het in reaksie hierop gesê hierdie maatreëls is daarop gemik om slegs veilige, hoë-gehalte produkte toe te laat om in die Suid-Afrikaanse mark in te kom. Daar kan nog haakplekke in die stelsel voorkom en hulle fokus op bottelneksituasies om die proses te versnel.
Hy het die versekering gegee dat duidelike protokolle binnekort ingestel sal word om te keer dat onnodige tyd vermors word om vars vleis in te voer. – Koos du Pisanie, Plaas Media