Vleisinvoere uit Namibië: Wat sê die syfers?

Estimated reading time: 8 minutes

  • Johnny en Ilze Coetzee van die plaas Paauwvontein, tussen Olifantshoek en Groblershoop, sê boerdery in hulle omgewing se kontantvloei is toenemend onder druk as gevolg van droogte, hoë produksiekoste, ’n hoë skuldlas, volgehoue lae vleispryse, en die hoë volumes invoere vanuit Namibië en Botswana.
  • Die verhoogde aanbod by abattoirs druk die lampryse nog laer en veroorsaak dat produsente sukkel om slagplek te kry en om kopers vir hul diere te kry.
  • Die feit dat die bestaande klassifikasiestelsel die boer se prys by die abattoir bepaal, maar nie noodwendig op die verpakking op die winkelrak aangedui word nie, is ook ’n negatiewe faktor.
  • Plaaslike produsente se aanbod het dus reeds drasties gedaal. Abattoirs moet gevolglik skape uit Namibië invoer om oop te bly.
  • Dr Frikkie Maré, bestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê daar moet na die werklike syfers gekyk word. “Hoewel invoere uit Namibië moontlik ’n invloed op die prys van rooivleis kan hê, is dit nie genoeg om groot prysskokke mee te bring nie.” Syfers rakende die hoeveelheid diere wat vanuit Namibië ingevoer word teenoor die heersende pryse op daardie tydstip, toon geen verhouding nie.

As ’n skaapboer in die Noord-Kaap sê dat veeboerdery, veral skaapboerdery, nie meer winsgewend kan wees nie, laat dit ’n mens noodgedwonge regop sit. Sy stelling is dalk gegrond op die realiteit van insetkoste aan die een kant en die prys waarmee skaapboere tevrede moet wees, aan die ander kant. Indien dit so is, dan klop die somme glad nie en gaan dit nie lank neem voordat talle skaapboere die bus sal moet verlaat nie.

Dit is ’n skokkende stelling, maar dit is al deur ‘n paar skaapprodusente geuiter. Gesels jy met ‘n paar van hulle, kom jy gou agter hulle is ongelukkig oor die pryse wat van 2019 tot 2022 geklim het van R65/kg tot R95/kg, maar weer teruggesak het tot R85/kg.

Dit is ook so dat insetkoste nie gaan daal nie en hoewel allerlei planne gemaak word om meer wetenskaplik te boer en markte te ontwikkel, het niemand skynbaar raad vir hierdie praktiese probleme nie. Een so ’n probleemsituasie wat produsente warm onder die kraag het, is die invoer van rooivleis vanuit Namibië, terwyl daar nie na dié buurland uitgevoer mag word nie.

Lees meer oor tendense in die rooivleisbedryf hier.

Gevolge van invoere

Johnny en Ilze Coetzee van die plaas Paauwvontein, tussen Olifantshoek en Groblershoop, sê boerdery in hulle omgewing se kontantvloei is toenemend onder druk as gevolg van droogte, hoë produksiekoste, ’n hoë skuldlas, volgehoue lae vleispryse, en die hoë volumes invoere vanuit Namibië en Botswana.

Johnny glo lammers uit Namibië word in Suid-Afrika gestort en hoofsaaklik in die Noord-Kaap geslag. Hy sê die plaaslike abattoirs wat hy en ander boere gebruik, raak so oorvol dat daar nie plek is vir hulle skape nie. Hy het in ’n stadium ’n stemboodskap ontvang waarin ’n agent versoek is om plaaslike produsente eers te blok, aangesien daar eenvoudig nie genoeg plek by die abattoir was nie.

Die verhoogde aanbod by abattoirs druk die lampryse nog laer, sê Ilze, en veroorsaak dat produsente sukkel om slagplek te kry en om kopers vir hul diere te kry. Daar is nie geld om los en vas te spandeer nie, en daarom kan hulle nie bekostig om met die bemarking van hul diere ook noustrop te trek nie.

Die probleem van lae pryse

Charl Saunderson, ’n bekende produsent in die Noord-Kaap, is ook bekommerd oor die swak pryse wat produsente kry, maar hy sê dis nie noodwendig lammers uit Namibië en kalwers uit Botswana wat die oorsaak is nie. Produksiesiklusse, lamseisoene, die swak bemarking van veral lams- en skaapvleis, en ’n verouderde klassifikasiestelsel wat nie die waarde van topkarkasse ontsluit nie, dra ook by tot die uitdagings wat skaapboere in die gesig staar.

Die feit dat die bestaande klassifikasiestelsel die boer se prys by die abattoir bepaal, maar nie noodwendig op die verpakking op die winkelrak aangedui word nie, is ook ’n negatiewe faktor. “Verbruikers sal, solank as wat hulle wonder wat hulle koop, liewer nie koop nie of dan gewoon net minder wil betaal,” meen hy. Sy gevoel is dat ’n nuwe of bykomende rolmerk gebruik moet word om die gehalte van die vleis aan te dui.

“Wanneer produsente vergoed word vir gehalte, sal hulle gehalte produseer. En wanneer die verbruiker kry waarvoor hy betaal, sal die markaandeel van lams- en skaapvleis groei. Terselfdertyd sal dit die impak van invoere temper, wat hoofsaaklik uit gemiddelde of selfs ondergemiddelde karkasse bestaan.”

Saunderson glo daar behoort meer inspekteurs of kontroleerders te wees wat toesien dat (nuwe) gradering tot op die rak verloop. Verbruikers sal dan meer betaal vir goeie-gehalte vleis, en minder vir laer-gehalte vleis. Die kleinhandelsprys sal dan ook in verhouding bly met dit wat die produsent ontvang.

Voortbestaan van plase

Hy meen daar word tans sowat een miljoen karkasse minder geslag as vier jaar gelede. Plaaslike produsente se aanbod het dus reeds drasties gedaal. Abattoirs moet gevolglik skape uit Namibië invoer om oop te bly. As die pryse egter so swak bly, sal al hoe meer plaashekke ook sluit. Hy sê ’n fyn balans moet gehandhaaf word om beide abattoirs en plaashekke oop te hou, en te sorg dat almal in die waardeketting waarde vir hul geld kry.

Lees meer oor die vleisklassifikasie-stelsel hier.

Dit is dus ‘n realiteit, sê hy, dat indien swak vleispryse by die plaashek nie vinnig gaan draai nie, talle produsente genoodsaak sal wees om hul plase te verlaat. Dit sal ’n rimpeleffek tot gevolg hê. Plattelandse dorpe wat besig is om te ontvolk, sal verder lei onder werkloosheid en sosiale uitdagings, terwyl die ekonomies selfstandige bevolking al hoe kleiner word. Terselfdertyd sal die nasionale kudde verswak en degradeer, aangesien produsente nie sal kan bekostig om goeie genetika aan te koop om hul kuddes te verbeter nie.

“As die verbruik van skaapvleis net effens kan optel, sal die abattoirs soveel meer diere nodig hê. Ongelukkig is bemarkingspogings en die klassifikasiestelsel hopeloos. As daar nie indringend na die produsente en verbruikers geluister word nie, is daar nie ’n wafferse toekoms vir rooivleisproduksie in ons land nie,” meen hy.

Wat die syfers sê

Dr Frikkie Maré, bestuurder van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê daar moet na die werklike syfers gekyk word. “Hoewel invoere uit Namibië moontlik ’n invloed op die prys van rooivleis kan hê, is dit nie genoeg om groot prysskokke mee te bring nie.”

Syfers rakende die hoeveelheid diere wat vanuit Namibië ingevoer word teenoor die heersende pryse op daardie tydstip, toon geen verhouding nie. In die geval van beesvleis het pryse gedaal te midde van laer invoere. Dieselfde geld vir skaapvleispryse. Die aantal diere wat ingevoer word, is te min om ’n groot prysverskil mee te bring. Daar is ook gevalle waar minder ingevoer is, en die prys van skaapvleis gedaal het eerder as om te styg.

Dit is wel so dat die prys van skaapvleis gedurig fluktueer, sê hy. In ‘n studie wat vanaf Januarie 2017 tot Desember 2023 strek, is dit opvallend dat hierdie pryse gewoonlik tussen Januarie en Maart daal, en weer vanaf April begin styg. Die tyd waarin lammers dus verkoop word, het ook ’n effek op die prys wat produsente ontvang.

Figuur 1: Vergelyking van skaapinvoere uit Namibië, Suid-Afrikaanse slagsyferstatistiek, en die Suid-Afrikaanse A2-karkasprys.

Dr Maré sê die invoer van rooivleis uit Namibië kan dus nie as die sondebok voorgehou word nie. Daar is ander ekonomiese faktore wat die prys van rooivleis bepaal. Die verbruiker, die eintlike bepaler van die rooivleisprys, se besteebare inkomste word al hoe minder en dit het niks met vleisinvoere te doen nie. Die RPO as sulks het boonop geen invloed op pryse nie – dit word deur vraag en aanbod bepaal en kan nie deur die organisasie beheer word nie.

“Die RPO is egter nie blind of ongevoelig vir produsente se dag-tot-dag stryd nie. Alhoewel ons nie handel vanaf Namibië kan beperk nie, gaan ons met die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling (DALRRD) asook die Direktoraat Dieregesondheid in gesprek tree om te kyk of ons ‘n stelsel kan ontwerp wat meer deursigtig is in terme van die aantal diere wat ingevoer word.

“As ons vooraf weet hoeveel diere ingevoer gaan word, sal ons die plaaslike aanbod beter kan bestuur om knelpunte in die mark te verminder. Dit kan egter beskou word as ‘n reëling wat nie heeltemal in lyn is met die Mededingingskommissie se reëls nie, en moet dus met groot omsigtigheid benader word.”

Wanneer die regering gevra word om oorweging te skenk aan hersiene invoermaatreëls, moet die volgende egter in gedagte gehou word:

  • Daar bestaan ’n vryhandelsooreenkoms tussen Suid-Afrika en Namibië en buiten sekere uitsonderings wat ten doel het om beide plaaslike ekonomieë te beskerm, is daar geen beperking op handel nie.
  • Daar is min tot geen bewyse dat Namibiese vee-invoere ’n negatiewe invloed op ons markte het. Daarom bestaan daar nie werklike gronde vir ’n versoek om handelsbeperkings in te stel nie.
  • Ons is tans in ‘n positiewe handelsbalans met Namibië. Suid-Afrika voer goedere en produkte ter waarde van nagenoeg 3,3 miljard Amerikaanse dollar na Namibië uit, terwyl slegs 1,75 miljard dollar se goedere en produkte hierheen ingevoer word (2022-data).

Suid-Afrika trek aansienlike voordeel uit die vryhandelsooreenkoms met Namibië, en rolspelers sal huiwerig wees om beperkings daar te stel wat handelsverhoudinge kan laat skipbreuk ly. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir die volledige dokument rakende vleispryse en invoere uit Namibië, epos frikkie@rpo.co.za of corine@rpo.co.za of skakel dr Maré by 084 446 6787. Om met Charl Saunderson kontak te maak, skakel 082 414 6146.

Lloyd Short: Optimale ontwikkeling is die sleutel tot sukses

Estimated reading time: 6 minutes Veeplaas het, tydens ‘n onlangse besoek aan die area,...

Bull selection, the smart way

Estimated reading time: 8 minutes When it comes to genetic progress in a herd,...

Kies só die beste paardatum vir wolskape

Estimated reading time: 6 minutes Die resultate van 36 jaar se skandering sedert 1986,...

An update on the keeping of livestock by farm dwellers

Estimated reading time: 4 minutes The Supreme Court of Appeal recently overturned the controversial...