Estimated reading time: 5 minutes
Victoria-Wes se jaarlikse skou, wat op 9 en 10 Februarie 2024 aangebied is, verbeter jaarliks danksy ’n knap skoukomitee onder leiding van Jakkals Olivier.
Die Merinoskou was vanjaar ‘n groot trekpleister. Ongeveer 200 skape en 13 vertoners het deelgeneem. Hulle was, onder andere, afkomstig van Victoria-Wes, Richmond, Murraysburg en Hanover.
Vier plaaslike produsente en twee tegniese veldbeamptes van OVK het die diere die oggend beoordeel. Stefan Naudé van Hanover se ram het as kampioen uitgestaan, terwyl Gerrit Viljoen van Richmond se ram die reserwe kampioen was. Onder die vroulike diere het Roelo van Heerden van Murraysburg die reserwe sowel as die kampioen vroulike dier vertoon.
Die skoubestuur is baie entoesiasties om hierdie skou groter en beter te maak en streef daarna om die nasionale Merinoskou in Victoria-Wes te hou. Hulle beplan ook om volgende jaar ‘n Dorperskou by te voeg.
Victoria-Wes is bekend vir sy perdeskou en vanjaar was daar weer heelwat ruiters wat in die driegang-afdeling deelgeneem het. – Koos du Pisanie, Plaas Media
BKB Merino Ope vertoon die room van SA Merino’s
Die BKB Merino Ope wat verlede jaar deur Nampo Kaap op Bredasdorp aangebied is, het 13 Merino-telers gelok wat met uitstekende diere teen mekaar meegeding het. Die teler wat die meeste punte behaal het, is Dirk Hanekom van Korenhof Merino’s in die Klipdale-omgewing. In die foto’s is die wenners van die spesiale klasse.
Wolgehalte: Die kroon op goeie Merino-produksie
Daar is ’n magdom eienskappe wat die waarde van wol beïnvloed. Dit kan ’n Babelse verwarring veroorsaak as dit nie stelselmatig bepaal word nie, of indien die faktore wat dit beïnvloed nie duidelik gedefinieer word nie.
Plaas Media het by Jan Louis Venter, ’n produksie-adviseur by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), en Landrie Zietsman, ’n wolkoper by BKB Pinnacle, aangeklop om die geheue te verfris oor enkele belangrike tegniese punte wat ’n groot rol in wolgehalte speel.