Estimated reading time: 4 minutes
Nampo Kaap 2023 was ’n reuse-sukses en spog met ’n bywoningsyfer van meer as 35 000, ’n nuwe rekord wat 3 000 meer is as verlede jaar se rekordbywoning. “Nampo Kaap gaan egter oor veel meer as net die rekordbywoning,” het Henk Aggenbach, voorsitter van Nampo Kaap, na afloop van die geleentheid gesê.
Nampo Kaap is vanjaar van Donderdag 13 tot Saterdag 16 September in Bredasdorp gehou. Altesaam 520 maatskappye het hul produkte en dienste op 650 standplase uitgestal.
Lees meer oor vanjaar se skou hier.

“Dit gaan oor die ekonomiese inspuiting vir die omgewing en die gemeenskap, ’n span vrywilligers wat hul tyd opoffer om die geleentheid te reël en seker te maak dat alles glad verloop, en die terugvoer van uitstallers dat hulle produktiewe besigheid tydens Nampo Kaap gedoen het.”
Die skou stel ook nuwe tegnologie aan die hele landbouwaardeketting bekend en dra kennis aan die algemene publiek oor om seker te maak hulle verstaan kommersiële landbou se aandeel in voedselsekerheid. Die verbruiker moet weet hy kan nie voldoende voedsel teen bekostigbare pryse op die regte plek koop as daar nie kommersiële landbou is nie,” sê Aggenbach.
Lees meer oor die 2022 skou hier.
Ekonomiese inspuiting miljoene werd
Aggenbach sê dit is moeilik om ’n syfer aan die ekonomiese inspuiting wat Nampo Kaap na die omgewing bring, te koppel. Hulle het voorheen die waarde probeer bepaal en as hy daarop werk, beloop vanjaar se ekonomiese inspuiting tussen R6 en R10 miljoen. Dit word gestaaf deur terugvoer vanaf hotelle, gastehuise, restaurante, winkels en ander besighede op Bredasdorp en in omliggende dorpe.

Toit Wessels, die skou-organiseerder, het gesê die gure weer, veral sterk winde, het tydens die laaste twee dae uitdagings aan die organiseerders gestel, maar die bekwame span op die terrein het dit oorkom.
“Dit is altyd lekker om van hekgetalle te hoor, maar vir my as organiseerder is dit belangriker as ons vennote, die uitstallers, suksesvol besigheid doen. Ons kry net goeie terugvoer oor die besigheid wat tydens Nampo Kaap gegenereer is. Dit is wat ons wil hoor, want dan weet ons ons is op die regte pad,” het Wessels gesê.
Nampo Kaap ’n platform vir netwerke
Dirk Strydom, Graan SA se hoof van Nampo, bemarking en navorsingkoördinering, sê Nampo Kaap as geheel en ook enige ander Nampo-aanbieding, se bydrae tot die breër ekonomie is een van die vernaamste redes waarom dit aangebied word. Nampo Kaap het ’n groter doel in die landbou as net die ondersteuning van die plaaslike ekonomie.

“Ons ontvang nie subsidies in Suid-Afrika nie en moet dus altyd aan die voorpunt van effektiwiteit wees. ’n Geleentheid soos Nampo Kaap bied ’n platform waar verskaffers en boere bymekaar kan sit en saam nuwe planne kan uitdink om meer volhoubaar te wees, ’n platform waar verskillende rolspelers binne die bedryf bymekaar kan kom, en selfs waar politici kan kom kyk wat landbou nou en in die toekoms kan bied. Dit gee ons die geleentheid om te netwerk. Dit maak dus deel van ’n groter prentjie uit om ons land se ekonomie stabiel te hou en seker te maak dat ons volhoubaar vir die land voedsel kan produseer,” het Strydom gesê.
2024 ’n feesjaar vir Nampo Kaap
Aggenbach het gesê volgende jaar sal die vyfde Nampo Kaap wees wat aangebied word. Dit sal ook die 30ste jaar wees waarin ’n meganisasiegeleentheid in Bredasdorp aangebied word.
“Die eerste meganisasiedag, wat op die plaas Nachtwacht naby Bredasdorp deur oom Neil Giliomee gereël is, was ’n beskeie begin wat oor 30 jaar gegroei het tot die suksesvolle Nampo Kaap van vandag. Daar was ’n paar struikelblokke wat die geleentheid se voortbestaan in gedrang gebring het, maar die belangrikste is dat ons na elke terugslag weer opgestaan het en sterker geword het,” het Aggenbach gesê.
“Volgende jaar sal ’n feesjaar wees om die geskiedenis te herdenk, uitstallers sal hul produkte kan uitstal en besigheid doen, en die hele gemeenskap sal weer voordeel trek uit die ekonomiese inspuiting wat Nampo Kaap bring,” het Aggenbach gesê.
- Nampo Kaap 2024 word van 11 tot 14 September in Bredasdorp gehou.
- Plaas Media is die trotse mediaborg van Nampo Kaap. – Hugo Lochner, Plaas Media