Estimated reading time: 6 minutes

Die lewe is een lang skakeling van verskillende siklusse en in die veebedryf werk dit dieselfde met koeie. Hulle moet elke jaar ’n kalf produseer en het nie lank tyd vir herstel ná kalwing, voordat hulle weer dragtig moet raak nie. Telers probeer gedurig om daardie siklus korter te maak of ten minste só te bestuur, dat die diere waarmee hulle werk voldoende kans kry om te herstel voordat hulle weer die volgende siklus moet aanvat.

Die gedagte van kruipvoer het posgevat in ’n poging om dié koeie ’n blaaskans te gee, sodat hulle gereed kan wees vir die volgende siklus.

Lees meer oor die beginsels van kruipvoer hier.

Voordele van kruipvoer

Ashley Grimsell, tegniese bestuurder by Voermol Voere, sê kruipvoer hou nie net voordele vir die kalf in nie, maar ontwikkel ook die kalf se rumen, met die gevolg dat daar heelwat spanning van die koei weggeneem word.

“Die rumen ontwikkel gouer omdat daar, met behulp van kruipvoer, vlugtige vetsuurproduksie in die grootpens (rumen) plaasvind, wat die papille se ontwikkeling stimuleer. Dit is voordelig vir die kalf, omdat dit die oppervlak vir absorpsie in die rumen vergroot. Dit bevoordeel ook die kalf wat na die voerkraal gaan om vinniger aan te pas en in die voerkraal te presteer.”

Ilanie Wessels, ’n voedingkundige van Tau Voere, stem hiermee saam. Sy sê daar is talle voordele verbonde aan die gebruik van kruipvoer. Behalwe dat dit die kalf se spysverteringstelsel bevorder en die koei ’n kans gun om vinniger te herstel, verlaag dit ook spanning by die kalf tydens die speenproses. Kalwers kan dus vroeër gespeen word en hulle bereik ook maklik hoër speengewigte.

“Melkproduksie is gewoonlik in die eerste 90 dae voldoende om maksimum groei by die kalf te verseker, maar ná hierdie tydperk is alternatiewe bronne nodig om in die kalf se behoeftes te voorsien. Terwyl die kalf slegs melk drink, is die rumen nog onaktief en moet dit gestimuleer word om te begin werk. Kruipvoer is ideaal vir dié doel,” verduidelik sy.

Faktore om te oorweeg

Volgens Ashley is dit nie ’n noodsaaklikheid dat kalwers kruipvoer kry nie, maar dit is wel raadsaam om kruipvoer in die kalfseisoen te oorweeg. Sy sê dit is wel ’n langdurige proses en jy moet die regte geriewe hê, soos kruiphekke wat opgesit moet word sodat die koeie nie by die voer kan uitkom nie, en vars kruipvoer moet ten minste elke tweede of derde dag uitgesit word.

Die belangrikste aspek om te oorweeg is egter die ekonomiese waarde daarvan. Sy beveel aan dat eerstekalfkoeie se kalwers gevoer moet word, omdat dié koeie se melkproduksie oor die algemeen laer as dié van volwasse koeie is. Dit help ook om hierdie diere se liggaamskondisie te spaar. “Dit strek tot voordeel van die eerstekalfkoei se volgende dekseisoen, omdat dié koeie gewoonlik laer besettingsyfers het en dit tot ’n groot mate deur hul liggaamskondisie bepaal word.”

: Die gedagte om kruipvoer te gee het posgevat in ’n poging om koeie ’n blaaskans te gee, sodat hulle gereed kan wees vir die volgende siklus. (Foto verskaf deur Tau Voere)
Die gedagte om kruipvoer te gee het posgevat in ’n poging om koeie ’n blaaskans te gee, sodat hulle gereed kan wees vir die volgende siklus. (Foto verskaf deur Tau Voere)

Vir Ilanie is dit ook belangrik om die voedings- en geldwaarde teen mekaar op te weeg wanneer daar beoog word om kruipvoer te gebruik. “Met kruipvoeding kom die biologiese oorwegings in stryd met die ekonomiese oorwegings, want maksimum groeitempo verseker nie noodwendig maksimum wins nie,” meen sy.

Sy verduidelik dat die koste om een kilogram vleis aan te sit nie die koste van die voer moet oorskry nie. Kruipvoer is wel winsgewend wanneer die kalfprys hoog en voerpryse laag is. Dit het ook ’n groot invloed op die gewig van die kalf as die ruvoergehalte laag is en die melkproduksie van die koeie afneem, soos dikwels die geval in die wintermaande is. Daarom moet al die voor- en nadele oorweeg word voordat kruipvoer sommer lukraak gevoer word.

Die doel van kruipvoer

Ashley sê daar heers dikwels ’n wanpersepsie onder produsente wanneer dit by kruipvoer kom. “Kruipvoer vervang nie die kalf se hele dieet nie. Dit vervang eintlik net ’n gedeelte van die ruvoer wat die kalf vanaf die veld af inneem, en nie die melk wat hy van sy ma kry nie.

“’n Koei se melkproduksie piek tussen 30 en 56 dae. Daarna begin dit afneem vir die res van die laktasietydperk. Dus bestaan ’n kalf se dieet hoofsaaklik uit melk tot op 90 dae. Daarna sal die meeste van die kalf se voedingsbehoeftes deur die veld voorsien word, mits die veld goed is,” sê sy. Kruipvoer kan dan gegee word totdat die kalf gespeen word.

Terwyl die kalf slegs melk drink, is die rumen nog onaktief en moet dit gestimuleer word om te begin werk. Kruipvoer is ideaal vir dié doel.

Voordele vir die kalf

Volgens Ilanie gee kruipvoer ook vir die kalf ’n voorsprong as hy vir die voerkraal bestem is. Omdat die kalf gewoond aan grane gemaak is, sal hy makliker by die voerkraal presteer. Dit help natuurlik ook teen speenskok.

Sy verduidelik dat speenskok gewoonlik ’n massaverlies in die eerste paar weke ná speen tot gevolg het, en die verlore gewig moet dan weer met behulp van duur voeding aangesit word. “Die kalf wat by sy ma leer om kruipvoer te vreet, leer om uit ’n kruip te vreet en is minder vatbaar vir speenskok,” sê sy.

Lees meer oor hoe ‘n karobboom die omgewing en diere kan help tydens droogte hier.

Kruipvoer in ’n goeie reënjaar

Die afgelope jaar het Suid-Afrika baie goeie reënval geniet. Op die oog af is daar volop weiding in die veld beskikbaar en baie produsente sien dit as ’n blaaskans vir die bankrekening, deurdat hulle nou op kruipvoeding kan bespaar. Ashley sê egter dat ’n goeie reënjaar nie noodwendig gehalte weiding meebring nie en daar steeds kruipvoer gegee moet word.

“Alhoewel die gras gedurende goeie reënjare dig staan, kan dit ook beteken dat die voedingswaarde van die veld laer is as tydens ’n gewone reënjaar. Dit is belangrik om in so ’n jaar kruipvoer te voorsien, omdat koeie minder voedingstowwe uit die veld kan benut en melkproduksie en -gehalte ook swakker kan wees. Die gras se voedingswaarde is dus ook laer vir die kalwers. Daarom is ’n aanvulling op die veld belangrik.”

Ilanie beaam dit en voeg by dat die kalfseisoen in die somerreënvalstreke gewoonlik in die lente is. Wanneer die kalwers dan ongeveer twee maande oud is, is hoë-gehalte weiding op die veld beskikbaar. Wanneer die koei se melkproduksie begin afneem, sal die kalwers begin wei. “In hierdie geval sou ek ’n goeie produksielek vir die koeie aanbeveel en kruipvoer vir die kalwers om koste te bespaar,” meen sy.

Lees meer oor hoe om droogtebeplanning deel van jou weidingstrategie te maak.

Die ideale kruipvoer

Ashley en Ilanie is dit eens dat kruipvoer sekere elemente moet bevat om in die kalf se behoefte te voorsien. In die eerste plek moet dit hoog in proteïen wees, veral deurvloeiproteïen, en 12 tot 18% ruproteïen op ’n droëmateriaalbasis bevat. Die ruproteïen moet ook ’n natuurlike proteïenbron insluit, wat belangrik vir die kalf se groei en ontwikkeling is. Verder moet dit ook ’n goeie energiebron soos mieliemeel en melasse of lusern bevat, om inname te bevorder.

Beide meen dat kruipvoer ’n wetenskaplik-bewese positiewe bydrae tot veeproduksie lewer, en as dit reg bestuur word, kan dit vir die teler meer geld in die sak besorg. Daarom is dit wenslik om die somme te maak indien jy ’n goeie kalweroes wil bemark. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Ashley Grimsell van Voermol Voere by 083 296 8368 of Ilanie Wessels van Tau Voere by 076 215 5957.