Voermol: 60 jaar van uitnemendheid

Estimated reading time: 4 minutes

Voermol Voere vier vanjaar sy 60ste bestaansjaar. Tradisioneel is die edelsteen wat ‘n 60ste bestaansjaar verteenwoordig, ‘n diamant. Daarom is dit gepas dat Voermol onlangs met ses PMR.africa Diamond Arrow-toekennings vir uitnemendheid in die veevoerbedryf bekroon is.

Tot en met 1958 was die verwydering van melasse ‘n uitdaging vir die Tongaat Sugar Company, wat gepoog het om dit uit te voer, dit in 200ℓ-dromme te verkoop en dit as kunsmis te gebruik. Peter Boyes, ‘n ingenieur, en dr Geoff Cleasby, ‘n landboukundige, is die taak opgelê om ‘n werkbare oplossing te vind vir die wegdoening van melasse en bagasse, wat albei neweprodukte van die suikerverwerkingsproses is. Melasse was egter ‘n moeilike produk om te hanteer en die uitdaging was om dit na ‘n veevoer om te skakel wat maklik gevoer kon word.

Van ‘n nederige begin tot veevoerreus

Peter en Geoff het begin eksperimenteer, en Peter het sy vrou gevra om ‘n worsmasjien by ‘n slagter in Tongaat te gaan haal. Die mengsel van melasse en bagasse is aan ‘n paar boerevriende gegee om hul vee te voer, wat dit geredelik gevreet het. Teen 1962 was die proses voldoende ontwikkel om die bou van ‘n proefaanleg agter die suikermeule se bagasse-skuur moontlik te maak.

Gedurende dieselfde jaar is die eerste sakke Voermol-meel vervaardig. Voermol Voere het die eerste maatskappy in Afrika, en moontlik die wêreld, geword om ‘n kombinasie van melasse en bagasse suksesvol te kommersialiseer. So het die maatskappy melasse omgeskakel, van ‘n moeilik-hanteerbare produk na een wat gerieflik op sy eie gevoer of in ander voere gemeng kon word.

Melasse is nie net ‘n goeie bron van energie, met vitamien B en spoorminerale nie, maar is ook ‘n goeie bindmiddel en baie smaaklik. Gevolglik word die voer se stowwerigheid verminder, wat daartoe lei dat vee ‘n meer gebalanseerde inname behaal, aangesien hulle minder geneig is om selektief te vreet.

‘n Nuwe maatskappy, genaamd die Moreland Molasses-maatskappy, is op 4 Augustus 1962 gestig. Douglas Saunders, voorsitter van die Tongaat Sugar Company, het destyds aangekondig dat Tongaat se ‘bulkalf’ gebore is. Die nuwe maatskappy se naam is later na Voermol Produkte Bpk, toe na Tongaat Milling (Edms) Bpk en uiteindelik na Voermol Voere verander.

Op 27 April 1990 is ‘n kontrak met Robinson-MacForman Milling (Edms) Bpk onderteken, vir die bou van ‘n nuwe produksie-aanleg vir Voermol Voere om die kompleksiteit van nuwe produkte en groei in volume te hanteer. Sowat nege maande later, aan die einde van Januarie 1991, is Voermol-meel in die nuwe fabriek vervaardig.

Merkwaardige mylpale vir Voermol

Van Voermol se mees noemenswaardige prestasies in die veevoermark tot dusver, sluit in:

  • Die bekendstelling van vloeibare voere in die vroeë 1960’s.
  • Baanbrekerswerk in die gebruik van droëseisoen-onderhoudslekke.
  • Voeding van heel mielies in beesvetmes-diëte.
  • Verpakking van vloeibare voere in houers as ‘n gereed-vir-gebruik vloeibare voer vir graanverryking.
  • Die ontwikkeling van ‘n eenvoudige, maklike kafeteria-stelsel vir die vetmaak van vee vir plaasvoerkrale.
  • Die ontwikkeling van die Beefmaker-stelsel, wat ad lib. voer van ‘n kragvoer behels. Dit stel die produsent in staat om sy eie mielies te gebruik, sonder dat enige maal of vermenging nodig is.
  • Die bekendstelling van byvoeding vir droë- en natseisoenweiding in blokvorm. Hierdie blokke is maklik om te hanteer, gereed om te gebruik en verskaf ‘n wye reeks noodsaaklike spoorminerale.

Voermol bied vandag ‘n uitgebreide reeks produkte wat wetenskaplik geformuleer is om aan die voedingsbehoeftes van herkouers tydens verskeie produksiestadiums, en op alle soorte weiding, te voldoen. Die doeltreffendheid van Voermol se produkte en kostedoeltreffende voerstelsels is telkens in die bedryf bewys.

As ‘n leier in die herkouervoerbedryf, is Voermol verbind tot die ontwikkeling van kommersiële en ontluikende veeboerderysektore, wat die produktiwiteit van bees-, skaap-, bok- en herkouerwildprodusente verbeter.

Popular stories