Estimated reading time: 7 minutes
In Veeplaas se Julie-uitgawe is goeie skeerpraktyke van nader bekyk en die nodige voorbereiding en skeeromgewing van skape en Angorabokke ondersoek, tesame met die menslikheidsfaktor en die omsien na skeerders se algemene behoeftes.
Ter aansluiting by die onderwerp van goeie skeerpraktyke het Paul Lynch, direkteur van die Suid-Afrikaanse Wol- en Bokhaarkopersvereniging (Sawamba), tydens vanjaar se Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV)-kongres die opmerking gemaak dat Suid-Afrikaanse produsente alles in hul vermoë moet doen om die wolbedryf op sy voete te hou, en die welsyn van werkers en skeerders te prioritiseer.
In hierdie uitgawe kyk ons na skeerwerksure en -metodes, en wat gedoen kan word om sake in die skeerskuur sodanig te bestuur, dat produsente en skeerders albei daarby baat vind.
‘n Beroep wat hoë eise stel
As skeeropleidingsbestuurder by die NWKV en met jare se ondervinding in die skeerkraal, sê Izak Klopper onomwonde dat om skape of bokke te skeer, baie harde werk is en dat dit hoë eise aan ’n mens se liggaam en psigiese welstand stel.
Hy verwys na ’n studie wat deur die Universiteit van Wes-Australië gedoen is op ’n skeerder van Australië wat ’n nege-uurlange skeerrekord opgestel het. Ten spyte daarvan dat hy twaalf liter water gedurende die nege ure ingeneem het, het hy vier kilogram verloor, wat ’n vloeistofverlies van sestien liter (1,8ℓ/uur) aangedui het. Dit is drie keer meer as dié van ’n ultramarathon-atleet wie se liggaam vir dieselfde tydperk onder stremming geplaas word, maar selde meer as 0,5ℓ/uur verloor.
Baie mense sal ook saamstem dat dit volgehoue toewyding en deursettingsvermoë verg om in ’n omgewing te werk waar geen twee dae dieselfde is nie en waar hoë fisiese eise gestel word. Uit hierdie oogpunt is dit te verstane dat die skeer van bokke en skape nie aldag maklik kan wees nie.
“Hoewel skeerders meer as die voorgeskrewe minimumloon verdien, is hulle opgelei om ’n taak te verrig waarvoor Jan Alleman nie sommer kans sien nie,” sê Izak. “As jy na die algemene profiel van ’n skeerder kyk, vind jy ’n ambagsman wat ’n moeilike fisiese vaardigheid aangeleer het om ’n goeie inkomste vir hom en sy gesin te verdien, mits hy daagliks agt ure lank produktief werk. Só iemand is dikwels ook vir lang tydperke weg van die huis af.”
Bied skeer ’n goeie inkomste?
’n Gemiddelde skeerder se skeerspoed per skaap wissel na gelang van die kondisie en toestand van die diere wat hy skeer. Hy neem dalk drie tot vier minute om ’n gematte of verpotte skaap te skeer, maar kan ’n skaap wat in goeie kondisie is, binne 1,5 tot 2,5 minute afskeer.
Indien ’n skeerder gemiddeld 2,5 minute per skaap skeer, kan hy 192 skape in ’n dag van agt ure skeer. Teen R6,50 per skaap, gee dit hom ’n daaglikse inkomste van R1 248 en ’n maandelikse inkomste van R24 960 as hy 20 dae per maand werk.
Volgens Izak lyk die ware prentjie egter anders, omdat die meeste skeerspanne nie agt ure per dag skeer nie. Tabel 1 toon ’n vergelyking van inkomste per dag en maand van verskillende werksuurbenaderings.

Verdeling van skeerskofte
In Australië en Nieu-Seeland is bewys dat die meeste skape per dag geskeer word wanneer die skeerdag in vier skofte van twee uur verdeel word (Tabel 2).

Hierdie verdeling stel produsente in staat om die skeerspan se potensiaal per dag ná die eerste twee uurlange skof te bepaal, wat help met die beplanning van die naderbring van skape. Die skeerder kan ’n doelwit stel van die hoeveelheid skape wat hy per dag wil skeer en só sy daaglikse skeerkapasiteit verhoog soos wat sy vaardigheid mettertyd toeneem. Die rusperiodes tussenin gee skeerders die kans om hul kragte telkens te herwin.
Optimale geriewe en toerusting
Wat skeergeriewe en -toerusting betref, kan baie gedoen word om te help dat die mikpunt van agt ure per dag gehaal word.
Eenrigtingverkeer in die skuur is ’n moet. Skape moet by een deur inkom en by ’n ander deur uitgaan. Dit verhoed dat ’n bottelnek ontwikkel van ongeskeerde skape wat moet wag vir die klaargeskeerde skape voordat hulle ingejaag kan word. Hier kan ’n skeerplatform baie help. Die ongeskeerde skape kom dus op die een vlak in en verlaat die skuur op ’n ander vlak.

Individuele vangkrale voorkom dat tyd verloor word met die uitsoek van skape, en ’n aparte inspeksiekraal vir elke skeerder verseker die gehalte van skeerwerk wat gelewer word. Maak voorsiening vir ’n werker wat die skape nader kan bring as daar ’n gemeenskaplike vangkraal is waar die skape ver gehaal moet word na die skeerpunt toe. Onderverdeel die gemeenskaplike kraal sodat die ongeskeerde en klaargeskeerde skape geskei kan word – dit maak dit makliker om ’n ongeskeerde skaap te vang. Maak ook voorsiening vir genoeg onderdakspasie om minstens een volle skeerdag se skape droog te hou.
Skeerders se toerusting moet in ’n goeie werkende toestand wees en spaaronderdele van items wat geneig is om probleme te gee, moet saamgeneem word. Skeertoerusting moet altyd skerp wees om die wol behoorlik te sny. Dit moet smiddae ná werk geslyp word om vir die volgende dag gereed te wees.
Kam-seleksie is baie belangrik om te verseker dat ’n skeerder sy ritme behou, die skape pynloos geskeer word en die wol eenvormig in lengte gesny word. Stomp toerusting sal die wol pluis en ongemak by skape veroorsaak. Kamme en skaapskêre moet dus korrek voorberei word, sodat indringing in die wol met so min as moontlik moeite plaasvind.
Toerusting met skerp punte haak weer maklik aan ’n skaap se vel was en veroorsaak ongemak, sodat die dier nie sal stilsit nie. Dit het tot gevolg dat die skeerder meer energie vermors en minder skape per dag skeer.
Vasting van skape voor skeer
Die vasting van skape kan tot voordeel van die produsent, skeerder en die skape of bokke wees. Izak stel die voor dat skape eerstens in ’n kaal kampie, waar die plantegroei minder as 10mm hoog is, gehou moet word, voordat hulle in die skeerskuur ingejaag word vir die nag. Skape moet eers teen laatmiddag in drooghougeriewe ingejaag word.
Die gereelde beweging van die diere in die kampie stimuleer en versnel urinering en ontlasting, sodat die meeste urine en mis reeds buite die skeerskuur uitgeskei word. Dit beperk die moontlikheid van wolbesoedeling weens mis en urine in die skeerskuur.
Skape wat leeggemaak is, ervaar ook nie asemnood en ongemak tydens die skeerproses nie. Hulle sit gemaklik en stil, wat die moontlikheid van beserings onder skeerders en wolwerkers beperk. Daarbenewens is leeggemaakte skape ook baie ligter, wat die risiko van rugbeserings by skeerders verminder.
Izak beveel egter aan dat produsente hul skape nie vir té lang tye van kos en water ontneem nie, omdat dit tot metaboliese steurnisse kan lei. – Carin Venter, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak Izak Klopper by 082 446 2162 of izak@nwga.co.za. Kontak die outeur vir bronverwysings, by carin@plaasmedia.co.za.

