Estimated reading time: 6 minutes

Baie mense besef nie dat die afskeer van wol nie nét aanvullend tot ’n skaapprodusent se inkomste is nie, maar ’n noodsaaklike maatreël is om die diere gesond en produktief te hou. ’n Skaap wat sy volle vag moet dra, sal byvoorbeeld baie gou warm kry in temperature bo 21°C.

Anders as die Wiltipoll wat uit die Australiese Wiltshire Horn-skaapras ontwikkel is, asook ’n paar haarbedekte skaaptipes, kan die meeste skape nie self die wol op hul lyf afskud nie. Hulle moet dus geskeer word en daarom is goeie skeerpraktyke hoog bo-aan die lys van biosekuriteitsmaatreëls in die veselbedryf.

Die skeer van skape en Angorabokke raak egter ’n duur operasie en skeerders in Suid-Afrika moet goed opgelei word om die taak so kostedoeltreffend as moontlik te verrig. Op hierdie gebied speel die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) ’n onmisbare rol.

Die wêreld van skeerders

“Om ’n skaap of Angorabok te skeer, verg inspanning en goeie tegniek – iets wat nie oornag bemeester kan word nie,” sê Izak Klopper, skeeropleidingsbestuurder by die NWKV.

Dit is moontlik om ’n lonende beroep as ’n skeerder te hê, soos Zweliwile Hans en Mayenseke Shweni – hier in aksie by die 2014 Wêreldskeerkampioenskap in Ierland.

“Dit gaan egter nie net oor skeerderopleiding en om die nodige ervaring op te doen nie. Goeie skeergeriewe en die toestande waaronder skeerders werk, word dikwels afgeskeep – iets wat ’n skaapskeerder kan maak of breek. Selfs die kleinste gebaar van menslikheid, soos om aan die einde van die werksdag ’n paar minute lank met die skeerders te gesels, kan ’n groot verskil aan hul produktiwiteit en ingesteldheid teenoor die werk maak.

“In Suid-Afrika sal ’n gemiddelde skeerder sowat 100 skape per dag skeer teen ongeveer R6,50 per skaap. Met 20 werksdae per maand, sal dit hom R13 000 per maand in die sak bring. Die werklikheid lyk egter in baie gevalle anders, omdat skeerders in Suid-Afrika baie minder as hul eweknieë in Australië en Nieu-Seeland verdien.

Themba Khoza by die 2014 Wêreldskeerkampioenskap in Ierland.

“Ten spyte daarvan dat die meeste skeerders werklik wíl skeer, word baie van hulle genoop om ’n beter of makliker werk vir meer geld te aanvaar.

“Byvoorbeeld, as jy na die gemiddelde skeerder se inkopielys kyk, sal dit basiese huishoudelike middele insluit soos paraffien, meel en brood, of skoolgeld en dalk ’n begrafnispolis. Verder moet ’n skeerder ook sy eie skeertoerusting in stand hou,” sê Izak.

’n Groot verskil met min moeite

Indien ’n produsent daarop ingestel sou wees om die skeergeriewe op die plaas só in te rig dat die skeerproses klopdisselboom verloop en daar goeie basiese akkommodasie vir skeerders is, kan dit ’n reuse-verskil aan ’n skeerder se produktiwiteit maak.

Dit kan hom help om met gemak agt ure lank te werk en tot soveel as 200 skape per dag te skeer. Dit beteken dat hy ’n skaap binne slegs twee-en-’n-half minute netjies klaar sal kan skeer.

“Min skeergeriewe in Suid-Afrika kan by die funksionaliteit van skeergeriewe in Australië en Nieu-Seeland kers vashou, omdat min plaaslike produsente werklik al aan die idee blootgestel is dat ’n eenvoudige aanpassing aan die skeerskuur, die skeerproses aansienlik kan vergemaklik.

“Sodra ’n mens net ’n bietjie anders begin dink, is daar ’n klomp dinge wat gedoen kan word om die skeerders se produktiwiteit te verhoog en daarby jou inkomste as produsent,” sê hy. “Jy kan, byvoorbeeld, eenrigtingverkeer van skape in jou skuur bewerkstellig, wat sake heelwat sal vergemaklik.”

Ander aanpassings wat ’n verskil kan maak, sluit in:

  • ’n Hout- in plaas van sementskeervloer, wat die impak op toerusting wat val, sal verminder.
  • ’n Hortjiesvloer waar die mis en urine dreineer, wat die kans op wolbesoedeling verminder. Dit plaas onmiddellik ’n premie op die produsent se wol.
  • ’n Paar hekke om die vanghok te onderverdeel, die oppervlakte te verklein, en die wol- en kaalgeskeerde skape in aparte kraaltjies te sit.
  • Kleiner vangkraaltjies van sowat 2,5×2,5m, met hekkies, sodat die skeerder die skaap nie so ver hoef te beweeg om by die skeerpunt uit te kom nie. Hy spaar dus sy energie om meer skape te kan skeer.

Berei voor vir die skeerseisoen

Die voorbereiding van skeergeriewe is ’n baie belangrike aspek van ’n Angora- en wolprodusent se beplanning. Ongelukkig word hierdie deel van die proses soms tot op die laaste minuut uitgestel. Volgens Izak maak goeie voorbereiding deel uit van skeerpraktyke wat by jou plaas se biosekuriteitmaatreëls inskakel. Dít is op sigself ook ’n premie vir die volhoubaarheid van jou boerdery.

Voorbereiding vir die skeerseisoen kan in verskeie fases en fasette opgedeel word:

Voor skeertyd:

  • Beplan skeertyd sodat dit nie met ander boerdery-aktiwiteite oorvleuel nie.
  • Kommunikeer met jou skeerkontrakteur sodat hy presies weet wat jou behoeftes is en hoeveel skape jy per dag kan/wil skeer. Dit sal help met die samestelling van die skeerspan, soos die aantal skeerders, wolwerkers en klassers wat nodig sal wees.
  • Bring die skape in ver kampe nader, sny verfmerke uit en verwyder boetebos en kankerroos uit die wol.
  • Maak die skeerskuur, hanteringsgeriewe en skeerderkwartiere skoon en netjies.
  • Ontsmet die skeerskuur betyds met formalien, Jeyes Fluid, Virikons S of F10, sodat skerp dampe reeds uit skeerskuur is voordat die skeerspan arriveer.
  • Maak voorsiening vir genoeg woltafels en -bakke.
  • Diens die wolpers vooraf en lei personeel op wat die wolbale gaan pers.
  • Reël genoeg arbeiders sodat die skeerproses glad kan verloop.
skeerpraktyke
Elliott Ntsombo is al vier keer as die Wêreldkampioen-handskeerder aangewys.

Wanneer die skeerspan arriveer:

  • Kommunikeer die reëls wat op die plaas geld met die skeerspan en maak seker dat almal dit verstaan.
  • Wys skeerderkwartiere aan die spanleier en verduidelik alles van belang aan hom.
  • Voorsien ’n ontsmettingsmiddel vir skeertoerusting.
  • Sorg dat skeerders met skoon klere begin werk.
  • Verduidelik aan die hoofklasser hoe hy die wol vir jou moet klas.

Tydens die skeerproses:

  • Maak skape leeg voor skeer. Volgevrete skape sit ongemaklik, ervaar maklik asemnood en skop onnodig, wat beserings en skade aan toerusting kan veroorsaak.
  • Vervang daagliks die ontsmettingsmiddel in waterbakke.
  • Beplan ’n werkdag in vier twee-uurlikse skofte.
  • Voorsien arbeid om skape nader aan die skeerpunt te bring as daar nie individuele vangkrale vir elke skeerder is nie.
  • Ná die eerste twee-uurlikse skof, beraam die skeertempo van die span om die naderbring van skaaptroppe te beplan.
  • Skeerders moet siek skape, baaltou in die wol en swart wol aanmeld.
  • Behandel enige skeerwonde as ’n prioriteit.
  • Doen gehaltebeheer (individuele inspeksiekrale help baie).
  • Skeer jong skape altyd eerste om siekte-oordrag van ouer na jonger diere te voorkom.

Voorkom besoedeling:

  • Verwyder alle baaltou en voersakke uit die skeerskuur vóór skeertyd.
  • Skeerders mag nie in die skeerskuur slaap nie.
  • Hou honde uit die skeerskuur.
  • Skeer die suiwer wolrasse eerste.

Lees ander artikels oor wol.

Lees die Veeplaas-artikel waar ons skeerwerksure en -metodes om skeerwerk vlot te laat verloop, van naderby bekyk. – Carin Venter, AgriOrbit

Vir meer inligting, kontak Izak Klopper by 082 446 2162 of izak@nwga.co.za.

orf, skeerpraktyke