Sunday, March 9, 2025
HomeAgri NewsZim maak grense oop vir vee vanaf SA

Zim maak grense oop vir vee vanaf SA

Estimated reading time: 3 minutes

Organisasies binne die rooivleisbedryf werk hard agter die skerms om die pad gelyk te maak vir rolspelers in die waardeketting en die resultate begin die een na die ander na die oppervlak stoot.

Laat verlede jaar is bekend gemaak dat bulsemen na Namibië uitgevoer mag word. Dit was maar een van die deurbrake wat bereik is.

Die tweede deurbraak was die onlangse bekendmaking dat lewendige skape, beeste en bokke in die toekoms na Zimbabwe uitgevoer mag word. In ’n persverklaring wat dr PV Makaya, direkteur van die Direktoraat Veeartsenydienste in Suid-Afrika, op 7 Januarie uitgereik het, maak hy bekend dat lewendige vee en hul produkte, wat vanaf Gauteng, Noordwes, Noord-Kaap en Wes-Kaap kom, in die toekoms na Zimbabwe uitgevoer mag word.

Die wiel draai stadig

James Faber, voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), is baie opgewonde oor hierdie mylpaal wat bereik is. Hy noem dat dit ’n lang en tydsame proses is. “Zimbabwe is dalk nie die grootste koper van lewendige vee uit Suid-Afrika nie, maar dit is beslis ‘n tree in die regte rigting. Die deure is stadig maar seker besig om oop te gaan vir die rooivleisbedryf,” sê hy.

Bedryfsorganisasies soos die RPO en veral dr Pierre van Rooyen wat baie betrokke is by die uitvoer van rooivleis, het al meer druk op die regering geplaas. Sodoende kon die Minister van Landbou, John Steenhuisen, sy eweknie in Zimbabwe oortuig dat daar sekere provinsies in die land is wat tans geen aktiewe gevalle van bek-en-klouseer het nie, en dus sonder risiko kan uitvoer.

Volgens die ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Zimbabwe, sal elke dier wat uitgevoer word deur die staatsveearts gesertifiseer moet word, wat bevestig dat die dier wel uit die goedgekeurde provinsies kom.

Naspeurbaarheid bly ’n prioriteit

Faber meen hierdie stap beklemtoon net weer die belangrikheid om die naspeurbaarheidsplatform wat die RMIS beskikbaar stel, so spoedig as moontlik in volle swang te kry. Die proses is vinnig besig om spoed op te tel en al meer rolspelers in die bedryf raak betrokke, maar volgens Faber moet elke rolspeler betrokke raak ten einde uitvoere te bevorder.

Die naspeurbaarheidsplatform is daarop gerig om Suid-Afrikaanse produksiegebiede in kompartemente te deel en dit is juis hierdie beginsel wat die deurbraak gegee het vir hierdie sukses om lewendige diere na Zimbabwe uit te voer.

Gauteng gaan een stap verder

Die provinsies wat die groenlig gekry het, is ook versigtig om nie hul status te verloor nie.

Die Departement Landbou en Landelike Ontwikkeling in Gauteng, het ook sommer die daad by die woord gevoeg en ’n persverklaring uitgereik waarin hulle ’n beroep doen op alle veilingshuise in Gauteng om geen vee vanuit die bek-en-klouseer gebiede van KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap, Limpopo en Mpumalanga te aanvaar nie en dat hulle deeglik bewus moet bly van die risiko om dié siekte verder in die provinsie te versprei.

In die verklaring verduidelik dr Wynton Rabolao, waarnemende direkteur van Gauteng se Veeartsenydienste, dat daar tans twee provinsie is met aktiewe bek-en-klouseer-uitbreke, naamlik KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Hy sê die risiko in Gauteng is groter as ander provinsies omdat baie boere hul beeste, skape en bokke in Gauteng by veilingshuise kom verkoop ten einde ’n beter prys vir die diere te kry. – Koos du Pisanie, Plaas Media

Must Read

RSG Landbou: 6 Maart 2025 – geborg deur Pioneer

Die slaglamkompetisie by die Williston Skou was weereens ‘n groot sukses. In vanoggend se RSG Landbou hoor ons by DeWitt Hodgsen wie was vanjaar...