Estimated reading time: 3 minutes
Vrystaat Landbou (VL) vermoed dat Lesotho se inwoners besig is om doelbewus veldbrande op plase langs die Suid-Afrika/Lesotho-grens te stig.
VL skoei dié bewering op die feit dat sewe veldbrande tussen Maandag 14 Julie en Woensdag 16 Julie binne ’n radius van 20km in die Boesmanskop-gebied naby Wepener en Zastron ontstaan het. Buiten vir die verlies aan weiding, vee, en infrastruktuur is die landbou-unie ook besorg oor die produsente se veiligheid en oorlewing.
“Grensboere leef daagliks met die vrees dat hul plase en families die volgende teiken gaan wees. In 2024 moes hierdie boere 57 brande in net twee maande bestry – almal glo kwaadwillig deur Basoetoes gestig,” sê dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-ontleder van VL.
Volgens Gerard Jordaan, ’n produsent van Boesmanskop, bestaan daar onder sommige Lesotho-inwoners ’n wanpersepsie dat die velde afgebrand moet word om nuwe, groen weiding na die eerste reën te verseker. “Hulle jaag dan hul vee oor die grens om op Suid-Afrikaanse plase te kom wei – wat onwettig is.”
Owerhede se hulp ingeroep
Dr Buys bevestig dat Vrystaat Landbou reeds ’n dringende versoek aan die provinsie se LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, die departement van paaie en vervoer, die Suid-Afrikaanse nasionale weermag (SANW), en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPS) gerig het om met hul eweknieë in Lesotho te skakel sodat bewustheid in dorpe en nedersettings in Lesotho geskep kan word oor die wetteloosheid en gevolge van hierdie brande. “Boere spandeer waardevolle tyd om brande te probeer blus, eerder as om hul boerderybedrywighede voort te sit,” sê dr Buys.
Olie op die vuur
Die probleem word verder vererger deurdat die Working on Fire (WoF)-span in Van Stadensrus nie die grensboere kan bystaan nie omdat die grenspad heeltemal onbegaanbaar is. Dit maak dit onmoontlik vir noodvoertuie en toerusting om die betrokke gebiede te bereik. VL het die probleem rondom toegangsroetes reeds verlede Augustus onder provinsiale leiers se aandag gebring toe die Vrystaatse LUR vir gemeenskapsveiligheid, paaie en vervoer, Jabu Mbalula, en die Vrystaatse LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake, Elizabeth Rockman, die area besoek het.
Buys sê hierdie brande – en die groter konteks van grensmisdade – bevestig dat grensboere in die steek gelaat word deur die regering en sy strukture. “Hulle moet self toesien na hul veiligheid, brande bestry, paaie in stand hou en steeds kos produseer.”
VL het daarom versoek dat die minister van openbare werke die grenspad se herstel moet prioritiseer. “Sonder toegang tot die grens kan brande onbeheerbaar raak en selfs tot lewensverlies lei,” waarsku dr Buys. Dr Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, raai alle boere aan om paraat te wees te midde van die naderende veldbrandseisoen, en om aktief in te skakel by hul plaaslike brandbeskermingsvereniging (BBV). – VL persverklaring geredigeer deur Plaas Media


