Peter en Francy Schoeman van die skaapplaas Langbaken in die Williston-omgewing, het die afgelope paar jaar vir hulself naam gemaak met kaas wat hulle in die middel van die Karoo onder die handelsnaam Langbaken Karoo Cheese produseer.

Die afgelope dekade het al hoe meer nasionale en internasionale koskenners dié boetiekkaas ontdek en word dit elke jaar hoog aangeprys. Name soos Williston Kaas, Karoo Sunset, Karoo Swiss en Karoo Crumble, is maar ’n paar van die kase wat bekende sjefs graag gebruik.

Dit is nie maklik om met melkbeeste in die Karoo te boer nie, maar ’n boer maak altyd ’n plan. Peter het vir hom ’n aanleg opgesit waar hy spruite vir die beeste kweek. Dit verskaf sowat 300kg voer per dag.

Die idee om kaas te maak te midde van die uitmergelende droogte in die Karoo mag vir baie na ’n moeilike uitdaging klink, maar vir hierdie egpaar is niks onmoontlik nie. Wat begin het as ’n stokperdjie, het in ’n volwaardige produksieketting op die plaas ontwikkel.

Francy vertel dat hulle kaasmakery reeds voor hul huwelik begin het. Sy is ’n opgeleide sjef en om iets nuuts op te tower, het haar nog altyd gefassineer. Peter was die bestuurder van ’n melkplaas in die Greyton-omgewing en dit is waar hulle storie begin. Sy het ’n belangstelling in kaas ontwikkel en met die hulp van Eddie Bestbier, ’n kenner op die gebied van boetiekkase, het sy meer daaroor geleer.

Soos alles het die kaasmakery ook maar sy tandekry-probleme gehad, maar hulle het deurgedruk en met hul agtergrondkennis van melkboerdery en kosmaak, kon hulle gou dié probleme oplos.

Klein begin, groot gewin

Peter vertel dat sy ouers in Williston geboer het en hy graag die skaapboerdery wou oorneem. In 2010 het hulle Karoo toe verhuis. Omdat Francy met haar kaasmakery wou voortgaan, het hy tien dragtige Jerseys by sy vorige werkgewer gekoop en dit was die begin van kaasproduksie op Williston.

Hy vertel ook dat Eddie hulle kom help het met idees oor watter veranderinge aan die bestaande geboue op die plaas gemaak moes word, sodat hulle ’n volwaardige produksie-aanleg kon inrig.

’n Skamele drie jaar later het hulle hul eerste toekenning vir gehalte ontvang. Daarna het hul kaas verskeie ander toekennings ingepalm. In 2015 het hulle onder meer op die Wêreld-Jerseykaaskampioenskap goud en silwer toekennings verower en in 2018 ’n brons in dieselfde kampioenskap. Hulle spog ook reeds met vier Qualité-toekennings.

Laasgenoemde is toekennings vir uitstaande Suid-Afrikaans vervaardigde suiwelprodukte, wat tydens die Suid-Afrikaanse Suiwelkampioenskap aan vervaardigers toegeken word wat ’n sekere minimum punt op die internasionale mark behaal het. Hulle was ook verskeie kere die kampioene in hul kategorieë tydens dié kampioenskap.

Die besluit op Jerseys

Peter vertel dat hulle aanvanklik kaas van skaapmelk wou maak, maar dit was nie so maklik nie. Hulle het daarom besluit om met Jerseys voort te gaan.

Francy sê sy sal nie sommer ’n ander melkras gebruik nie. Die Jersey se melk is uitstekend geskik vir die doel. Verder het die ras ’n rustige geaardheid, hulle pas maklik by die warm en droë Karoo-omstandighede aan en die koeie het uitstekende moedereienskappe. Volgens haar is dit soveel makliker om ’n klompie koeie te versorg as om na ’n trop bokke of skape te kyk.

kaas
Peter sê die Jersey is ’n ideale melkbeesras om mee te boer. Buiten hul uitstekende melkproduksie, is dié beeste baie mak en sonder ernstige siekteprobleme.

Peter stem hiermee saam. Hy sê die Jersey is ’n maklike ras om mee te boer. Volgens hom is die Jerseykoei se bekken wyer en haar bouvorm van so ’n aard dat sy baie selde kalwingsprobleme gee. Die kalf is ook van jongs af gewoond daaraan om deur mense grootgemaak te word.

Hy sê die Jerseys is al jare deel van die alledaagse bestaan in die Karoo, toe feitlik elke plaas Jerseys gehad het wat melk moes voorsien. Dit is ook reeds bewys dat dit die ideale melk is om kaas mee te maak, omdat die bottervet ver bo 5% is. Die volumes mag dalk kleiner as by ander rasse wees, maar die gehalte van die melk is uitstekend vir die doel waarvoor hy dit aanwend; Langbaken Karoo Cheese fokus juis nie op volume nie, maar op gehalte.

Die voerstelsel

Hulle vertel ook dat jou beste kase gewoonlik van goeie weiding afkom. Omdat hulle dit nie het nie, het Peter vir hom ’n hidroponiese stelsel opgesit waar hy spruite kweek wat vir die beeste gevoer word. Hierdie spruite het ’n hoë voedingswaarde en lewer sowat 300kg voer per dag, wat hy saam met gehalte lusern vir sy beeste voer. Op dié manier kan hy ’n gebalanseerde rantsoen verskaf.

“As die voedingswaarde nie goed genoeg was nie, sou ons kaas dit al gewys het. Die geheim lê in jou produksiemetode. As die spruit op ’n sekere punt kom, is die voedings- of proteïenwaarde op sy beste, maar as dit verby daardie stadium beweeg, verlaag dit weer,” verduidelik hy.

Hy sê ook die voer is ideaal as jy ’n ou skaapooi wil voer met die doel om nog een lam groot te maak voordat sy geslag word. “Daardie ou ooi het ’n doel op die plaas. Sy het al vir jou vier of vyf lammers grootgemaak, maar as sy geslag moet word, dan is dit baie goeie voer om haar in die regte kondisie te kry om nog ’n lam groot te maak,” sê hy.

As die koeie droog is stuur hy sy beeste veld toe, maar sodra hulle in melk kom word hulle weer gevoer. “Dit is duur om lusern aan te koop, maar ons prys op die kaas laat dit toe dat ons hierdie duurder proses kan handhaaf.”

Aanpasbaarheid in die Karoo

Die Jerseys pas baie goed by die hitte van die Karoo aan. Jerseys is nie geskik vir die bossieveld nie en hoewel hulle nie in die veld sal aanpas nie, het hulle tog goed by die hitte van die omgewing aangepas. Dit is bekend dat hitte een van die grootste stresfaktore vir beeste is, maar Peter en Francy het gesorg dat daar genoeg skaduwee vir die beeste is, sodat hulle nie nodig het om in die veld te loop en soek na weiding nie. Op dié manier gebruik hulle minder energie.

Francy glo ook dat daar ’n verskil tussen die droë hitte van die Karoo en die klam hitte, met hoë humiditeit, van gebiede soos die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal is. Die Karoo-hitte is nie so ’n groot faktor by die Jerseys nie.

“ ’n Melkbees loop ’n liter op ’n kilometer, so as hulle ver na hul weiding moet loop, gaan jy dit gou aan die verlaagde melkproduksie sien. Ons het ook al ervaar dat as die melkproduksie begin daal, weet ons daar is iewers ’n probleem – dit kan enige faktor van die hitte tot die voer wees. In die meeste gevalle is dit as gevolg van die voermengselsamestelling,” gesels Peter.

Vir Francy is Langbaken Karoo Cheese ’n avontuur waarna sy elke dag uitsien en sy soek telkens na ’n nuwe naam of produk. Vir Peter is dit ’n ewe groot uitdaging om, saam met die verantwoordelikhede van sy skaapboerdery, sy Jerseykoeie in goeie kondisie te hou. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak Peter of Francy Schoeman by 082 550 4981 of 053 3914 141.