HomeMagazinesWetenskap wat wins lewer

Wetenskap wat wins lewer

Estimated reading time: 4 minutes

Tegnologie is deesdae volop in die landbousektor. Dis egter nie altyd die moeite werd nie, en is dikwels net so nuttig soos die kundigheid van die gebruiker.

Catriona Millen, voorligtings- en betrokkenheidspanleier by BREEDPLAN, sê hierdie moderne genetiese evaluasiestelsel bied aan beesprodusente verskeie voordele indien dit reg aangewend word. BREEDPLAN gebruik BLUP (best linear unbiased prediction)-teelwaardetegnologie om produsente te help om hul kuddes se genetiese samestelling sodanig te verbeter dat dit ekonomies meer sin maak.

Daar is groot verskille tussen beesrasse aangesien sommige rasse vir vleiseienskappe geteel is, en ander vir melkproduksie. Selfs binne rasse is daar baie variasie. “Waarmee telers in werklikheid besig is, is om diere se eienskappe akkuraat te beskryf en dan die variasie tussen diere tot voordeel van die volgende geslag in te span. Só kan ons verseker dat die volgende geslag diere beter as die vorige sal wees.”

Genetiese evaluasie

“Die feit is dat ’n mens nie net na ’n bul kan kyk en sodoende sy genetiese potensiaal bepaal nie, veral nie as dit kom by belangrike kwessies soos sy dogters se kalwingsgemak nie. ’n Dier kry die helfte van sy genetika by sy pa en die ander helfte by sy ma. Na besetting kan dit nie verander nie.”

Wat wel kan verander is die dier se omgewing. Dit sluit kwessies soos voeding, klimaatsbestuur, gesondheid en veroudering in. “Uiteindelik kan 30% van die variasie tussen diere aan genetika toegeskryf word en 70% aan omgewingsfaktore,” sê Millen. Tog bestaan ’n dier se fenotipe uiteindelik uit ’n kombinasie van sy omgewing en genetika (oorerflikheid). Die 30% genetika moet dus nie onderskat word nie.

Met behulp van ’n BLUP-stelsel soos BREEDPLAN kan selfs minder opsigtelike genetiese eienskappe steeds geselekteer word om ’n kudde te verbeter. Beraamde teelwaardes (EBV’s) is geskoei op bewese wetenskap en is sedert 1985 ‘n integrale aspek van BREEDPLAN se analises. “Ons verfyn egter voortdurend ons metodes deur die nuutste tegnologie te inkorporeer, sodat ons aan die behoeftes van die beesbedryf sal voldoen.”

EBV’s word op grond van diere se stamboom- en prestasie-inligting uitgewerk en meer onlangs is DNS-inligting ook ingespan om sommige analises te bevestig. Die uiteindelike doel is om die omgewingsinvloede te minimaliseer, sodat verskillende diere se genetika op ’n gelyke grondslag vergelyk kan word.

In die geval van groepe word die analise aangepas om ‘n spesifieke groep se prestasie te meet. “Met elke analise word die inligting teenoor die prestasie van elke kontemporêre groep ontleed. Ons verwag wel ’n sekere hoeveelheid variasie, omdat diere verskillend in verskillende omgewings funksioneer.”

https://agriorbit.com/samewerking-kom-om-melkbedryf-wetenskaplik-te-bevorder

Beplan vooruit

Produsente moet ’n duidelike idee oor hul teikenmark hê, en moet weet wat die huidige prestasie van hul kuddes behels en wat die winsdrywers is. In hierdie opsig kan seleksie-indekse goeie rigting bied.

’n Produsent wat sy teeldoelwitte goed verstaan, sal ’n beter idee hê watter tipe saad hy moet aanskaf. “Ons stel voor dat produsente bulle gebruik wat getoets is vir die spesifieke gene wat hulle op hul plase wil vaslê. ’n Gesprek met jou saadinsetverskaffer is dus baie belangrik.”

Dit is ook belangrik om goeie inligting aan te teken. “Beplan vooruit wanneer jy data insamel en koördineer dit met ander roetine-bestuurstake.” Data moet ook vroegtydig ingestuur word, sodat dit tydig verwerk kan word.

Bemagtigende inligting

Millen moedig produsente aan om na die BREEDPLAN potgooi-uitsendings, Genetics in the Paddock, te luister, omdat baie mites oor teling in daardie gesprekke hokgeslaan word.

“Soos wat produsente se kuddes hul potensiaal begin bereik, word dit al hoe moeiliker om goeie bulle te vind wat verdere verbetering sal bewerkstellig. Daarom moet gesorg word dat die regte wetenskap op die bes moontlike manier toegepas word,” sê Millen.

Vir meer inligting oor die 2025 LRF Veeskool besoek www.lrf.co.za/stockman-school/

Vir meer inligting, stuur ‘n epos aan Catriona Millen by catriona.millen@abri.une.edu.au.

Must Read

LandbouRadio: 3 April 2026

In Vrydag, 3 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Ons skop af met 'n plaasvars landbounuusbulletin. ⁠Tydens die Afrika Saadverhandelingsvereniging se kongres in...