Estimated reading time: 4 minutes
Klimaatsverandering is ’n werklikheid wat nie verder geïgnoreer kan word nie. In die landbousektor het dit reeds ’n groot invloed en hierdie impak word elke jaar groter.
In 2015 is ’n konferensie in Frankryk oor die hantering van klimaatsverandering gehou waar 195 lande ’n nuwe universele klimaatsooreenkoms aangeneem het om die wêreld op koers te plaas om gevaarlike klimaatsverandering te vermy deur aardverwarming tot ver onder 2°C te beperk.
Suid-Afrika het hom ook tot hierdie ooreenkoms verbind, en hoewel die wiele maar stadig draai, het president Cyril Ramaphosa op 23 Julie 2024 die Wet op Klimaatsverandering onderteken wat verskeie sektore sal verplig om die omgewing, gemeenskappe en toekomstige geslagte te beskerm deur ’n lae-koolstofekonomie en -samelewing te verseker.
Lees meer oor klimaatsverandering hier.
Wat behels die Wet op Klimaatsverandering?
Hierdie wetgewing maak voorsiening vir ’n presidensiële klimaatkommissie wat die president kan adviseer oor die nodige stappe om hierdie oorgang makliker te maak en aan te pas by klimaatsverandering. In ’n persverklaring deur die presidensiële klimaatkommissie sê die uitvoerende direkteur, dr Crispian Olver, Suid-Afrika betree ’n nuwe fase van klimaataksie en die Wet op Klimaatsverandering sal nie net samewerking tussen verskillende betrokke departemente verbeter nie, maar die bestuur van klimaatsveranderingsprojekte in provinsies en plaaslike regerings sal ook verbeter word omdat elkeen verplig gaan word om in sy omgewing ’n verandering te maak.
Annalize Crosby, hoof van regsintelligensie by Agbiz, sê hierdie wetgewing stel nou ’n raamwerk vir Suid-Afrikaners waarvolgens die internasionale verpligtings, ingevolge die internasionale konvensies om ’n lae koolstofekonomie en -samelewing te skep en te bestuur, nagekom moet word.
Die wet vereis ook van alle staatsdepartemente om hul beleide in lyn te bring met klimaatsverandering. Dit bepaal onder meer dat Suid-Afrika ’n nasionale teiken moet stel vir koolstofvrystellings wat in ooreenstemming met internasionale vereistes is. Sy sê landbou gaan ook ’n teiken kry om sy aandeel in koolstofvrystellings te verlaag. Dit moet ’n realistiese teiken wees, maar moet ook nie ekstra koste meebring nie.
“As daar koste gaan wees, moet befondsing beskikbaar wees sodat dit nie tot enige inkrimping van die subsektore lei nie. Klimaatsverandering het reeds ’n impak op landbou, maar daar is baie wat gedoen kan word in terme van beter landboumetodes en innovasies. Dit is ook belangrik dat die regulatoriese omgewing dit maklik maak vir hierdie verandering om plaas te vind,” is haar mening.
In ’n mediaverklaring sê Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, hierdie nuwe wetgewing bied geleentheid vir ekonomiese groei wat Suid-Afrika baie nodig het. Vinnige inwerkingstelling van die wet op nasionale vlak is van groot belang.
Lees meer oor die Veeplaas Klimaatslimambassadeur-projek hier.
Minister is positief oor die nuwe wet
By navraag het die minister van landbou, John Steenhuisen, gesê hy verwelkom ook hierdie nuwe wetgewing en sê Suid-Afrika is nie ’n uitsondering nie. Die gevolg van klimaatsverandering word reeds regoor die wêreld in landbou-ekonomieë gesien.
Volgens hom is dit veral die kleiner en bestaansboere wat die ergste getref word, aangesien hulle nie in staat is om die gevolge van klimaatsverandering te versag nie. “Ek verwelkom die ondertekening van die wetsontwerp, aangesien dit ’n meer gekoördineerde reaksie op beplanning vir en versagting van die uitwerking van klimaatsverandering op ons boere en die landbousektor sal toelaat.”
Allan Winde, premier van die Wes-Kaap, sien hierdie wetgewing as ’n noodsaaklike stap in die regte rigting. Suid-Afrika het die afgelope paar jaar verskeie langdurige droogtes, oorstromings en kus-erosie ervaar wat ’n beduidende impak op gemeenskappe en die omgewing het.
“Ons is almal bewus van die impak van die veranderende weerpatrone op so baie van ons inwoners regoor die provinsie. Dit is die toekoms waarvoor ons nou moet beplan.”
Elkeen moet sy deel doen
In die landbousektor lê klimaatsverandering elke produsent na aan die hart en hulle word deur die natuur verplig om daarvan kennis te neem en planne te maak om daarmee saam te werk.
Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, beskou die nuwe wet as ’n padkaart vir provinsies om op die uitdagings van klimaatsveranderings te reageer, hetsy dit versagting of aanpassing of albei behels.
Steenhuisen sê die doel van die nuwe wetgewing is om Suid-Afrikaanse landbou meer volhoubaar te maak deur na ’n lae-koolstof ekonomie oor te skakel met die uiteindelike doelwit om ’n netto-nul koolstofvrystelling teen 2050 te bereik.
Implementering van die wet
In die landbou is dit ’n goeie idee, maar hoe moontlik is die implementering daarvan? Volgens Steenhuisen gaan dit baie belangrik wees om te fokus op hoe elke individuele landbouer op die grond veerkragtigheid in die sektor in die komende jare bou, vanuit ’n perspektief van biosekuriteit, maar ook een van klimaatsverandering.
“Dit is ook hoekom dit belangrik is dat ons die beleid en wetgewende omgewing vir die sektor opdateer en moderniseer om voordeel te trek uit nuwe tegnologieë en maatreëls wat help om veerkragtigheid te bou.”
Baie water moet nog in die see loop voordat die visie wat vir 2050 bepaal is, bereik kan word, maar dat die wiele aan die rol gesit is en elke departement in die regte rigting begin beweeg, is ’n positiewe teken. – Koos du Pisanie, Plaas Media