Só troef produsente klimaatsverandering

Share This Post

Estimated reading time: 4 minutes

Dit is ongetwyfeld so dat klimaatsverandering al vir jare ‘n impak het op die produksie van primêre landbou. Dit sluit in produksieverliese asook die afname van veldgehalte en weidingskapasiteit, om maar net ‘n paar te noem.

Volgens Louis van Ravesteyn, groephoof van landbou by Standard Bank, lê die groot bekommernis egter by die risiko rakende die beskikbaarheid, toegang en gehalte van water. Die Wêreldgesondheidsorganisasie voorspel dat die helfte van die wêreld se populasie teen 2025 in waterskaars gebiede sal lewe. “Dit is kommerwekkend, aangesien landbou een van die grootste gebruikers van water is en ons in Suider Afrika in ‘n hoë-risiko streek geleë is.”

Fisiese en oorgangsrisiko

Volgens Van Ravesteyn, kan die risiko’s vir produsente in terme van klimaatsverandering in twee groepe ingedeel word, naamlik fisiese risiko en oorgangsrisiko. Fisiese risiko behels die impak wat klimaatsverandering op produksie het. Dit sluit in addisionele kostes as gevolg van peste en plae, bates wat beskadig word deur storms asook die verandering van groeiseisoene soos reën gedurende oestye en droogtes gedurende planttye, wat ‘n groot invloed op opbrengste en addisionele insetkoste het.


 


Wat oorgangsrisiko’s betref, meen Van Ravesteyn dat min mense is bewus van dié impak. “Dit behels die verandering in die mark, die verandering van regulasies en wetgewing soos belastings en invoertariewe, wat deur die regering of invoerders ingestel word en produsente se sakke kan ruk.”

Hy meen dat hoewel daar nog altyd vloede en droogtes was wat landbouprodusente moes bestuur, dit nou meer gereeld en drasties voorkom. “Voorbeelde hiervan is die vloede in KwaZulu-Natal en die Vrystaat in 2021, en die droogtes in die Noord- en Wes-Kaap. Noord van die Limpopo sien ons ook ongekende weersomstandighede, ons ervaar verwoestende vloede in Nigerië, en siklone in Mosambiek word al hoe erger. Daarmee saam ervaar lande soos Kenia en Soedan ook aanhoudende droogtes,” meen hy.

Hoe kan boere dié risiko’s mitigeer?

Die bestuur van hierdie klimaatsrisiko’s sluit in holistiese grondgebruik, regeneratiewe en bewaringslandboupraktyke, gewasrotasies en wisselbou, die gebruik van bedekkingsgewasse, integrasie van lewendehawe en die verhoging van biodiversiteit, klimaatsbestuurstegnieke soos skadunette, kweekhuisgebruik, watersisteme soos drupbesproeiïng, presisieboerderypraktyke en die gebruik van masjinerie en toerusting om meer doeltreffend te boer.

Tegnologie en innovasie speel ook ‘n beduidende rol in die bestuur van hierdie risiko’s. Dit sluit in die belangrikheid van genetika en verbeterde variëteite wat teen droogtes en plantsiektes bestand is.

“Nuwe tendense wat al hoe meer gewild word en in die stryd teen klimaatsverandering toegepas kan word, sluit in die gebruik van platforms en aanlynmarkte vir die verkoop van produkte of die aankoop van insette. Hierdie platforms verbeter die waardeketting, bied toegang tot alternatiewe markte met die oog op doeltreffendheid, en help om die vermorsing van oortollige voedsel te verminder.”

Klik hier om ‘n RSG Landbou-onderhoud met Van Ravesteyn te luister.

Dan moet produsente volgens Van Ravesteyn ook meer fokus plaas op die belangrikheid van naspeurbaarheid of blokkettingmetodes wat aandui presies hoe en waar produksie plaasvind. Dit speel ‘n rol in wanneer ‘n pryspremie gevra kan word waar lae-koolstof boerderypraktyke toegepas word of meer volhoubare boerderypraktyke gebruik word. “Daar is dus baie aktiwiteite wat gekoppel word aan risikobestuur en wat produsente kan gebruik om aan te pas by klimaatsverandering, wat ook direk produsente se koolstofvoetspoor verminder met die oog op langtermyn volhoubaarheid”.  

Die bestuur van hierdie risiko’s vereis dat produsente aanpasbaar moet wees, meen Van Ravesteyn. Produsente moet meer doeltreffend en produktief boer, meer bewaringsbewus wees, en hul beperkte hulpbronne meer doeltreffend aanwend. “ Studies wat gebaseer is op die laaste 35 jaar se statistieke, wys dat konvensionele landbou stelselmatig die wedren verloor teen stygende koste. In kort, ons móét verandering meebring,” sluit hy af.

Related Posts

Weeklikse rooivleispryse / Weekly meat prices

Estimated reading time: 5 minutes Plaashekpryse/Farm gate prices Die jongste vleispryse...

SA goat breeds suit the Zimbabwean landscape

Estimated reading time: 7 minutes Pathisani Ncube has a...

Weeklikse weer met Johan van den Berg

Estimated reading time: 4 minutes Johan van den Berg is...

Domestic pork industry carcass price statistics – Week 28 of 2024

The weekly pork carcass prices are brought to you...

The South African rabbit meat industry in the spotlight

Estimated reading time: 7 minutes Rabbit meat is not...

Ankole embryos sell for record price in South Africa

The South African record price for embryos sold was...