Estimated reading time: 3 minutes
Werksgeleenthede word gedurig belowe en wanneer politici die mikrofoon kry, lys hulle werkskepping as ’n hoofprioriteit. Maar wanneer daar na die werklike syfers gekyk word, word daar nie veel gedoen om die reuse-werkloosheidsprobleem in Suid-Afrika aan te spreek nie.
Volgens Statistiek Suid-Afrika (Stats SA) se kwartaallikse arbeidsmagopname (QLFS) was daar vanjaar in die tweede kwartaal ’n toename van 19 236 indiensnemings aangeteken. In die eerste kwartaal was daar ’n afname van 290 575 indiensnemings.
Dit lyk dalk soos ’n ligpunt in die donker tonnel, maar in werklikheid is daar steeds meer as 8 miljoen individue in Suid-Afrika wat werkloos is – dit is 33,2% van van die totale werksmag. In die ouderdomsgroep 15 tot 24 is 62,2% Suid-Afrikaners werkloos en in die ouderdom-groep 25 tot 34 is 40,5% individue werkloos.
Toekoms lyk nie rooskleurig nie
Ten spyte van beter indiensnemings lyk sake op die korttermyn glad nie gesond vir die werkloosheidkwessie nie. Volgens Thanda Sithole, senior ekonoom by FNB, kan die verhoogde handelstariewe wat deur die Amerikaanse president, Donald Trump, ingestel is, verdere werksverliese in Suid-Afrika teweegbring.
Sy verduidelik in die privaat sektor het die volgende bedrywe ’n toename in werksgeleenthede gebied:
- Vervaardiging: 19 130.
- Groothandel, kleinhandelmotormark, en gasvryheid: 16 087.
- Finansiële mark, versekering, eiendomme, en besigheidsdienste: 12 824.
- Mynsektor: 10 288.
Sektore wat die grootste werksverliese aangeteken het, was:
- Konstruksie: 15 012.
- Elektrisiteit, gas, en water: 7 561.
- Vervoer, berging, en kommunikasie: 3 616.
Landbou vaar beter as sy langtermyndoelwit
In Suid-Afrika het die werksgeleenthede wat in landbou aangebied word, in die tweede kwartaal met 24 000 (3%) verminder teenoor die eerste kwartaal.
Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê die afname was hoofsaaklik in die veebedryf, saaiboerderye, akwakultuur, bosbou, en die produksie van organiese kunsmis. “Dit kan verband hou met spesifieke uitdagings wat hierdie bedrywe ondervind, soos die bek-en-klouseergevalle, die vertragings van sommige somergewasse omdat dit laat begin reën het, en veral omdat mielieboere nie betyds kan stroop nie,” verduidelik hy.
Sihlobo glo die landbou is in ’n moeilike posisie om werksgeleenthede te skep, veral met die bek-en-klouseeruitbrekings en kommer oor die handelsomgewing. Daar is egter ook langtermynuitdagings soos ondoeltreffende hawens, swak spoorweë en paaie, misdaad en veediefstal, en verswakkende munisipale dienslewering wat steeds die groei in die sektor en die kanse op meer werksgeleenthede strem. In die landboubedryf is die jaar-op-jaar werksgeleenthede egter steeds 1% beter as verlede jaar in die tweede kwartaal.
Wes-Kaap loop voor
Die provinsie wat die beste in terme van werksgeleenthede gevaar het is die Wes-Kaap. Dr Ivan Meyer, die Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, sê die provinsie het weereens sy ekonomiese veerkragtigheid gedemonstreer met ’n netto-toename van 69 000 werksgeleenthede jaar-op-jaar, wat ’n 2,6%-verhoging in indiensnemings is. Landbou het meer as 40 000 werksgeleenthede gebied en dit is ’n 24,7%-verbetering. – Koos du Pisanie, Plaas Media

