Monday, February 3, 2025
HomeMagazinesWees waaksaam met snotsiekte

Wees waaksaam met snotsiekte

-

Estimated reading time: 5 minutes

  • Snotsiekte rig jaarliks groot skade in veetroppe aan. Dit is ’n virussiekte wat deur wildebeeste na vee oorgedra word.
  • ’n Kenmerk van die siekte is die etterige neus- en oogafskeidings wat deur die herpesvirus veroorsaak word.
  • Beeste doen waarskynlik die siekte op wanneer hulle die virus inasem wat saam met slym deur wildbeeste uitgeskei is, of as hulle dieselfde weiding of waterbronne as wildbeeste benut. Die virus word nie onderling tussen beeste oorgedra nie, maar dragtige koeie kan dit na hul kalwers oordra en die kalwers vrek gewoonlik voor hulle ses weke oud is.
  • Aanvanklik het besmette diere ’n waterige oog- en neusafskeiding wat gou in groot hoeveelhede etterige afskeidings verander. Die neusoppervlakte word droog, seertjies ontwikkel en die etterige afskeiding uit die neus vorm ’n harde kors wat aan die neusgate vasklou.
  • Om snotsiekte bo alle twyfel te diagnoseer, kan die virus in die bloed opgespoor word deur dit te kweek of dit kan ook met moderne DNS-toetse bevestig word.

Snotsiekte rig jaarliks groot skade in veetroppe aan. Dit is ’n virussiekte wat deur wildebeeste na vee oorgedra word. ’n Kenmerk van die siekte is die etterige neus- en oogafskeidings wat deur die herpesvirus veroorsaak word. Groot getalle van die virus word veral deur wildebeeskalwers afgeskei as hulle twee tot drie maande oud is en deur volwasse wildebeeste wanneer hulle stres ervaar.

Die siekte is gewoonlik noodlottig vir beeste wat dit opdoen. Geen entstof is beskikbaar om beeste teen die siekte te beskerm nie – die entstof waaraan gewerk word, sloer nog en gaan waarskynlik eers oor minstens twee jaar beskikbaar wees. Vir nou moet produsente dus waaksaam wees om in gevaartye hul beeste weg van wildbeeste te hou.

Lees meer oor snotsiekte hier.

Siekte-oordrag

In Afrika word snotsiekte hoofsaaklik deur blouwildebeeste oorgedra, maar swartwildebeeste kan in uitsonderlike gevalle ook as bron dien. Die siekte word hoofsaaklik na beeste oorgedra en word in Afrika selde met skape verbind, hoewel skape in ander wêrelddele as ’n bron van infeksie dien.

Beeste doen waarskynlik die siekte op wanneer hulle die virus inasem wat saam met slym deur wildbeeste uitgeskei is, of as hulle dieselfde weiding of waterbronne as wildbeeste benut. Die virus word nie onderling tussen beeste oorgedra nie, maar dragtige koeie kan dit na hul kalwers oordra en die kalwers vrek gewoonlik voor hulle ses weke oud is.

Dr Kobus Grobler, ‘n veearts van Bergbos-dierekliniek in Rustenburg, sê dit is veral wanneer wildebeeste stres ondervind dat groot getalle van die virus vrygestel word. Dit is veral wanneer blouwildebeeste kalf of gevang en vervoer word, dat virusgetalle in die diere opbou en dit deur hul asemhalingskanale vrygestel word. Tot nou toe is daar geen rekords van ander wildspesies wat die siekte opgedoen het nie.

Die virus kan tot ’n kilometer ver deur die lug beweeg, wat beteken dat beeste teoreties besmet kan raak wanneer ’n vragmotor met wildbeeste by ’n trop beeste verbyry. As beeste die siekte opdoen, bou slym in hul asemhalingskanale op, hulle haal al hoe moeiliker asem en kan uiteindelik as gevolg van die slym versmoor. Dit kan ook longontsteking veroorsaak. Normaalweg doen relatief min beeste in ’n trop snotsiekte op, maar die wat wel siek word, vrek gewoonlik almal.

Die beste manier om ’n beeskudde vry van snotsiekte te hou, is om hulle weg te hou van wildbeeste, veral wanneer hulle kalf of wanneer met wildbeeste gewerk word en hulle stres ervaar. Die beeste moet minstens 500m, maar verkieslik ’n kilometer weg, van wildbeeste gehou word.

Eerste simptome

Die eerste simptome van die siekte verskyn gewoonlik twee tot vier weke ná kontak met die virus. Diere kan egter tot sewe maande nadat hulle met die virus in aanraking was, siek word.

Aanvanklik het besmette diere ’n waterige oog- en neusafskeiding wat gou in groot hoeveelhede etterige afskeidings verander. Die neusoppervlakte word droog, seertjies ontwikkel en die etterige afskeiding uit die neus vorm ’n harde kors wat aan die neusgate vasklou.

Besmette diere haal dikwels deur hul bekke asem, omdat die slym hul neusgate verstop. Die slymvlies in die bek is rooi met seertjies aan die binnekant van die lippe, op die tandvleis, aan die verhemelte en aan die onderkant van die tong. Die bindvlies van die oë is baie rooi en ontsteek, en die horingvlies is dof. Die horingvliesontsteking ontwikkel van buite na binne.

In sommige gevalle kan die besmette diere bloederige diarree hê, die vel tussen die kloue ontsteek, limfknope vergroot en senuweesimptome kom voor. In terminale gevalle kan hipergevoeligheid, spier- en oogtrillings, en stuiptrekkings voorkom.

Nadoodse ondersoeke

Tydens ’n nadoodse ondersoek is daar baie etter in die neusholtes en soms ook afsterwing van die weefsels in die neusholtes. Daar is seertjies aan die slymvlies in die bek, slukderm, grootpens en soms ook in die dun- en dikderm. Puntbloedings is in die lugpyp sigbaar en soms is daar ook tekens van longontsteking. Die lewer is dikwels vergroot en as dit oopgesny word, is daar talle ligte kolle. Die limfknope is vergroot, baie rooi en waterig.

Lees meer oor nadoodse ondersoeke op vee hier.

Daar is soms ook seertjies aan die wand van die blaas en die niere kan geswel wees met verskeie wit spikkels daarin. Soms is daar groot areas waar bloeding voorgekom het en dele waarvan die bloedtoevoer in die nierweefsel afgesluit is. Dit is veral sigbaar as die nier deurgesny is. Die breinvlies kan ook baie rooi wees, wat op breinvliesontsteking dui.

Bevestig infeksie

Om snotsiekte bo alle twyfel te diagnoseer, kan die virus in die bloed opgespoor word deur dit te kweek of dit kan ook met moderne DNS-toetse bevestig word. Bloed moet verkieslik in ’n EDTA-buis (pers doppie) getrek word voor die dier vrek. Die bloed moet dan op ys gehou en so gou as moontlik na ’n laboratorium gestuur word. Die weefsel van dooie diere, veral die brein, limfknope, milt en oë, kan ook in formalien geplaas en na ’n laboratorium gestuur word vir ontleding. – Andries Gouws, Veeplaas

Vir meer inligting, kontak dr Kobus Grobler by epos Kobus@bergbosvet.co.za.

Must Read

Katoen-verwysingsprys: Week van 27 tot 31 Januarie

Die Suid-Afrikaanse Katoenprodusente-organisasie (SAKPO), met die ondersteuning van Katoen SA, het ’n platform geskep om elke week ’n gemiddelde verwysingsprys vir katoenvesel deur te gee....