Estimated reading time: 7 minutes
Die skade wat veeboere weens roofdiere ly, beloop meer as R2 miljard per jaar. Rooijakkalse en rooikatte is die grootste oorlas vir veeboere, en naby dorpe en nedersettings is rondloperhonde ’n bykomende probleem.
In die Bosveld- en veral bergagtige gebiede, maak luiperds toenemend moeilikheid vir bees- en wildboere, sê prof HO De Waal van die Universiteit van die Vrystaat se Fakulteit Natuur- en Landbouwetenskappe. Hy voeg by dat dit ’n jammerte is dat roofdierbestuur nog altyd gefragmenteerd en ongekoördineerd benader word.
Die toename in roofdiergetalle, veral rooijakkalse, is ’n bron van groot kommer, sê Niël Viljoen, ’n roofdierkenner wat roofdiergedrag en -bewegings sedert 2008 op verskeie veemoniteringsplase deur die land bestudeer. Hy het onlangs ‘n verslag getiteld Livestock & Predation Management bekendgestel.
Lees meer oor roofdiere en predatore hier.
Die groei in getalle is hoofsaaklik toe te skryf aan die kommersiële landbou-omgewing wat verander het, groter veeplase wat bestuur word en beheer dikwels bemoeilik, veeplase wat in wildsplase omskep of vir mynbedrywighede gebruik word, grondhervormingsprojekte waar roofdierbeheer nie goed toegepas word nie, en die verdwyning van groter roofdiere soos leeus en hiënas wat die getalle van kleiner roofdiere beheer.
’n Kombinasie van beheermaatreëls is noodsaaklik en moet voortdurend aangepas word om te verhoed dat roofdiere die strategie begin verstaan en omseil.
Rooijakkalse
Cape Nature skryf in ’n gids vir grondeienaars dat rooijakkalse sekondêre roof- en aasdiere is wat help om die veld skoon te hou deur aas te vreet. Hulle onderdruk terselfdertyd knaagdier- en insekgetalle en hul teenwoordigheid by ’n karkas dui vir aasvoëls aan dat dit veilig is om te kom vreet. Op plekke waar rooijakkalse totaal verwyder is, het rooikatte vermeerder. Hulle vorm dus ’n integrale deel van ’n ingewikkelde roofdierbalans op plase.
Rooijakkalse jaag hul prooi en byt hulle in die hardloop. Dit veroorsaak dikwels bytmerke aan die kakebeen en kant van die nek, asook die agterkant van die bene en ooie se uiers. Hulle vang hoofsaaklik lammers, maar in sekere gebiede merk boere op dat rooijakkalse in troppe begin jag, en groot skape en bokke vang.
Hulle vang normaalweg een dier, terwyl sekere katspesies meer diere op ’n slag doodbyt. Sigbare tekens aan die karkas dat ’n rooijakkals die sondaar was, sluit ’n oopgeskeurde pens en liesgedeelte in, van die sagter ingewande is gevreet, ’n velflap word teruggerol soos wat die dier vreet, en die karkas is uitgehol met die punte van die ribbes wat afgevreet is.
’n Rooijakkals se spoor lyk baie soos dié van ’n hond – ovaalvormig en langer as breed. Jakkalse woon in pare in ’n spesifieke loopgebied.
Rooikatte
Rooikatte is ook ’n groot kopseer vir veeprodusente. Hulle speel egter ’n belangrike rol in die ekologie van die veld, aangesien hulle help om haas-, dassie- en knaagdiergetalle in bedwang te hou. As sekondêre jagters dra hulle by om die ekologiese balans te handhaaf.
Rooikatte is alleenlopers en kom net in pare in ’n kort paartyd voor. Hulle raak dominant in ’n gebied en hou ander roofdiere uit, wat dit dus belangrik maak om rooikatte nie onoordeelkundig van kant te maak nie.
Rooikatte vang hoofsaaklik klein tot mediumgrootte prooi soos hase, blouape, dassies, voëls, reptiele en jong wildsbokkies. Hulle kan egter prooi tot so groot as uitgegroeide springbokke vang en leer ook om vee te vang omdat dit maklike prooi is. Hulle kan goed klim, jag meestal snags, byt hul prooi aan die keel dood en daar is gewoonlik twee bytmerke aan weerskante van die lugpyp.
Krapmerke is soms op die skouer, maag of agterkant van die karkas sigbaar. Hulle vreet gewoonlik die prooi se boud in ’n ronde patroon en trek die wol of hare af voordat hulle vreet. Hulle vreet normaalweg nie aan die ingewande nie en kou ook nie groot bene stukkend nie. Gewoonlik vang hulle een dier, behalwe wanneer hul kleintjies geleer word om te jag.
Luiperds
Luiperds is skugter, kragtige jagters wat ’n verskeidenheid soogdiere as prooi benut. Hulle jag hoofsaaklik in die donker en speel ’n belangrike rol in die ekologiese balans en voedselketting. Soms maak hulle kleiner roofdiere soos rooikatte en rooijakkalse dood wanneer hulle om prooi meeding.
Hulle is alleenlopers, het ’n vaste loopgebied en het verskillende blyplekke soos wat hulle deur hul gebied beweeg. Hul grootste nut in die natuur is dat hulle swak en siek diere uit die ekologiestelsel verwyder, wat spesies sterk hou en die verspreiding van siektes teenwerk.
Waar natuurlike prooi min is, sal hulle leer om vee te vang en hulle is berug daarvoor om meer as een dier te vang. Hulle vreet normaalweg eers die binnekant van die boude en verorber een tot twee kilogram vleis op ’n slag. Hulle vreet nie die ingewande nie.
Omdat die roofdiere gebiedsgebonde is, skep die onoordeelkundige verwydering van sulke diere ’n vakuum en sosiale onbestendigheid wat ’n konstante invloei van nuwe diere meebring. In die wedywering vir kos en skuilplek, sal die maklikste voedselbron – vee – die ergste daarvan afkom.
Ou en nuwe planne
’n Handleiding wat deur die Jagluiperdstigting in Namibië bekendgestel is, beskryf hoedat al die plase in die verlede jakkalswerend omhein was en elke boer jakkalsgif in sy gereedskapkassie gehad het. As die jakkals deur die heining kon kom, het hy hom in ’n gifpil vasgeloop.
Dit het egter alles verander. Die subsidie om heinings in stand te hou is lankal iets van die verlede en so ook die botteltjies gif, want boere is deesdae skugter vir gif wat ook hul bondgenote, soos aasvoëls, se einde kan beteken. Gif is onwettig, onselektief en vernietigend. Slagysters word ook oraloor veroordeel en behoort slegs deur mense met uitstekende kennis gebruik te word, sodat nét die teikendier gevang word.
Vandag sien talle nuwe boerepatente die lig om die probleem die hoof te probeer bied. Vanghokke werk uitstekend vir rooikatte, terwyl Anatoliese skaaphonde, alpakkas, volstruise, donkiehingste en blesbokramme vee uitstekend kan beskerm deur roofdiere te verwilder. Daar is verskeie apparate met flikkerende ligte wat geraas maak en selfs reuke afskei om roofdiere die wyk te laat neem, en gifhalsbande wat diere se kele beskerm.
Holistiese beheer is nodig
’n Holistiese bestuursbenadering is nodig om die roofdierprobleem doeltreffend op te los. Om roofdiere te bestuur, vereis dat die produsent ’n goeie kennis van die roofdiere se sosiale gedrag en gewoontes moet hê. Vee moet veral in lam- en kalfseisoene intensief bestuur word om verliese te beperk.
Hoewel dit noodsaaklik is om probleemdiere te stuit deur hulle oordeelkundig van kant te maak, behoort die oogmerk nie te wees om al die roofdiere voor die voet uit te roei nie, maar eerder om die skade te beperk. Aanpasbaarheid is hoe roofdiere oorleef. Produsente moet dus hul strategieë vir roofdierbeheer vinniger aanpas as wat die roofdiere neem om die planne te bemeester. – Andries Gouws, Veeplaas
Vir meer inligting en bronverwysings, stuur ’n epos aan die outeur by gouws.as1@gmail.com.