Estimated reading time: 6 minutes
- Roofdiere het ’n vreemde aantrekkingskrag vir mense. Aan die een kant is hulle pragtige diere wat ’n belangrike rol in die ekologie speel, maar op ’n plaas is hulle nie so gewild nie omdat hulle vir ’n produsent groot skade kan berokken.
- Dr Liaan Minnie, ’n lektor aan die Skool vir Biologie en Omgewingswetenskappe aan die Universiteit van Mpumalanga, sê die konflik tussen die mens en karnivore is ’n eeue-oue kwessie, maar dit het vererger toe te veel menslike aktiwiteite in die vorm van boerdery begin plaasvind het.
- Daar is verskillende roofdiere wat skade aan veekuddes kan aanrig. Dink maar aan jakkalse, rooikatte, luiperds, jagluiperds, hiënas, roofvoëls, bobbejane en rondloperhonde.
- Volgens navorsing word in Suid-Afrika gemiddeld tussen 6 en 19% van vee deur roofdiere gedood teenoor die slegs 1,4% in Namibië, 1,8% in Kenia, 2,2% in Botswana en 4,5% in Tanzanië.
- Dr Minnie beklemtoon dat daar nog nooit beproefde beheermetodes bewys kon word vir die beheer van roofdiere nie. In die eerste plek is dit moeilik om te sê dat een metode van beheer voldoende gaan wees. Dit is gewoonlik ’n paar metodes wat saam gebruik word om die beste resultate te kry.
Roofdiere het ’n vreemde aantrekkingskrag vir mense. Aan die een kant is hulle pragtige diere wat ’n belangrike rol in die ekologie speel, maar op ’n plaas is hulle nie so gewild nie omdat hulle vir ’n produsent groot skade kan berokken.
Dr Liaan Minnie, ’n lektor aan die Skool vir Biologie en Omgewingswetenskappe aan die Universiteit van Mpumalanga, sê die konflik tussen die mens en karnivore is ’n eeue-oue kwessie, maar dit het vererger toe te veel menslike aktiwiteite in die vorm van boerdery begin plaasvind het. Die feit dat so baie roofdiere doodgemaak word, het weer ’n invloed op die ekosisteem van die plaas.
Oorsake van veeverliese
Daar is verskillende roofdiere wat skade aan veekuddes kan aanrig. Dink maar aan jakkalse, rooikatte, luiperds, jagluiperds, hiënas, roofvoëls, bobbejane en rondloperhonde. Navorsing toon dat vrektes as gevolg van siektes, slangbyte, veediefstal en so meer in baie gevalle meer is as die verliese wat aan roofdiere toegeskryf word.
Volgens navorsing word in Suid-Afrika gemiddeld tussen 6 en 19% van vee deur roofdiere gedood teenoor die slegs 1,4% in Namibië, 1,8% in Kenia, 2,2% in Botswana en 4,5% in Tanzanië. Hierdie verliese is persentasiegewys ook minder as die gemiddelde verliese aan onwettige jag (32%) en droogtes (30%), maar meer as die verliese aan veldbrande (11%) en siektes (8%).
As gevolg van die menslike aktiwiteite word roofdiere, soos jakkalse, se normale lewenswyse verander en word hulle genoodsaak om hul fokus na veral kleinvee as ’n bron van voedsel te verskuif. Kleinvee is nie regtig ’n dominante deel van jakkalse en rooikatte se normale dieet nie, maar omdat die beskikbaarheid van wild in die veld minder raak, word die roofdier se beskikbare keuse ook minder en is hy genoodsaak om kleinvee te vang.
Dr Minnie noem ook dat die ekosisteem ’n behoorlike knou gekry het toe groot roofdiere soos leeus, hiënas en luiperds uitgeroei is en kleiner roofdiere soos die jakkals en rooikat nou die botoon kan vier en bekendstaan as die dominante kleinvee-roofdiere in Suid-Afrika.
Oorlogsverklaring of skietstilstand
Vee kan op verskillende maniere teen roofdiere beskerm word. Dr Minnie meen daar is nie konkrete bewyse van doeltreffende metodes nie. Hy verwys na twee tipes metodes. Die nie-dodelike metodes is daarop gemik om roofdiere weg van vee te hou, en sluit jakkalsbestande en elektriese heinings, krale, veewagters en diere wat troppe beskerm in. Dodelike metodes het ten doel om die karnivoorpopulasies, asook veeverliese, te verminder. Dit sluit jag, slagysters, vanghokke asook gif in.
“Dodelike metodes mag dalk ’n korttermynoplossing wees, maar daar is geen wetenskaplike bewyse dat dit ’n langtermynoplossing bied nie. Inteendeel, dodelike metodes kan eerder verhoogde populasies tot gevolg hê. Dit is deel van die natuur se manier om te kompenseer vir sterftes in ’n spesie,” verduidelik hy.
Hy het ervaar dat al hoe meer produsente eerder die nie-dodelike metodes oorweeg, omdat dit die potensiaal het om die wild se diversiteit te beskerm, volhoubare landboupraktyke te verseker en dalk ’n meer doeltreffende manier is om lewendehawe teen roofdiere te beskerm.
Een só ’n metode is die eeue-oue praktyk om veewagters te gebruik om vee te beskerm. In ‘n onlangse artikel (Hawkins, Minnie, Van Niekerk, De Waal, Balfour en Kerley, 2023) waarvan dr Minnie een van die skrywers was, voer hulle aan dat dit een van die beste maniere is om die kudde onder oog te hou. In gevalle waar veewagters gebruik was, was daar minder verliese weens roofdiere.
Verder het die gebruik van veewagters ander potensiële voordele waaronder die identifisering van ander oorsake van vrektes omdat hy/sy gedurig in die omtrek is en kan sien as daar ’n probleem by een van die diere opduik.
Ken jou vyand
Dr Minnie beklemtoon dat daar nog nooit beproefde beheermetodes bewys kon word vir die beheer van roofdiere nie. In die eerste plek is dit moeilik om te sê dat een metode van beheer voldoende gaan wees. Dit is gewoonlik ’n paar metodes wat saam gebruik word om die beste resultate te kry.
Dit wat op die een plaas werk, gaan ook nie noodwendig op die volgende werk nie. Wat in een streek of provinsie werk gaan ook nie noodwendig in die volgende streek of provinsie werk nie.
“My navorsing op jakkalse het bewys dat dodelike metodes eintlik die probleem kan vergroot, pleks van oplos. Dit is omdat die jakkalspopulasie kompenseer vir die verhoogde dodetal deur groter werpsels op jonger ouderdomme te kry. Naburige jakkalse kan inbeweeg in die beskikbare areas wat deur die dodelike metodes veroorsaak is.
“Sommige boere het gesê hulle ervaar dat as jy ’n jakkalspaar in hulle gebied los wanneer hulle nié kleinvee doodmaak nie, sal daardie paar sorg dat nuwe jakkalse van naburige grond nie hul gebied binnekom nie.”
Sy navorsing het verder getoon dat die ouer jakkalswyfie gewoonlik groter werpsels as die jonger wyfie het. Wyfies van ses jaar oud kan werpsels van vyf tot sewe kleintjies grootmaak, terwyl die jong wyfies slegs een tot drie kleintjies op ’n slag grootmaak. Dit moet in gedagte gehou word wanneer gekyk word na die beheer van roofdiere.
Probleme hou nie op nie
Om roofdiere uit ’n kudde te hou is geen maklike taak nie. Die mens sukkel al vir honderde jare om dit reg te kry, maar daar was nog nie juis verbetering nie. Inteendeel, daar is baie spasie vir navorsing in hierdie verband.
Hy glo ’n produsent sal altyd ’n plan maak, veral as sy kudde bedreig word. Daar word van ligte op die skape, klokke, reukweerders, diere wat die kudde oppas, jakkalsjagters en vele ander metodes gebruik gemaak, maar watter metodes of groep metodes die regte een is, moet nog bestudeer word.
Na sy mening kan voorkomende, nie-dodelike maatreëls moontlik op die lang duur meer doeltreffend wees vir die inperking van verliese in ’n kudde, as wat dodelike metodes kan wees. “Dit gaan oor goeie bestuur en kennis van die roofdier se gewoontes, verblyf en eetgewoontes. Solank jy hom kan beheer, sal hy uit jou kudde en uit jou sak kan bly.” – Koos du Pisanie, Veeplaas
Vir meer inligting, kontak dr Liaan Minnie by liaan.minnie@gmail.com.