’n Boerbok is ’n trotse dier. Hier spog Patrick Abrahams met een van Casper Byleveld van Britstown se bokke, by ’n veiling vroeër vanjaar.

Estimated reading time: 7 minutes

Boerbokke het vir baie jare aan die agterspeen gesuig as dit by pryse kom, maar telers het oor die laaste 60 jaar voortdurend gepoog om dié ras te veredel en vandag pluk hulle die vrugte daarvan. Die Suid-Afrikaanse Boerbok het vandag geen gelyke ter wêreld nie en dié ras het reeds vroeg nadat daar met veredeling begin is, as die beste vleisbok ter wêreld bekend geword.

Read it in English.

Kobus Lötter, ’n kenner van die ras en voorsitter van die Suid-Afrikaanse Boerboktelersvereniging se Oos-Kaap-klub, sê die grootste frustrasie is egter dat die SA Boerbok, wat wêreldwyd in aanvraag is, nie na lande soos Europa en Australië uitgevoer kan word nie, as gevolg van Suid-Afrika se huidige dieregesondheidstatus.

“Die vraag na SA Boerbokke uit Afrika en die Oosterse lande, en die insinking in die wildbedryf, het bokpryse egter die hoogte in laat skiet. Dit het veroorsaak dat daar tans baie toetreders tot die bedryf is, veral by wild- en kleinhoeweboere,” sê hy.

Waarna moet ek kyk as ek ’n Boerbok wil koop?
Kobus Lötter is ’n kenner van die SA Boerboktelersvereniging en bied gereeld kursusse vir telers en voornemende telers aan.

Hy raai voornemende kopers wat die mark wil betree aan om diere aan te koop wat voldoen aan die rasstandaarde. Die standaarde is sodanig saamgestel dat diere wat daaraan voldoen, die potensiaal het om die beste nageslag te lewer en sodoende hul eie ekonomiese waarde te verhoog.

Eerste indrukke

Kobus sê die eerste indruk wat ’n mens kry as jy die bokke sien, is belangrik. Ramme moet manlik lyk. Ooie moet vroulik lyk, met ’n wig na voor wat kenmerkend van haar vrugbaarheid is.

Shongololo: Waar die Boerbokke boer in die berge

“Ooie moet ’n slanke nek hê wat goed by die skouers aansluit en in balans met die res van die lyf is. Ramme, aan die ander kant, moet weer growwer in die nek en velplooie wees – dit is ’n teken van hul manlikheid. Die meeste mense koop met die oog, maar dit is ook belangrik dat jy die rasstandaarde moet ken om te weet wat jy moet koop,” meen hy.

Vir Kobus is daar ’n paar punte in die Boerbok se bouvorm waarop ’n koper behoort te let:

Die kop sê baie

Die bok se kop, verduidelik hy, vertel jou reeds baie van die dier. ’n Goeie Boerbok het ’n sterk kop en sagte, bruin oë. As die oë eers wild is, kan jy maar verbyloop, want dit is ’n aanduiding dat die dier se temperament nie vir jou ’n aanwins gaan wees nie.

“Verder moet die bok ’n effens geboë neus, wye neusgate en goedgevormde bek hê wat goed kan sluit. Tot op ses-tand ouderdom moet die kake 100% sluit, maar van agt-tand en ouer kan die tande 6mm verby byt.”

Die horings moet ook so rond en solied as moontlik wees en ’n donker kleur hê, sê hy. Dit moet ’n middelmatige lengte hê, met ’n geleidelike buiging na agter.

Die nek en voorkwart

Dit is belangrik dat die nek goed by die voorlyf aansluit, sodat die bok sy kop gemaklik kan lig om blare te vreet, en om ’n trotse houding te weerspieël. Daarby moet die skouers stewig by die voorlyf aansluit en goed gevul wees agter die blad, sê Kobus. Die borsbeen moet breed wees, met ’n diep en breë borsstuk. Dit verseker dat die voorpote goed aangeheg is en die bok lang afstande onder moeilike veldtoestande kan aflê.

“Die voorbene moet sterk en goed geplaas wees, met sterk kootgewrigte en korrek gevormde hoewe wat so donker as moontlik is,” verduidelik hy en voeg by dat die voorbene van middelmatige lengte en in verhouding met die diepte van die lyf moet wees.

Die middelstuk

Die romp of middelstuk van die Boerbok moet lank, diep en breed wees. Hy moet ’n goeie sprong van rib hê en die lende moet goed gevul wees. ’n Goeie bok het ’n redelike reguit rug en is nie geknyp agter die blaaie nie. Wees egter versigtig vir ’n rug wat té reguit is, want dit kan ’n silindriese bok voortbring.

Die agterlyf

Die agterlyf van die bok moet ook beoordeel word, aangesien die geslagsdele daar gesetel is en, in gevalle van kommersiële diere, is die boude ’n goeie aanduiding van vleisverspreiding.

Verder is die kruis baie belangrik. “Die kruis moet lank en in verhouding met die middelstuk wees, en dit moet effens hang. ’n Kruis wat té regaf is voorspel lamprobleme, omdat die regaf kruis die geboortekanaal toeknyp,” verduidelik hy.

Lees meer oor Lukas Burger en sy Boerbokke.

Die boude moet vol aan die binne- en buitekante wees, en die stert moet reguit uit die stertwortel groei en kan swaai.

Bene wat die dier kan drá

In die meeste gebiede waar met Boerbokke geboer word, moet die diere ver agter kos en water aanloop. Daarom moet die bene sterk en goed geplaas wees, maar nie té dik en vlesig nie. “Die voorbene,” sê Kobus verder, “moet so reguit as moontlik wees en redelik ver uitmekaar, met die agterbene wat oop is. ‘Koeihakke’, sekelhakke en regop hakke is ongewens.”

Vel en velbedekking

’n Boerbok het ’n los, soepel velbedekking met voldoende bors- en nekplooie, veral by ramme. Dit is al keer op keer bewys dat diere met ’n los vel en kort hare beter aangepas is by die warm klimaat van Suid-Afrika. Die los vel bied ook beter weerstand teen uitwendige parasiete.

“Dit is verder belangrik dat die ooglede en dele waar geen hare is nie, goed gepigmenteer moet wees ten einde die dier teen die son te beskerm. Die ideaal is 100% pigmentasie, maar 75% pigmentasie word by stoetdiere toegelaat,” sê Kobus.

“Goeie pigmentasie bied weerstand teen sonbrand. Dit is veral onder die stert en op geslagsdele waar gekyk moet word na goeie pigmentasie. Gedeeltes wat te veel aan die son blootgestel word, kan later kanker ontwikkel. Die gepigmenteerde vel is ook beter bestand teen velsiektes wat diere kan opdoen,” verduidelik hy.

Hy voeg by dat die hare kort, glad en glansend moet wees, maar in die winter is ’n beperkte hoeveelheid dons toelaatbaar.

Geslagsorgane

Die geslagsorgane is die belangrikste deel van die dier. By ooie is die uier die belangrikste, omdat sy haar lammers funksioneel doeltreffend moet kan soog. “ ’n Ooi moet ’n matige groot uier hê wat nie te laag hang nie en wat goed geplaas is, met een of twee spene los van mekaar aan weerskante van die uier.”

Een van die belangrike eienskappe van ’n goeie Boerbokooi is uiergesondheid, omdat sy haar lammers funksioneel op die veld moet kan grootmaak.

By ramme is die geslagsorgane baie belangrik, omdat hulle ’n goeie nageslag vir die eienaar moet verwek. “ ’n Ram moet twee ewe groot teelballe hê wat nie te laag op die grond hang nie. Op ’n twee-tand ouderdom moet dit ’n omtrek van minstens 25cm hê. Dit is ’n goeie aanduiding van die ram se vrugbaarheid.”

Vir meer inligting, kontak Kobus Lötter by 082 432 2393.

Boerbokmark, grain, acidosis, mikotoksiene