Estimated reading time: 10 minutes
- Die belangrikste beheerpunt in die 12-maande produksiesiklus van vleisbeeste, is die kalwingsproses.
- Fase 1 begin wanneer die onwillekeurige inwendige sametrekking van die baarmoeder ‘n aanvang neem en die baarmoedernek ontsluit.
- Die tweede fase begin wanneer die watersak sigbaar word en breek.
- Daar is twee basiese tegnieke om ‘n kalf te trek wat in die regte posisie lê, maar nie binne twee ure na die water gebreek het kan uitkom nie.
- Die beste voorbereiding vir die kalwingseisoen is dat die kuddeveearts jou veewagters en bestuurders oplei in die tegnieke wat toegepas kan word vir die hantering van moeilike kalwings.
Die belangrikste beheerpunt in die 12-maande produksiesiklus van vleisbeeste, is die kalwingsproses. Verliese moet so ver as moontlik voorkom word en in hierdie opsig is daar ses sleutelpunte wat aandag moet geniet.
Identifiseer koeie naby aan kalf
Tekens wat aandui dat koeie naby aan kalwing is, sluit in:
- Stadige (een tot twee maande voor kalwing) en dan vinnige vergroting en opvul van die uier (twee weke voor kalwing).
- Die uitwendige geslagsopening vergroot en verslap.
- Die stertwortel lig op wanneer die ligament tussen die sitbeen en stertwortel ontspan.
Hierdie is egter net algemene tekens (foto 1) en voorsien nie ‘n spesifieke beginpunt van die kalwingsproses nie.
Fase 1: Baarmoedersametrekkings
Dit is belangrik om die spesifieke beginpunt van die kalwingsproses te identifiseer. Van hier af is die proses onomkeerbaar. Fase 1 begin wanneer die onwillekeurige inwendige sametrekking van die baarmoeder ‘n aanvang neem en die baarmoedernek ontsluit.
Die kalf word geposisioneer om reg te lê, sodat dit in die geboortekanaal kan inbeweeg (foto 2). Hierdie inwendige sametrekkings gee aanleiding tot sigbare tekens, naamlik koeie wat onrustig raak, gereeld gaan lê en weer opstaan, na die buik skop, nesmaakgedrag toon en eenkant, weg van die ander koeie, plek soek om te kalf.
Wanneer die veewagter hierdie tekens sien, is dit die begin van fase 1. Dan moet die koei geïdentifiseer word en die tyd aangeteken word. Die onomkeerbare kalwingsproses het nou begin en die koei sal binne die volgende agt ure aktief begin kalf met sametrekkings van die buikspiere. As die koeie vir agt ure of meer die tekens toon wat hier beskryf is, sonder dat die water breek, is daar ‘n abnormaliteit wat verhoed dat die eerste fase van die geboorteproses na die tweede fase oorgaan. Die koei moet ondersoek word om te bepaal of die aanbieding en posisionering van die kalf reg is.
Begin van fase 2
Die tweede fase begin wanneer die watersak sigbaar word en breek. Die kalf word nou uitgedruk deur die aktiewe sametrekking van die buikspiere. Met normale kalwing sal beide die voorhoewe en dan die bene en neus sigbaar word, kort nadat die water gebreek het (foto 3). Die koei druk nou met kort tussenposes en kalwing moet binne die volgende twee ure voltooi wees.
Wanneer die veewagter die eerste tekens van fase 2 sien, moet die tyd aangeteken word. Die koei is nou op die stophorlosie, wat beteken sy moet gemonitor word vir vroeë hulpverlening, waar nodig. Indien net die hoewe sigbaar word, maar daar is geen verdere vordering binne twee ure nie, of die koei hou op druk, is daar ‘n probleem wat die normale kalwingsproses stop. Die bestuurder moet verwittig word en die koei moet stadig na die drukgang aangejaag word vir ondersoek.
Ondersoek en regstel van algemene probleme
Die koei moet ondersoek word om te voel of die kalf reg lê. Lig die koei se stert en was die gedeelte onder die stert met seep en skoon water, en spoel af. Die ondersoeker moet ‘n lang handskoen en smeermiddel gebruik wanneer die koei ondersoek word. Indien daar ‘n eenvoudige probleem met die posisionering van die kalf is, kan dit betyds reggestel word sodat normale kalwing kan plaasvind.
Hier volg ‘n paar van die algemeenste probleme met kalfposisionering wat self reggestel kan word indien dit vroeg genoeg gedoen word, terwyl daar nog genoegsame natuurlike smering is, en die kalf nog nie in die geboortekanaal vasgedruk is nie.
Elmboogslot: Die algemeenste probleem kan gesien of gevoel word as net die neus tussen die twee voorpote sigbaar is; dit beteken dat die voorbene nie reguit is nie en die skouer ‘n wig vorm by die ingang van die geboortekanaal (foto 4). Kalwingstoue moet aan die twee voorbene gesit word, en die kop en lyf moet teruggedruk word om spasie te maak, waarna die voorbene (een op ‘n slag) reguit getrek word (foto 5a en b). Nou sal die elmboë nie meer vashaak nie en kan geboorte normaal plaasvind.
Een voorbeen teruggebuig: Die tweede mees algemene probleem kan gesien of gevoel word as net die neus en een voorbeen in die geboortekanaal is. Dit beteken dat die een voorbeen teruggebuig is. Die skouerknop haak nou in die ingang van die geboortekanaal vas (foto 6a). Die regstelling van hierdie verkeerde posisie is ‘n meer gevorderde prosedure, en indien nodig moet die kuddeveearts gekontak word. Die kalf mag nooit getrek word indien die posisie nie reggestel is nie, want dit kan nooit in die posisie uitkom nie.
Kalwingstou moet aan die een voorbeen gesit word sonder om daaraan te trek. Die kop en bors van die kalf moet teruggedruk word en die hand en arm moet dan diep ingedruk word, oor die rug van die kalf. Die hand word dan aan die sykant van die kalf afgegly totdat die been wat teruggedraai is gevoel word. Die hand word oor die hoef geplaas (om die baarmoeder te beskerm), en dan word dit na die ingang van die geboortekanaal getrek (foto 6 b en c).
Wanneer hierdie voorbeen dan in die geboortekanaal is, word ‘n kalwingstou ook aan hierdie voorbeen gesit en kan die kalf uitgetrek word deur die regte tegniek toe te pas.
Kop teruggebuig: Hierdie is ’n groot probleem wat gesien of gevoel word as net die twee voorbene sigbaar is – dit beteken dat die kop en nek teruggebuig is. Dit vorm ‘n groot wig en ‘n kalf in hierdie posisie kan nooit uitgetrek word totdat die probleem reggestel is nie (foto 7a). Die posisie moet baie vroeg geïdentifiseer en reggestel word, omdat dit later moeilik gedoen kan word as die kalf reeds in die geboortekanaal vasgedruk is.
Kalwingstoue word aan albei voorbene gesit sodat die kalf later getrek kan word wanneer die kop en nek reggebuig is. Die kalf moet op die borsbeen teruggedruk word. Dan word die hand en arm verby die kalf gedruk totdat die kop gevoel word (foto 7b). Die kop moet nou nader aan die geboortekanaal se ingang getrek word om dit reguit te draai. Die punt van die duim en voorvingers kan dan versigtig in die ooghoeke gehaak word as vasvatplek om die kop verder in die geboortekanaal in te trek (foto 7c). Indien die kop nou in die regte posisie lê, kan die kalf uitgetrek word.
Hierdie is ‘n baie moeilike posisie om reg te stel en in meeste gevalle moet ander hulpmiddels gebruik word. Indien die hulpverlener nie opgelei is om dit te doen nie, moet die hulp van die veearts vroegtydig ingeroep word.
Verkeerde aanbieding: Die algemeenste probleem met aanbieding, is waar die kalf agterstevoor in die geboortekanaal inkom. Dit kan vinnig geïdentifiseer word, omdat die onderkant van die hoewe van die kalf na bo wys. Daar kan talle variasies wees waar net die rug van die kalf of net die vier pote gevoel kan word. Met hierdie gevalle is dit aangewese om dadelik die hulp van die veearts in te roep.
Baie groot kalf: Dit is ook moontlik om tydens die ondersoek van die koei te bevind dat die kalf baie groot in verhouding tot die koei is. Dik bene en ‘n groot kop toon dadelik dat normale geboorte nie moontlik mag wees nie en dat die hulp van die veearts tydig ingeroep moet word.
Die regte tegniek om kalwers te trek
Daar is twee basiese tegnieke om ‘n kalf te trek wat in die regte posisie lê, maar nie binne twee ure na die water gebreek het kan uitkom nie.
Eerste tegniek: Sit die kalwingstoue aan sodat die skuifknoop styf trek in die deel waar die voorpoot bo die kootgewrig verdun. Trek eers aan een voorbeen totdat dit ongeveer 10cm voor die ander been is (foto 8). Dit voorkom dat die twee skouerknoppe nie teenoor mekaar lê en ‘n wig vorm wanneer die kalf se skouers in die geboortekanaalingang ingetrek word nie.
Sodra die skouers in die geboortekanaal is, kan die bene saam getrek word. Wag altyd totdat die koei druk voordat getrek word, en ontspan die trekkrag wanneer sy nie druk nie.
Tweede basiese tegniek: Sodra die kalf se skouers uit is moet die kalf sywaarts gedraai word, sodat die heupe makliker in die geboortekanaal kan inkom en nie vashaak nie (foto 9).
Sodra die voorbene uit is, word die arm onder die voorbene en oor die nek gesit om die kalf te draai terwyl dit getrek word.
Wanneer is die kuddeveearts nodig?
Indien die hulpverlener die koei ondersoek het en nie behendig genoeg is om hulp te verleen nie, is dit altyd aangewese om vroegtydig die hulp van die kuddeveearts in te roep. Die veearts het die toerusting en vaardigheid om professionele hulp te gee met moeilike kalwings wat soms ‘n keisersnit verlang.
Die duimreël is dat indien die hulpverlener die kalf nie binne 30 minute korrek kan posisioneer of uittrek nie, die hulp van die kuddeveearts ingeroep moet word. Enige verdere gesukkel gaan lei tot skade aan die kalf of koei en gaan die kanse op ‘n lewendige kalf verminder.
Die beste voorbereiding vir die kalwingseisoen is dat die kuddeveearts jou veewagters en bestuurders oplei in die tegnieke wat toegepas kan word vir die hantering van moeilike kalwings. Terselfdertyd kan die hulpmiddels wat benodig word ook nagegaan of voorsien word. – dr Danie Odendaal, Veearts Netwerk
Vir meer inligting, skakel dr Danie Odendaal by 082 454 0532 of stuur ‘n e-pos na vnet1@absamail.co.za

