Kalwingsprobleme by vleisbeeskoeie word deur verskeie faktore veroorsaak en navorsers klassifiseer die oorsake op verskillende maniere. Een klassifikasiestelsel tref die onderskeid tussen oorsake soos volg: Fetale oorsake, maternale oorsake, ’n kombinasie van die twee, genetiese oorsake en omgewingsoorsake.

’n Ander navorser onderskei bloot tussen direkte en indirekte oorsake. Direkte oorsake sluit in die manier waarop die kalf lê asook probleme wat die koei mag ondervind. Onder indirekte oorsake val aspekte soos fenotipiese effekte op beide die koei en kalf, nie-genetiese en ook genetiese effekte. Fenotipiese effekte sluit aspekte soos die grootte en vorm van beide die koei en kalf asook dragtigheidstydperk in, terwyl nie-genetiese effekte die ouderdom en aantal vorige kalwers, die geslag van die kalf, rantsoen van die koei en die kalfseisoen insluit.

Die genetiese faktore word ook in twee gedeel, naamlik direkte effekte (die kalf) en indirekte effekte (die koei en bul).

Probleme by jonger verse

Kalwingsprobleme by verse kan deur ’n komplekse reeks faktore
veroorsaak word.

In ’n artikel getiteld “Dystocia in beef heifers: A review of genetic and nutritional influences” deur verskeie outeurs verbonde aan die Massey Universiteit, wat in 2007 in die New Zealand Veterinary Journal gepubliseer is, word die waarneming gemaak dat die relatiewe hoër voorkoms van kalwingsprobleme in twee jaar oue verse vergeleke met ouer koeie, daartoe gelei het dat vleisbeesprodusente in Nieu-Seeland daarvan wegskram om 15 maande oue verse by die bul te sit.

Omdat daardie ekstra jaar waarin die verse nie produktief is nie so ’n groot invloed op die produktiwiteit van die totale kudde het, word daar intensief na maniere gekyk om kalwingsprobleme onder jong verse te verminder.

Genetiese seleksie

Die verhouding tussen fetusgrootte en die koei se liggaamsgewig is, volgens die skrywers, die grootste oorsaak vir moeilike kalwings. Die eerste prioriteit is dus om die geboortegewig van die kalf te verminder, maar terselfdertyd ook om die vers se groeikurwe op skedule te hou.

Genetiese seleksie is hier die fokus deur te selekteer vir diere met gunstige teelwaardes vir geboortegewig, kalwingsgemak en dragtigheidsduur. Ongelukkig is hierdie eienskappe nie positief vir groei en karkaseienskappe nie, wat weer op ’n ander manier die produktiwiteit van die kudde beïnvloed. Dit is waar die sogenaamde kurweknakkerbulle – wat ’n kalf met ’n lae geboortegewig produseer, maar met die vermoë om ná geboorte vinnig te groei – op die voorgrond tree.  

Geboortegewig en bouvorm

Gebruik ’n sogenaamde kurweknakkerbul op jou verse om ’n kalf
met ’n lae geboortegewig, maar met die vermoë om vinnig te groei,
te produseer.

Daar is studies wat daarop dui dat kalwingsprobleme by verse toeneem wanneer geboortegewig ’n spesifieke drumpel oorskry. Hierdie drumpel verskil van ras tot ras en is by Angusverse in Amerika op 31kg vasgestel. By Charolaisverse is die drumpelgewig egter aansienlik hoër, naamlik 45,5kg vir bulkalwers en 50kg vir verskalwers.

In Nieu-Seeland word daar ook heelwat klem gelê op die vorm van die skouer as potensiële oorsaak van kalwingsprobleme by verse. Produsente word gemaan om teelbulle wat breed tussen die skouerpunte is of wat ’n groot spasie tussen die blaaie aan die bokant het, te vermy.

’n Studie wat die verskillende hoogte-, breedte- en omtrekmates van kalwers geneem het, het egter tot die gevolgtrekking gekom dat geboortegewig op sy eie presies dieselfde persentasie van kalwingsprobleme verteenwoordig het as geboortegewig in kombinasie met hierdie bouvormmates.

Die pelvismeting van die vers speel ook ’n rol in die voorkoms van moeilike kalwings. In ’n artikel getiteld “Factors Affecting Dystocia in Cattle” deur verskeie outeurs van die Departement van Herkouerwetenskap aan die Landbou-universiteit van Szczecin in Pole, is bevind dat ’n bul met een fenotipiese standaardafwyking bo die mediaan in die pelvisarea, na verwagting sy dogters se gemiddelde pelvisarea met 1,3cm2 kan vergroot en sodoende haar distokietelling met 0,03 punte kan verbeter, in vergelyking met ’n gemiddelde bul.

Die pelvisarea word gedefinieer as die hoogte van die pelvisopening, vermenigvuldig met die wydte. Dit is die hele pelvisarea wat kalwingsgemak beïnvloed, nie net die pelvishoogte nie. Volgens die skrywers is pelvisarea, afgesien van die verhouding tussen die kalf se geboortegewig en die vers se liggaamsgrootte, die eienskap wat die grootste invloed op moeilike geboortes by verse het.

Voeding tydens dragtigheid

Navorsingsresultate oor die effek van voeding tydens laatdragtigheid op kalwingsgemak verskil. Sommige navorsers het gevind dat voeding wel kalwingsprobleme veroorsaak, terwyl ander geen werklike effek gemerk het nie.

Dit blyk dat nie lae óf hoë voedingspeile by verse konsekwent die voorkoms van moeilike kalwings beïnvloed nie. Dit is wel duidelik dat voeding gedurende dragtigheid by jong verse ’n effek op die groei van die vers het, en dat dit dan weer ’n impak op die verhouding tussen die kalf se gewig en die vers se liggaamsgrootte by kalwing het.

Hoewel ’n gebalanseerde rantsoen met genoeg minerale en vitamiene vrylik beskikbaar moet wees om moeilike kalwings te verminder, wys Zaborski et al. (2009) daarop dat beide te veel vitamien D en te min kalsium, veral gedurende laatdragtigheid, tot moeilike kalwings kan lei. ’n Amerikaanse studie (Wittum et al., 1990) het ook daarop gedui dat kalwingsprobleme by koeie verminder het toe katoenoliesaad by die winterlek ingesluit is, en die koeie voldoende hoeveelhede hooi beskikbaar gehad het. Hierdie studie het ook gevind dat kalwingsprobleme deur liggaamskondisietelling gedurende laatdragtigheid beïnvloed word.

Laatdragtige koeie behoort daagliks ten minste 2% (droëmateriaal) van hul liggaamsgewig in die vorm van goeie hooi in te neem. Die kalsium- en fosfaatinhoud van die rantsoen moet onderskeidelik 0,6 en 0,4% van die droëmateriaal wees. Verder is vitamien A, D en E in genoegsame hoeveelhede net so belangrik.

https://agriorbit.com/meng-self-wetenskaplik-gebalanseerde-fosfaatlekke-en-spaar-al-die-pad/

Die studie het verder getoon dat die tipe rantsoen kalwingsprobleme indirek kan beïnvloed. Koeie op ’n konsentraatrantsoen het ’n kleiner rumen as koeie wat op weidings loop. Dit voorsien meer spasie aan die uterus, wat weer ruimte laat vir meer gereelde torsie van die uterus.

Rumengrootte as bydraende faktor tot kalwingsprobleme bly egter twyfelagtig. ’n Studie deur Amanlou et al. (2008) het die effek van koring as graan op die vlak van kalwingsprobleme by Holsteinkoeie bestudeer en geen verband gevind nie. Nog ’n studie, deur Manninen en Taponen (2004), het na die invloed van akkurate voeding teenoor onakkurate voeding op kalwingsprobleme by vleisbeeskoeie gekyk en geen betekenisvolle verskille opgemerk nie.  

Samevatting van kalwingsprobleme

Alhoewel kalwingprobleme by verse deur ’n komplekse reeks faktore veroorsaak word, blyk dit dat die enkel grootste bydraende faktor tot kalwingprobleme, die verhouding tussen geboortegewig en die fisiologiese ouderdom van die vers is. Maak dus seker dat verse goed uitgegroei het teen die tyd dat hulle die eerste keer kalf, deur die korrekte voeding te verskaf.

Die manipulasie van geboortegewig is ook moontlik deur kurweknakkerbulle op jou verse te gebruik, sodat jy ’n klein kalfie by geboorte kry, maar met die potensiaal om ’n bevredigende speengewig te bereik en verder ook in die voerkraal goed te presteer. Dit sal ook voordelig wees om pelvismetings in jou seleksiekriteria in te sluit.

Liggaamskondisietelling, wat grootliks deur voeding beïnvloed word, is ’n uiters belangrike bestuurspraktyk om te verseker dat jou kudde optimaal funksioneer. Dit kan kalwingsgemak, melkproduksie, kalfinterval, speengewig en uiteindelik jou netto wins beïnvloed.

Dragtigheidskoerse in ’n vleisbeeskudde word eerstens beïnvloed deur liggaamsenergiereserwes met kalftyd, en liggaamskondisie is die enkel belangrikste faktor wat bepaal hoe lank ná kalwing die koei weer in siklus sal gaan. Liggaamskondisie bepaal ook hoe die koei op voerinname ná kalwing gaan reageer. – Izak Hofmeyr, Veeplaas

Vir meer inligting of bronverwysings, kontak die outeur by izak@plaasmedia.co.za.