Thursday, December 12, 2024

Voorkomende en bestraffende skorsing

Estimated reading time: 4 minutes

Gevallestudie:

Die werkgewer se vee verdwyn teen ’n spoed, en hy vermoed dat een van sy werknemers betrokke is. Hy besluit om bykomende kameras rondom die plaas te installeer en betrap die skuldige só op heterdaad. Hoewel die werkgewer vry is om afsonderlik met ’n kriminele aanklagte voort te gaan, vereis arbeidswetgewing dat hy eers ’n dissiplinêre verhoor hou om te verseker dat enige ontslag van die werkgewer prosedureel en substantief billik is. Mag die werkgewer die werknemer intussen skors?

Om ’n werknemer te skors is ’n algemene gebruik in die werkplek. Werkgewers moet egter sorg dat hulle die korrekte prosedures volg wanneer hulle beide voorkomende en bestraffende skorsing oplê, om te verhoed dat hul besighede onnodig in gevaar gestel word.

Wat is voorkomende skorsing?

Voorkomende skorsing word opgelê wanneer ’n werkgewer vermoed dat ’n werknemer óf die besigheid se dissiplinêre kode óf die dienskontrak se bepalings en voorwaardes oortree het. Weens die aard van die beweerde wangedrag of oortreding en gebrek aan bewys van skuld, kan die werkgewer voortgaan om, hangende ’n ondersoek, die werknemer op ’n voorkomende basis te skors, veral as daar ’n moontlikheid is dat die werknemer enigsins met die ondersoek kan inmeng.

Neem kennis dat voorkomende skorsing met volle betaling en voordele moet geskied. Die werknemer moet verstaan dat hy of sy nie gestraf word nie en geen vooroordeel in die algemeen of ten opsigte van vergoeding sal ly nie. Voordat ’n werknemer op ’n voorkomende basis geskors word, moet die werkgewer seker maak dat daar regverdigbare redes is om die werknemer uit die werksplek te verwyder, hangende ’n interne ondersoek.

Vind uit wat die wet se oor huurarbeiders hier.

Tipiese scenario’s waar voorkomende skorsing toegepas kan word, sluit in gevalle van diefstal, bedrog, growwe nalatigheid, misbruik van die werkgewer se eiendom en dies meer. Elke saak moet op sy eie meriete beoordeel word, maar gewoonlik sal voorkomende skorsing nie vier weke oorskry nie, hoewel dit langer kan wees in gevalle waar ’n intensiewe ondersoek vereis word.

Ten einde vir die dissiplinêre verhoor voor te berei, het die werknemer die reg om bykomende inligting en hulpmiddels (insluitend ’n tolk, getuies, uitstel van die verhoor, en verdere inligting of dokumentasie) te versoek, deur minstens 24 uur vóór die dissiplinêre verhoor, ’n prosedurele aansoekvorm te voltooi.

Wat is bestraffende skorsing?

Bestraffende skorsing is ’n vorm van straf ná ’n dissiplinêre verhoor waarin ’n werknemer skuldig bevind is aan wangedrag of ’n oortreding van die dienskontrak se bepalings en voorwaardes. Bestraffende skorsing is ’n sanksie wat op die werknemer opgelê kan word as ’n alternatief vir ontslag, en is sonder betaling en voordele.

Bestraffende skorsing kan toegepas word in enige geval van wangedrag, waar die dissiplinêre verhoor se uitslag tot ontslag lei, maar die werkgewer nie die werknemer wil ontslaan nie en eerder op ’n swaar straf in die vorm van skorsing sonder betaling en voordele besluit. Elke saak moet op sy eie meriete beoordeel word, maar gewoonlik sal bestraffende skorsing nie langer as twee weke duur nie.

Hou hierdie belangrike datums op die arbeidsregkalender dop.

Algemene foute en slaggate

Foute wat werkgewers dikwels met betrekking tot skorsing maak, sluit in:

  • Om nie die korrekte prosedure te volg nie.
  • Om nie die werknemer duidelik in te lig dat hy of sy geskors is, die rede vir die skorsing sowel as die tipe skorsing (voorkomend of bestraffend), en die duur van die skorsing nie.
  • Om die werknemer sonder substantiewe rede te skors (onvoldoende of verkeerde rede vir die skorsing).
  • Om nie die werknemer die geleentheid te gee om sy of haar saak te stel nie.
  • Om nie die werknemer te vergoed (volle betaling en voordele) gedurende die tydperk van voorkomende skorsing nie.

Lees wat gebeur wanneer grappies nie meer snaaks is nie.

Die werkgewer moet dit baie duidelik aan die geskorste werknemer stel of hy of sy op ’n voorkomende of bestraffende basis geskors word, ten einde enige verwarring en moontlike verwysings na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) te voorkom. – Emmirenchia Loots, regsadviseur, LWO Werkgewersorganisasie

Popular stories