Thursday, April 24, 2025

Voorkom sweetsiekte deur deeglike bosluisinspeksies

Estimated reading time:4 minutes

  • Bontpootbosluise kom redelik algemeen in Suid-Afrika voor en laat ’n dik spoor van siektes en probleme.
  • Sweetsiekte is nie ’n baie algemene siekte nie, want nie alle bontpootbosluise besit die vermoë of toksien wat die siekte veroorsaak nie.
  • Die velontsteking veroorsaak wonde waaruit die vog sypel.
  • Diere wat sweetsiekte onder lede het vermaer en ontwater gewoonlik.
  • In gebiede waar bontpootbosluise voorkom, moet diere gereeld voorkomend gedip word.

Bontpootbosluise kom redelik algemeen in Suid-Afrika voor en laat ’n dik spoor van siektes en probleme. Een hiervan is sweetsiekte. Die bosluis is in 2023 in al nege provinsies aangetref, maar die meeste gevalle van sweetsiekte is in die Vrystaat, Noordwes en Limpopo aangemeld, met die noorde van KwaZulu-Natal wat ook deurloop.

Sweetsiekte is nie ’n baie algemene siekte nie, want nie alle bontpootbosluise besit die vermoë of toksien wat die siekte veroorsaak nie. ‘n Enkele bosluis kan egter ernstige simptome veroorsaak. Sweetsiekte word ook soms nat kalwersiekte genoem, omdat dit veral by jong kalwers voorkom.

Volgens dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk word sweetsiekte deur die wyfie-bontpootbosluis, Hyalomma truncatum, oorgedra. Sy het ’n toksien in haar speeksel wat ontsteking op die vel en in slymvliese van die gasheer veroorsaak, insluitend inwendige organe soos die asemhalingskanaal en ingewande.

Die velontsteking veroorsaak wonde waaruit die vog sypel. Dit verdroog en verhard mettertyd.

Lees meer oor klimaatsverandering, bosluise en bosluisoorgedraagde siektes

Siektetekens

Aangetaste kalwers kan binne vier dae nadat die bosluis hulle gebyt het, ’n hoë koors ontwikkel, hul eetlus verloor en lusteloos voorkom. Die oë begin traan en ‘n neusuitloopsel ontwikkel.

Ander tekens is slymvliese in veral die neus en oë wat rooier word, tesame met spoegloop en sere in die mond. Die ooglede kan aan mekaar vaskleef. Die vel onder die ore, blaaie, en tussen die agterbene en die voorbene word gewoonlik warm en daarna klam en taaierig. Hierdie simptome kan later na die hele liggaam uitbrei. Die kalf se hare raak los en kan maklik uitgetrek word. Die vel onder die hare is rooi en pynlik. In sommige gevalle kan die punte van die dier se ore en stert droog word en afval.

Diere wat sweetsiekte onder lede het vermaer en ontwater gewoonlik. Hulle is ook geneig om skadu op te soek. Akute vrektes van 20 tot 30% van die diere wat die siekte opdoen, kan voorkom. In gevalle waar kalwers herstel sal die hare uitval, maar die dier kry met verloop van tyd weer ’n nuwe haarkleed.

Behandeling

Daar is nie middels wat die toksiene in die dier se liggaam verwyder nie en die dier moet dit self verwerk. Dr Odendaal se raad is om die bosluise te verwyder en ondersteunde behandeling soos skadu, goeie voeding en dies meer beskikbaar te stel totdat die toksiene uitgewerk is. Antibiotika word slegs vir sekondêre infeksie gegee om te voorkom dat wonde met bakterieë besmet raak. Dit verander niks aan die toksien self nie. Die geheim is om die siekte so vroeg as moontlik te identifiseer en dadelik op te tree.

Die plaaslike kuddeveearts sal bystand verleen met die behandeling van simptome. Dit is ook wenslik om die dier deeglik te dip om van die bosluise ontslae te raak. Die dier se hele lyf, insluitend sy stert se punt, moet gedip word. Bosluise kan maklik op die stert se punt agterbly en die verwoesting voortsit.

Behalwe vir die stertkwas wat skoon moet wees, is dit ook belangrik om te kyk na areas bokant die hoewe waar bosluise maklik verberg raak. Die aantal behandelings sal afhang van die erns van die voorval en reaksie op behandeling. Die basiese dinge moet reg gedoen word – genoeg skadu, water en kos is die belangrikste hiervan. Kalwers met sere in die mond kan met ’n bottel gevoer word.

Voorkoming is koning

In gebiede waar bontpootbosluise voorkom, moet diere gereeld voorkomend gedip word. Weeklikse inspeksies is belangrik en veral die stertkwasse van die diere moet behandel word. As een geval van sweetsiekte in ’n kudde geïdentifiseer word, moet voorkomende behandeling en inspeksie met meer aandag gedoen word om verdere gevalle te verhoed. – Koos du Pisanie, Veeplaas

Vir meer inligting, skakel dr Danie Odendaal by 082 454 0532.

Clanwilliam-ekspo toon goeie groei

Estimated reading time: 10 minutes Die Canwilliam-eskpo wat na Covid erg onder vandalisme deurgeloop het,...

Beplande speentyd en aksies het groot waarde

Estimated reading time: 7 minutes Die geslaagde speen van vleisbeeskalwers hou verskeie voordele in. Die speenneusringmetode...

Sectoral Determination 13 in a nutshell

Estimated reading time: 4 minutes South Africa’s labour legislation is highly regulated, creating a challenging...

Frikkie Wentzel: Om te boer, is in my hart

Estimated reading time: 5 minutes Frikkie Wentzel het tydens die Oos-Kaapse Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV Oos-Kaap)...