Elke Suid-Afrikaanse burger geniet die grondwetlike reg dat die omgewing tot voordeel van huidige en toekomstige geslagte beskerm word. Natuurlike woude, bosse en plantasies vorm ’n belangrike deel van Suid-Afrika se ekologie en ekonomie. As sulks is dit belangrik dat hierdie gebiede volhoubaar bestuur word.

Read it in English

Die Nasionale Wet op Bosse, 1998 (Wet 84 van 1998) (die Wet) is die primêre wetgewing wat van toepassing is in die regulering van volhoubare bosboubestuur. Hierdie wetgewing is opgestel en gepromulgeer in dieselfde era as ander stukke omgewingswetgewing, soos die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur, 1998 (Wet 107 van 1998) en die Nasionale Waterwet, 1998 (Wet 36 of 1998). Dit vorm deel van wetgewing wat die volhoubare bestuur van natuurlike hulpbronne reguleer.

Beskermende funksies van die Wet op Bosse

Die Nasionale Wet op Bosse beskerm natuurlike woude, bosagtige gebiede, plantasiewoude (maar nie boorde nie), enige opbrengste vanuit hierdie areas asook die ekosisteem waarvan dit deel vorm. Verder poog dit om bosse, woude en bedreigde boomspesies te beskerm en gemeenskapsbetrokkenheid by bosbou te bevorder.

Die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye (die departement) is verantwoordelik vir die implementering en toepassing van die Wet. Ten einde die doelstellings daarvan te bevorder kan die departement sekere maatreëls, standaarde en kriteria daarstel waaraan enige persoon of entiteit wat by bosbou betrokke is, moet voldoen.

Die departement beskik verder oor die bevoegdheid om areas en boomspesies wat spesiale beskerming onder die Wet geniet, te identifiseer. Hierdie bome mag nie afgekap, beskadig, vernietig, versteur, besit, verwyder, vervoer, gekoop, verkoop of op enige ander manier verkry word nie, tensy ’n spesiale lisensie daarvoor uitgereik is of een van die Wet se uitsluitings daarop van toepassing is.

Die departement kan verder die registrateur van aktes versoek om ’n endossement op die titelaktes van grond waarop beskermde areas en bome voorkom, te maak. Só ’n endossement sal vir voornemende oordragnemers van die eiendom aandui dat ’n beskermde spesie of woud op die stuk grond voorkom.

Regulering van magte

Alhoewel die departement se magte ingevolge die Wet wyd strek, word die uitvoering van die departement se magte streng gereguleer. Die Wet maak voorsiening vir ’n reeks beginsels wat amptenare van die departement se optrede moet lei alvorens ’n besluit in terme van die Wet geneem word.

Hierdie beginsels sluit onder andere die volgende oorwegings in:

  • Natuurlike woude moet so ver as moontlik nie vernietig word nie. Derhalwe mag natuurlike woude net vernietig word in uitsonderlike gevalle, waar die departement van mening is dat die vernietiging (en die voorgestelde nuwe gebruik vir die stuk grond) ekonomiese, sosiale of omgewingsgerigte voordele inhou.
  • ’n Minimum aantal van elke tipe bos en boom moet bewaar bly.
  • Woude en bosse moet so bestuur word dat die biologiese diversiteit, ekosisteme en habitatte daarin beskerm word en die potensiële ekonomiese, sosiale en omgewingsvoordele daaraan verbonde, volhoubaar onderhou word. Woude en bosse se gesondheid moet bevorder word en ander natuurlike hulpbronne, soos water en grond, moet beskerm word.

Laastens is dit belangrik om daarop te let dat, sou ’n persoon of entiteit die bepalings van die Wetoorskry, die persoon of entiteit met enigiets van ’n boete tot gevangenisstraf vir ’n maksimum van drie jaar, gestraf kan word. – VDT Attorneys

Hierdie artikel is slegs vir inligtingsdoeleindes bedoel en is ’n bondige uiteensetting van die bovermelde regsposisie. Al die fynere nuanses soos uiteengesit in die bovermelde wetgewing word nie noodwendig gemeld nie. Hierdie artikel moet onder geen omstandighede as formele regsadvies beskou word nie.