Plaasaanvalle en -moorde het baie aandag in die tweede helfte van 2020 geniet en groot aksies is geloods om bewusmaking rondom dié probleem te verhoog.
Landelike misdaad word in vier kategorieë verdeel, naamlik omgewings-, landbou-, gewelds- en ander misdade. Landboumisdaad verwys spesifiek na alle misdaad op landbougrond, en binne hierdie kategorie bly veediefstal ’n groot uitdaging, aangesien dit die misdaadtipe is wat gemeenskappe die meeste teister en die grootste ekonomiese impak het.
Dit laat die vraag ontstaan oor wat werklik aan die gang is met betrekking tot landelike misdaadtendense in Suid-Afrika.
Ontleding van misdaadsyfers
Verskeie instansies monitor die statistieke rondom plaasaanvalle en -moorde. Figuur 1 toon diestatistieke van die onderskeie instansies, met die verskille in data tussen instansies duidelik sigbaar.
Figuur 1: Plaasaanvalstatistieke tussen 2013 en 2019. (Bron: Africa Check)

Een van die redes waarom die syfers verskil, het te doen met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se definisie van plaasaanvalle. Volgens die SAPD is plaasaanvalle “dade van geweld gemik op ’n persoon wat op ’n kleinhoewe of plaas woon, werk of dit besoek”. Volgens die Instituut van Sekuriteitstudies (ISS), teken die SAPD dus enige voorval wat op landbougrond plaasvind as ’n plaasaanval aan, sonder enige verdere onderskeid tussen voorvalle, wat tot hoër syfers aanleiding gee.
’n Verdere rede kan aan die tydperk waaroor voorvalle aangeteken word, toegeskryf word. Onafhanklike organisasies hou rekord van gevalle volgens ’n kalenderjaar, terwyl die SAPD gevalle volgens ’n finansiële jaar meld.
’n Derde rede vir die verskille in misdaadsyfers is die getal kommersiële landbouprodusente in Suid-Afrika wat in die berekenings gebruik word om die hoeveelheid aanvalle per 100 000 produsente aan te dui. Dié statistieke is op ’n sensus van kommersiële landbou wat in 2007 uitgevoer is gebaseer en kan moontlik tot verkeerde gevolgtrekkings lei. Die statistieke is eers vanjaar na aanleiding van ’n sensus in 2017 bygewerk.
Plaasaanvaltendense
Alhoewel daar geredeneer kan word oor watter syfers korrek is of watter definisie mees gepas is, kan een afleiding wel gemaak word: Plaasaanvalle het oor die laaste paar jaar toegeneem.
AfriForum het ’n verslag oor plaasaanvalle en -moorde wat op gevalle in 2019 gebaseer is, vrygestel. Dié dokument toon dat Gauteng die grootste getal aanvalle (30%) aangeteken het, gevolg deur Noordwes (15%) en Limpopo (11%). Sowat 59% van die aanvalle het op plase plaasgevind en 37% op kleinhoewes.
Moorde is by 9% van die aanvalle gepleeg en by ’n verdere 26% was daar pogings tot moord. Aanrandings met die doel om ernstig te beseer is by 9% van die aanvalle aangemeld. Wat die verspreiding van moorde betref, is die hoogste getal vir die Vrystaat (19%) aangeteken, gevolg deur Gauteng (14%) en KwaZulu-Natal (14%).
Daar is geen betekenisvolle verskil tussen die dae van die week waarop aanvalle plaasvind afgelei nie, alhoewel effens minder aanvalle op Sondae, Maandae en Woensdae plaasvind. Die meeste aanvalle (61%) vind tussen 18:00 en 3:00 plaas. Dit blyk dat ouer mense geteiken word – die gemiddelde ouderdom van slagoffers is 55 jaar en 42% van alle slagoffers is tussen 60 en 79 jaar oud.
Landelike misdaadtendense
Volgens dr Jane Buys, ’n veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou (VL), toon die misdaadanalise wat VKB/VL se veiligheidslessenaar vir die grendeltydperk van 26 Maart tot 31 Mei vanjaar gedoen het, dat landelike misdaad steeds gedurende die vroeë grendeltydperk plaasgevind het. In dié tydperk het produsente uit 67 van die 84 dorpe in die Vrystaat, misdade op hul plase ervaar.
‘n Totaal van 283 veediefstalverwante voorvalle waartydens 2 199 diere gesteel is, is gerapporteer. Plaasaanvalle (twee), huisbrake, voertuigdiefstal, diefstal van mielies asook diefstal van sonpanele, koperkabels, batterye en brandstof is in dieselfde tydperk aangeteken.
Volgens dr Buys het landelike misdaad toegeneem soos die grendeltydperk van vlak vier na vlak drie en vlak twee afgeskaal het. “Die landbousektor is steeds uitermatig weerbaar vir uitbuiting deur kriminele, veral eiendomsverwante misdade en plaasaanvalle.
“Van 1 April tot 30 September vanjaar het plaasaanvalle met 32% toegeneem, in vergelyking met dieselfde tydperk in die vorige finansiële jaar. Met die instelling van vlak drie, het 29 van die 33 plaasaanvalle tussen 1 Junie en 30 September, in die Vrystaat plaasgevind,” sê sy.
“Polisielede en veral landelike veiligheidskoördineerders is uit landelike gebiede onttrek vir ‘n groter fokus aan die voorkoming van die verspreiding van COVID-19, deur middel van padblokkades. Dit het die polisie se sigbaarheid in landelike gebiede verminder. In sommige boerderygemeenskappe is daar nog goeie samewerking tussen die polisie en plaaslike produsente met betrekking tot beperkte wit-/blouligpatrollies, terwyl dit elders, weens inperkingsregulasies, glad nie plaasvind nie.”
Die hersiene Nasionale Landelike Beveiligingstrategie (NLBS) kan volgens dr Buys grootliks as ’n ‘rakdokument’ gesien word, bedoelende dat daar verminderde mannekrag en hulpbronne in landelike gebiede is en dat samewerking, ondersteuning en die wil van die regering en die polisie om te verseker dat boerderygemeenskappe veilig is, in baie gebiede ontbreek.
Veediefstaltendense
Amptelike statistieke (Figuur 2) wys dat die toename in die getal vee wat jaarliks gesteel word, ook in die 2019/20-finansiële jaar voortgesit is. Dít terwyl die getal sake effens afgeneem het. Op provinsiale vlak het veediefstal in vier provinsies, naamlik die Wes-Kaap, Noordwes, Vrystaat en Limpopo gedaal, met toenames wat in al die ander provinsies aangeteken is.
Figuur 2: Veediefstal en aanmeldings tussen 1994 en 2020. (Bron: Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum)

Die grootste afname is in die Wes-Kaap waargeneem, waar veediefstal met sowat 23% gedaal het, terwyl Gauteng die grootste styging (ongeveer 17%) aangeteken het. Die finansiële koste verbonde aan die vee wat in die vorige boekjaar gesteel is, is op net meer as R1 179 miljoen bereken. Hiervan is R867,8 miljoen se vee nie teruggevind nie.
Verliese weens veediefstal is waarskynlik veel hoër as wat in die statistiek getoon word. Volgens die sogenaamde Slagoffers van Misdaad-verslag van 2018, is slegs sowat 29% van alle veediefstalgevalle in die 2017/18-finansiële jaar by die polisie aangemeld. Een moontlike rede hiervoor is dat produsente net sake aanmeld waar groot getalle vee gesteel is en dalk glo dat een of twee gesteelde skape nie die moeite werd is om aan te meld nie.
Volgens Willie Clack, voorsitter van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum, dui die getal veediefstalsake wat afneem terwyl die getalle van gesteelde vee toeneem, daarop dat meer vee per geval gesteel word. Volgens hom bly die verhouding tussen die getal skape, beeste en bokke wat jaarliks gesteel word in ewewig oor jare, selfs op provinsiale vlak.
Vlak vyf van die grendeltydperk het ’n beduidende effek op veediefstal gehad. Volgens Clack was veediewe ook ingeperk en kon nie rondbeweeg nie. “Vir misdaad om plaas te vind, moet die oortreder kan beweeg en teikens identifiseer om te steel.”
Soos die grendeltydperk se vlakke verslap het, is die beweging van mense vergemaklik en het veediefstal toegeneem. Dit is nou maandeliks hoër as gewoonlik. Die bekendmaking van veediefstalstatistiek een maal per jaar is beperkend, aangesien die maandelikse tendense nie waargeneem kan word nie.
Een van die nagevolge van die grendeltydperk is dat baie meer mense nou werkloos is. Dit, meen Clack, het ’n bykomende impak op veediefstal. “Veeslagting neem veral in hierdie stadium toe. Onthou, hierdie slagting is nie vir die pot nie, maar vir die georganiseerde slag en verkoop van vleis,” sê hy.
Dit is wel duidelik dat probleemareas (hotspots) oor tyd dieselfde bly en dat die SAPD nie ’n impak op hierdie plekke maak nie. – Dr WA Lombard, Departement Landbou-ekonomie, Universiteit van die Vrystaat
Vir meer inligting of bronverwysings, kontak die outeur by Lombardwa@ufs.ac.za.
