Voerkraalsiektes wat vermy moet word

Estimated reading time: 7 minutes

  • Siektetoestande in ’n voerkraal kan vinnig groot afmetings aanneem, aangesien hoë konsentrasies diere in betreklike klein spasies aangehou word.
  • Dr Alnora le Riche, ’n voerkraalveearts van Elanco Dieregesondheid, verduidelik dat infeksiesiektes deur patogeenorganismes, of die toksiese byprodukte van daardie organismes, veroorsaak word. Metaboliese siektes behels weer enige toestand wat die normale metabolisme versteur.
  • Lugweginfeksie is een van die algemeenste siektes in voerkrale. Dr Le Riche sê diere wat deur voerkrale aangekoop word, is afkomstig vanaf verskillende areas of plase en word dan by die voerkrale saamgegroepeer.
  • Herkouers wat te vinnig aan groot hoeveelhede stysel in die dieet blootgestel word, kan suurpens of asidose ontwikkel. Die mikroörganismes in die rumen moet aanpas om stysel te kan verteer.
  • Mankheid kom ook redelik algemeen in voerkrale voor. Beserings kan tydens vervoer opgedoen word en daarom is dit noodsaaklik om seker te maak die vragmotors en krale waar die diere aangehou word, vry is van voorwerpe wat hulle kan beseer.

Siektetoestande in ’n voerkraal kan vinnig groot afmetings aanneem, aangesien hoë konsentrasies diere in betreklike klein spasies aangehou word. Die algemeenste probleme kan in twee groepe verdeel word, naamlik infeksiesiektes en metaboliese sindrome.

Dr Alnora le Riche, ’n voerkraalveearts van Elanco Dieregesondheid, verduidelik dat infeksiesiektes deur patogeenorganismes, of die toksiese byprodukte van daardie organismes, veroorsaak word. Metaboliese siektes behels weer enige toestand wat die normale metabolisme versteur.

Infeksiesiektes sluit onder andere lugwegsiektes (viraal en bakteries), beesvirusdiarree (BVD) en klostridiale infeksies soos bloednier by skape en rooiderm, sponssiekte en knopvelsiekte by beeste in. Die impak wat bek-en-klouseer op die voerkraal- en veebedryf oor die algemeen gehad het, is welbekend. Metaboliese toestande soos suurpens (asidose en subkliniese asidose) en opblaas kom ook redelik algemeen voor.

Klik hier om meer oor die Dieregesondheid te wete te kom.

Longsiektes in die voerkraal

Lugweginfeksie is een van die algemeenste siektes in voerkrale. Dr Le Riche sê diere wat deur voerkrale aangekoop word, is afkomstig vanaf verskillende areas of plase en word dan by die voerkrale saamgegroepeer. Sodoende word hulle blootgestel aan respiratoriese patogene waarteen hulle nog nie genoeg immuniteit ontwikkel het nie. Omdat hulle redelik dig op mekaar staan in veilingskrale, op trokke en in houkrale, word die oordrag van dié patogene vergemaklik. Veral jonger diere wat in suboptimale kondisie is, is ’n risikogroep.

“Stres speel ’n groot rol in die ontwikkeling van siektes by individuele diere en plaas hul immuniteit onder druk. Die oogmerk is altyd om dit tot die minimum te beperk. Ongelukkig is vervoer, nuwe kampmaats, ‘n nuwe omgewing en voer, koue, reën en die stowwerige omgewing van ’n voerkraal stressors wat moeilik is om te voorkom of beheer. Hierdie faktore werk saam om die boonste deel van die respiratoriese stelsel se vermoë om weerstand te bied, te verminder. As jong diere reeds ’n swak immuniteit het vanweë gebrekkige oordrag vanaf die moeder, maak dit hulle nog meer vatbaar vir die opdoen van longinfeksies,” sê sy.

Spysverteringsteurnisse

Jong diere is gewoonlik afkomstig vanaf plase waar hul voer hoofsaaklik uit natuurlike weiding bestaan het. “Herkouers wat te vinnig aan groot hoeveelhede stysel in die dieet blootgestel word, kan suurpens of asidose ontwikkel. Die mikroörganismes in die rumen moet aanpas om stysel te kan verteer.

“Melksuurproduserende organismes vermeerder uiters vinnig as die styselinhoud van die dieet verhoog. Die organismes wat weer die melksuur moet verwerk, neem egter tyd om te vermeerder (gemiddeld twee weke). Dit neem die herkouer se rumenmikrobes dus sowat 14 dae om genoegsaam aan te pas.”

Indien die melksuurproduserende organismes te veel toeneem, verlaag die pH in die rumen te veel en dit lei tot asidose. As ’n hele aantal diere tydens die eerste twee weke na aankoms ’n los stoelgang het, is dit dikwels ’n teken dat asidose tot ’n mate teenwoordig is. Dit is dus noodsaaklik dat die diere oor ’n tydperk van minstens twee weke geleidelik by die nuwe dieet aangepas word.

“Selfs al vrek die dier nie van asidose nie, kan die suur pH die villi van die grootpens (rumen) tot so ’n mate beskadig, dat die dier nie die voedingstowwe wat hy inneem optimaal kan absorbeer nie; so word die dier se groei ingeperk.”

Asidose kom egter nie net by nuwe diere voor nie. Kripbestuur en die voorsiening van ’n ad lib-rantsoen is baie belangrik. Indien bestuursprobleme veroorsaak dat daar soms vir langer tye nie genoeg voer in die kripbakke is nie, kan dit gebeur dat die diere hulle oorvreet aan konsentraat.

Verder kan reën en erge wind veroorsaak dat die diere by tye nie genoeg vreet nie, en hulle dan weer oorvreet sodra die weersomstandighede verbeter. “In sulke tye help die voorsiening van ekstra ruvoer om die voorkoms van asidose met al sy komplikasies te vermy.”

Mankheid onder voerkraaldiere

Mankheid kom ook redelik algemeen in voerkrale voor. Beserings kan tydens vervoer opgedoen word en daarom is dit noodsaaklik om seker te maak die vragmotors en krale waar die diere aangehou word, vry is van voorwerpe wat hulle kan beseer.

Nog ’n oorsaak van mankheid is vrotpootjie. Die bakterie wat dit veroorsaak oorleef in die grond. Net een poot word gewoonlik aangetas. Dit gebeur wanneer die vel tussen die kloue beseer word en die infeksie die klou binnedring. Krale of weidings wat vir lang tye nat en modderig is, verhoog die voorkoms van vrotpootjie. Dit is baie pynlik en die infeksie kan ook na die gewrigte bokant die kloue versprei as dit nie vroegtydig behandel word nie. Goeie dreinering en die gereelde skoonmaak van krale help om die probleem te bekamp.

Wees ook bedag op laminitis wat op asidose volg. Hier word al vier pote aangetas en die sensitiewe dele in die kloue ontwikkel inflammasie. Sulke diere loop besonder moeilik en kloue kan permanent misvorm wees. Goeie kripbakbestuur is nodig om die oorsaak, suurpens, te voorkom.

Rooiwater, galsiekte en hartwater

Rooiwater, galsiekte en hartwater word deur bosluise oorgedra. Voordat diere in die voerkraal opgeneem word, word hulle gewoonlik behandel om alle ektoparasiete te verwyder. Indien die middel doeltreffend is, behoort parasiete nie in die voerkraal te oorleef nie.

Dr Le Riche sê dit is belangrik dat hierdie siektes voorkomend behandel word, aangesien daar gewoonlik ’n inkubasietydperk is voor simptome sigbaar word. Die diere kan dus reeds in die voerkraal wees wanneer simptome eers duidelik word. Hierdie siektes is gewoonlik noodlottig indien dit nie vroeg opgemerk en behandel word nie.

Virussiektes in die reëntyd

Virussiektes wat deur insekvektore oorgedra word, is veral in die reënseisoen van belang. Dit sluit siektes soos knopvelsiekte by beeste en bloutong by skape in.

Voerkrale se wateropgaarplekke moet behoorlik bestuur word, aangesien dit ’n broeiplek vir insekte soos vlieë, muggies en muskiete kan word. Sommige bosluisspesies soos die bloubosluis, bruinoorbosluis en bontbosluis kan as vektore vir veral knopvelsiekte optree.

Indien die moeders ingeënt was, behoort kalwers en lammers reeds ’n mate van maternale immuniteit met opname in die voerkraal te hê. Beeste word oor die algemeen weer ingeënt met opname, aangesien iets soos knopvelsiekte hoog aansteeklik is en vinnig deur ’n voerkraal kan versprei.

“Die bestuur van die areas waar vektore kan uitbroei, is ’n beter manier om die voorkoms van bloutong in voerkraallammers te voorkom. Dit is oor die algemeen meer effektief om voorkomend teen virussiektes in te ent, aangesien hierdie siektes vrektes kan veroorsaak, nie op antibiotika reageer nie en duur is om met ondersteunende medikasie te behandel. ‘n Dier se voerkraalprestasie word dikwels permanent negatief beïnvloed deur so ‘n siekte.”

Aansteeklike omlope

Omlope word veroorsaak deur ’n swam wat in die buitenste laag (keratien) van die haarwortels leef. Voerkrale bied die ideale omgewing vir die verspreiding van omlope, aangesien daar heelwat direkte kontak tussen kraalmaats is. Verder verkeer die diere wat by die voerkraal aankom gewoonlik in die eerste paar weke onder spanning, wat hul immuniteit kan onderdruk.

“Die teenwoordigheid van ander infeksies verhoog ook die kanse dat omlope in die voerkraal kan versprei. Oordrag by mens en dier kan direk deur aanraking of indirek deur besmette hare en so meer plaasvind.” – Koos du Pisanie, Plaas Media

Vir meer inligting, kontak dr Alnora le Riche by 082 495 6989.

Popular stories