HomeMagazinesDie voergehalte van aangeplante weidingmengsels

Die voergehalte van aangeplante weidingmengsels

-

Estimated reading time: 6 minutes

  • Voergehalte en melkproduksie kan verbeter wanneer plantaan 60% van ’n weidingmengsel vorm.
  • Die goeie nuus is dat data getoon het dat alternatiewe weidingspesies en -mengsels sekere van hierdie probleme kan oplos.
  • Gevolglik verminder die behoefte om inname met ander voerbronne soos kragvoer, mieliekuilvoer of hooi (wanneer dit beskikbaar is) aan te vul, op mengsels met voerkruie teenoor kikoejoe en raaigrasweiding.
  • Die sterkste drywer van melkopbrengs in hierdie stelsel was metaboliseerbare energie-inhoud (ME), terwyl NFC en NDF ook ’n rol gespeel het.
  • Alternatiewe weidingmengsels soos dié wat hier bespreek is (relatief tot kikoejoe-raaigras), het die potensiaal om die gehalte van melkkoeie se weiding te verhoog en melkopbrengs te verbeter.

Voergehalte en melkproduksie kan verbeter wanneer plantaan 60% van ’n weidingmengsel vorm. Dit is een van die hoofbevindings van navorsing oor ’n melkweidingstelsel by die Wes-Kaapse Departement van Landbou se Outeniqua-navorsingsplaas op George.

Die proefneming, waarin vier verskillende weidingstipes geëvalueer is, se doel was om te bepaal of plantaan, sigorei en langswenkgras die basis kan vorm van alternatiewe weidingstelsels tot die tradisionele kikoejoe- en raaigrasweiding. Soos verwag, was die koeie wat op die kikoejoe-raaigrasmengsel gewei het se melkopbrengs laer vanaf laatlente tot herfs as op mengsels van langswenkgras, plantaan en rooiklawer, langswenkgras plus plantaan-monokulture, en ’n mengsel van sigorei, lusern en raaigras.

Die weidingsmengselwipplank

Selfs al word ’n meerjarige raaigras geplant, ry weiding bestaande uit kikoejoe en raaigras dramaties wipplank tussen raaigras wat in die winter oorheers word en kikoejoe wat in die somer oorheers word. Voergehalte, en gevolglik ook melkopbrengs, toon dus dieselfde dramatiese patroon. Nie-veselkoolhidraatinhoud (NFC) bied ’n aanduiding van hoeveel stysel, suikers en pektien (alles belangrik vir energie om melk te produseer) in weiding aanwesig is.

Aanplantings met 60% plantaan verseker goeie gehalte weiding en gevolglike volhoubare melkproduksie.
Aanplantings met 60% plantaan verseker goeie gehalte weiding en gevolglike volhoubare melkproduksie.

Waar raaigras die hoofkomponent was, het die NFC hoër geneig terwyl dit afgeneem het waar daar meer kikoejoegras in die weiding was. Neutraalbestande vesel (NDF) het die teenoorgestelde gedoen en het in die somer tot ver bo 55% toegeneem toe kikoejoe oorheers het. Die kommerwekkendste van hierdie stelsel was egter dat die droëmateriaal (DM)-innamepotensiaal dikwels in die somer so laag was, dat ‘n melkkoei sou sukkel om genoeg weiding in te neem om in haar behoeftes te voorsien. Hierdie resultate beklemtoon weereens hoe swak kikoejoe vir melkproduksie is (Figuur 1).

Figuur 1: Melkopbrengs van koeie op verskillende mengsels toon dat mengsels met voerkruie in die somer en herfs ’n hoër opbrengs lewer, maar dat die effek verlore gaan wanneer kikoejoe dit inneem.

Die goeie nuus is dat data getoon het dat alternatiewe weidingspesies en -mengsels sekere van hierdie probleme kan oplos. Albei weidingmengsels wat ’n kombinasie van peulgewasse, voerkruie en gematigde grasse bevat het, het vir twee jaar nadat hulle gevestig is, in die somer en herfs ‘n hoër energie-inhoud gehad. Die DM-innamepotensiaal was ook hoër op alternatiewe weidingmengsels deur die studietydperk.

Gevolglik verminder die behoefte om inname met ander voerbronne soos kragvoer, mieliekuilvoer of hooi (wanneer dit beskikbaar is) aan te vul, op mengsels met voerkruie teenoor kikoejoe en raaigrasweiding. Dit is ’n belangrike bevinding, want kunsmiskonsentrate en ingekoopte voer is van die grootste uitgawes om melk vanaf weiding te produseer.

Lees meer oor Outeniqua-inligtingsdag bied stof tot nadenke.

Parameters vir sukses

Die studie het egter ook duidelik getoon dat nie alle weidingmengsels en hul verskillende komponente ewe goed werk nie. In pogings om die verband tussen veranderinge in weidingsamestelling, voergehalte en melkopbrengs van die langswenkgras-, plantaan- en rooiklawermengsel te vind, is bevind dat slegs drie parameters belangrik is.

Die sterkste drywer van melkopbrengs in hierdie stelsel was metaboliseerbare energie-inhoud (ME), terwyl NFC en NDF ook ’n rol gespeel het. Die energie-inhoud was nou gekoppel aan die plantaaninhoud van die mengsel, wat tot onder die koei se behoefte gedaal het sodra die plantaan minder as 60% tot die weidingsamestelling bygedra het. Terselfdertyd is die energie-inhoud erg negatief beïnvloed toe die weiding deur onkruidagtige subtropiese grasse soos Eragrostis plana, kikoejoe en Paspalum binnegedring is (Figuur 2).

Figuur 2: Metaboliseerbare energie-inhoud van verskillende weidingmengsels.

Die rooi lyn dui die melkkoei se behoeftes aan. Sodra kikoejoe weens indringing die oorheersende komponent word, kan die ME-behoefte nie vervul word nie.

Plantaan kan ook ’n rol speel om inname in die weidingstelsel te stimuleer, aangesien dit met laer NDF (vesel)-inhoud en hoër potensiële DM-inname geassosieer is. In somer- en herfsweidings, wanneer inname en energie-inhoud dikwels melkopbrengspotensiaal beperk, kan plantaan ’n groot verskil maak.

Die buiteperd van die studie was die laaste mengsel van sigorei, lusern en raaigras – ’n gewilde keuse onder produsente in die Wes- en Oos-Kaap. Geen ooglopende patrone of korrelasies was sigbaar nie, en die algemene gevoel is dat die vinnige veranderinge in weidingsamestelling (hoeveel elke komponent tot die geheel bydra) die skuld moet kry (Figuur 3).

Lusern-, sigorei- en raaigrasmengsels is gewild onder produsente in die streek, maar die bestuur van die samestelling kan ’n uitdaging wees.
Lusern-, sigorei- en raaigrasmengsels is gewild onder produsente in die streek, maar die bestuur van die samestelling kan ’n uitdaging wees.

Figuur 3: Impak van lusern op die ruproteïeninhoud van weiding in ‘n sigorei-, lusern- en raaigrasmengsel.

Moeilik om te onderskei

Hierdie tipe weiding verander vinnig, van oorheersend raaigras in die winter ná vestiging, na oorheersend sigorei in die eerste somer en oorheersend lusern in die tweede somer. Die feit dat die voergehalte van al hierdie komponente relatief hoog is, kan beteken dat dit byna onmoontlik is om te onderskei watter een melkopbrengs stimuleer.

Nog ‘n faktor wat ‘n rol kan speel is die probleem om ware veranderinge in samestelling te bepaal in ’n mengsel in ’n weikamp waarvan die samestelling dikwels baie uiteenlopend is. Die enigste klinkklare antwoord wat uit die studie vir hierdie mengsel met betrekking tot voergehalte verkry kon word, is dat indringing deur onkruidgras ten alle koste voorkom moet word.

Alternatiewe weidingmengsels soos dié wat hier bespreek is (relatief tot kikoejoe-raaigras), het die potensiaal om die gehalte van melkkoeie se weiding te verhoog en melkopbrengs te verbeter. ’n Goeie samestelling, met min onkruidagtige grasse en voerkruie as ’n groot komponent, is egter ’n vereiste. – Janke van der Colf, Outeniqua-navorsingsplaas, Wes-Kaapse Departement van Landbou

Vir meer inligting, kontak Janke van der Colf by janke.vandercolf@westerncape.gov.za.

Must Read

LandbouRadio: 7 April 2026

Estimated reading time: 1 minute In Dinsdag, 7 April se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende: Johan gesels met dr Bobbby van der Westhuizen, hoofbestuurder...