Voeding en bestuur van volstruise: Skud jou vere reg!

Estimated reading time: 6 minutes

Volstruisboerderye lewer drie belangrike produkte: vleis, velle en vere. Veral die internasionale aanvraag en pryse het ’n groot invloed op so ’n onderneming se winsgewendheid. Die suksesvolle produksie van lewensvatbare eiers deur broeivoëls, maak dus ’n deurslaggewende bydrae.

Volstruise is plantvretende enkelmaagdiere en het ’n aangepaste spysverteringstelsel met ’n relatiewe lang dikderm wanneer die stelsel ten volle ontwikkel is. Met toenemende ouderdom ontwikkel die vermoë om plantmateriaal, en dus sekere veselkomponente, te verteer. By volstruise vervul die dikderm dus amper dieselfde funksie as die rumen by herkouers.

Voeding van kuikens

Volstruiskuikens word oorwegend kunsmatig grootgemaak en gevolglik is suksesvolle en gebalanseerde voeding tesame met korrekte bestuur en behuising deurslaggewend in die sukses wat behaal word. Relatiewe groot kuikenverliese kan gedurende die eerste twee tot drie maande voorkom weens algemene bestuursprobleme. Gedurende hierdie tydperk kan die stres wat deur kunsmatige omgewingstoestande veroorsaak word, aanleiding gee tot die voorkoms van gedragsafwykings en gevolglike siektetoestande.

Aangesien die kuiken se daaglikse voerinname aanvanklik baie laag is en die vermoë om veselryke voere te verteer eers ontwikkel moet word, is dit belangrik om verskillende rantsoene gedurende sekere fases van groei te voer (vergelyk Tabel 1). Kuikens se voeromsetverhouding (kg voer/kg lewende gewigstoename) is aanvanklik slegs 1,5:1, waarna dit progressief tot ongeveer 4:1 tydens die groeifase verswak. Hierdie aanvanklike gunstige voeromsetverhouding vereis dus dat rantsoene gebalanseerd moet wees vir doeltreffende groei en beenontwikkeling, aangesien relatief klein voedingstekorte of -wanbalanse ’n onmiddellike en groot effek op groeiresultate het.



Vir die beste resultate word kuikens dus in verskillende fases gevoer, wat beteken dat afsonderlike rantsoene met verskille in voedingsdigthede gevoer word gedurende sekere gewigintervalle. Die algemene norm is om die verskillende rantsoene volgens ouderdom te voer, maar eintlik is liggaamsgewig ’n meer korrekte aanduiding vir die tipe rantsoen wat gevoer moet word. So word verseker dat voedingstowwe in die korrekte hoeveelhede voorsien word, volgens gemiddelde daaglikse inname en groeistadium.

Navorsing het getoon dat sekere veselfraksies slegs ongeveer 6% verteerbaar is op ouderdom drie weke, waarna dit toeneem na ongeveer 55% op ouderdom vier maande en dan verder toeneem tot sowat 61,5% vir volwassenes. Die retensietyd van voer in die spysverteringskanaal is ongeveer 40 uur, wat die ensieme en mikrobes voldoende tyd gun om voer te verteer en voedingstowwe doeltreffend vir groei te benut. Die vermoë om laer-gehalte veselryke plantmateriaal te verteer, is op ouderdom vyf tot ses maande (60 tot 65kg liggaamsgewig) ten volle ontwikkel.

Die beste groei vind vanaf ouderdom drie tot ses maande plaas (Tabel 1). Saam met die relatiewe lae daaglikse voerinname en goeie voeromsetverhouding, regverdig dit die hoë-gehalte rantsoene. Met korrekte voeding is groei tydens hierdie fases oorwegend spiergroei, wat ook ’n direkte voordelige effek op karkasgewig het.

Kuikens word dikwels vanaf die ouderdom van ongeveer drie maande ook op weiding, veral lusern, aangehou as alternatiewe voedingstelsel. Indien geen aanvullende voeding dan voorsien word nie, kan dit lei tot swakker groeiresultate en dus langer neem voordat die teikengewig bereik word.

Skoon en goeie gehalte water is ’n belangrike komponent in die daaglikse voedingsprogram van kuikens en beïnvloed suksesvolle been- en skeletontwikkeling. Smaak- en geurmiddels kan ’n belangrike hulpmiddel wees om voerinname te stimuleer, veral tydens gedragsafwykings.

Slagvoël-voeding

Volstruise het ’n aangepaste spysverteringstelsel met ’n relatiewe lang dikderm wanneer die stelsel ten volle ontwikkel is. Hierdie veselverterende vermoë het tot gevolg dat goedkoper ruvoerbronne doeltreffend benut kan word in die voeding van slagvoëls, mits dit op die korrekte stadium en in balans met ander noodsaaklike voedingstowwe gebruik word.

Onder normale voedingsomstandighede styg die voëls se voeromset van ’n liggaamsgewig van 60kg en meer na 8:1 en selfs 10:1 – dus word meer voer vir elke kilogram groei benodig. Die afrondfase is dus die mins winsgewende fase van slagvoëlvoeding. Oormatige hoë-energie voeding vanaf die ouderdom van sowat sewe maande, word minder doeltreffend vir karkasgroei aangewend en vetneerlegging wat nie karkasgewig bevoordeel nie, vind plaas.



Oorvet slagvoëls het swak uitslagpersentasies, aangesien vet oorwegend in die buikholte gestoor word en nie deel vorm van die karkasgewig nie. Oormatige energievoeding kan ook aanleiding gee tot aggressiewe gedrag en beskadigde velle.

Tydens die afrondfase is die hooi-insluiting in die rantsoen ongeveer 60 tot 70%, met gevolglike aansienlike laer koste per ton voer as die voorafgaande drie fases se rantsoene. Die korrekte balans van noodsaaklike aminosure is egter steeds belangrik vir velontwikkeling en veergroei.

Voeding van broeivoëls

Volstruiseiers word oorwegend kunsmatig uitgebroei en ’n hoë geilpersentasie, lae uitbroeibaarheid en baie dopvrektes kan algemeen voorkom. Die korrekte voeding van broeivoëls tydens die teelseisoen is dus belangrik om die maksimum getal lewensvatbare eiers, en sodoende die maksimum getal sterk en lewenskragtige kuikens, te produseer. Die teelseisoen van broeivoëls is ongeveer agt maande (Junie tot Januarie), waarna mannetjies en wyfies normaalweg geskei word vir die rusperiode wat ongeveer vier maande duur (Februarie tot Mei).

Onvoldoende of verkeerde voeding is van die belangrikste oorsake van swak broeiresultate. Die broeirantsoen wat gedurende die teelseisoen gevoer word, moet voldoende proteïen en veral aminosure asook energie in die korrekte en gebalanseerde verhouding bevat, saam met voldoende minerale en vitamiene om optimale eierproduksie te verseker.

Afhangend van die kondisie van broeivoëls voor die aanvang van die teelseisoen, kan die broeirantsoen alreeds twee tot vier weke voor die aanvang van die teelseisoen gevoer word om te verseker dat voëls in die gewenste liggaamskondisie is wanneer mannetjies en wyfies by mekaar geplaas word vir die teelseisoen.

Die daaglikse inname van die broeirantsoen is ongeveer 2,5kg per voël. Dit is raadsaam om ’n meer gekonsentreerde broeirantsoen tydens ’n sikliese, piek eierproduksietydperk te gebruik wanneer wyfies se kondisie opvallend verswak of tydens abnormale, warm weerstoestande met laer daaglikse voerinnames. Hierdie broeirantsoen kan vir kort periodes teen daaglikse innames van 2 tot 2,5kg per voël gevoer word om sodoende voorsiening te maak vir die hoër behoeftes tydens verhoogde produksie of laer daaglikse voerinnames.



Gedurende die rustydperk kan bestuurspraktyke soos die pluk van vere en inentings gedoen word, terwyl die versigtige ‘vermaering’ van oorvet voëls kan plaasvind en liggaamsreserwes herstel. Dit is belangrik om in hierdie tydperk ’n gebalanseerde, lae-energie onderhoudsrantsoen te voorsien wat ook die noodsaaklike aminosure, minerale en vitamiene in voldoende hoeveelhede en korrekte verhouding voorsien, met ’n daaglikse inname van 2 tot 2,5kg per voël. – Deur André Bezuidenhout (Pr.Sci.Nat), Feedtek

Lees meer oor die veranderende Suid-Afrikaanse volstruisbedryf.

Vir meer inligting, kontak die outeur by andre@feedtek.co.za.

Feedtek logo

Popular stories