Estimated reading time: 5 minutes
Die Victoria-Wesskou was vanjaar weer ’n groot sukses. Heelwat meer diere is vir beide die Merino-skou en die Noord-Kaapse Persiekampioenskap ingeskryf, en verskeie ander items is aangebied.
Die skouterrein het oor twee dae gewemel van aktiwiteite, met ’n gewapper van vlae en baniere bokant talle stalletjies wat veral die kinders se aandag getrek het. ’n Opgewonde en vrolike atmosfeer het oor die skougronde geheers.
Merino-skou
Die Victoria-Wesskou het op 6 Februarie met ’n Merino-skou afgeskop waar agt telers 160 stuks Merino’s uitgestal het. Die grootkampioenram kom uit die kudde van Gerrit Viljoen van Richmond. Dieselfde ram het twee weke tevore ook die Richmond-skou gewen.
Volgens die beoordelaars is Merino-ramme van hierdie kaliber uiters skaars. Die grootkampioen Merino-ooi is deur Roeloe van Heerden vertoon.
Slaglamkompetisie
’n Slaglamkompetisie is deur die loop van die dag aangebied, met ’n totaal van 172 skape wat ingeskryf is. Die kompetisie is in twee afdelings verdeel: ’n Vleisras- en ’n Merino-afdeling.
In die vleisrasafdeling is MC Smit as die wenner aangekondig, met WA Badenhorst in die tweede plek. MC Smit het ook die derde plek behaal.
In die Merino-afdeling het Hennie van Heerden beide die eerste en tweede plekke ingeneem en Johan Jooste het derde geëindig.
Noord-Kaapse Persiekampioenskap
By vanjaar se groot Persiekampioenskap wat ook op 6 Februarie afgeskop het, is 270 diere aangebied – verlede jaar was dit slegs 160. Die Persies het in hul onderskeie kleurklasse deelgeneem, insluitend die Swartkop-, Rooikop-, Rooiskilder- en Swartskilderpersies.
Die kompetisie is Saterdagoggend voortgesit en eers teen namiddag is die onderskeie wenners bekendgemaak. Die kampioene en reserwe kampioene is as volg:
Swartskilderpersie:
- Junior ooi: 1. Kobus Lötter, 2. Kasteel Boerdery
- Senior ooi: 1. Koedoeskop, 2. Koedoeskop
- Junior ram: 1. Kasteel Boerdery, 2. Kobus Lötter
- Senior ram: 1. Kasteel Boerdery, 2. Derek Spamer
- Grootkampioenooi: 1. Kobus Lötter en Kasteel Boerdery
- Grootkampioenram: 1. Kasteel Boerdery, 2. Kasteel Boerdery
- Interkleurkampioen: Kobus Lötter
Rooiskilderpersie:
- Junior ooi: 1. Kasteel Boerdery, 2. Kasteel Boerdery
- Senior ooi: 1. Kasteel Boerdery, 2. Black Eagle
- Junior ram: 1. Kobus Lötter, 2. Gerhard Potgieter
- Senior ram: 1. Kobus Lötter, 2. Kasteel Boerdery
- Grootkampioenooi: 1. Kasteel Boerdery, 2. Kasteel Boerdery
- Grootkampioenram: 1. Kobus Lötter, 2. Kasteel Boerdery
- Interkleurkampioen: Kobus Lötter
Swartkoppersie
- Junior ooi: 1. Johan van Druten, 2. Kobus Lötter
- Senior ooi: 1. Guilliam Oberholster, 2. Kobus Lötter
- Junior ram: 1. Kobus Lötter, 2. Johan van Druten
- Senior ram: 1. Derek Spamer, 2. Kingwill Boerdery
- Grootkampioenooi: 1. Guilliam Oberholster, 2. Kobus Lötter
- Grootkampioenram: 1. Kobus Lötter, 2. Johan van Druten
- Interkleurkampioen: Kingwill Boerdery
Rooikoppersie
- Junior ooi: 1. Kasteel Boeredry, 2. Kobus Lötter
- Senior ooi: 1. Casper Byleveld, 2. Kasteel Boerdery
- Junior ram: 1. Kobus Lötter, 2. Guilliam Oberholster
- Senior ram: 1. Kingwill Boerdery en Guilliam Oberholster
- Grootkampioenooi: 1. Guilliam Oberholster, 2. Kobus Lötter
- Grootkampioenram: 1. Casper Byleveld, 2. Kasteel Boerdery
- Interkleurkampioen: Kingwill Boerdery
Nadat die kampioene teen mekaar meegeding het, is die Swartskilderpersie van Kobus Lötter as die interkleurkampioenooi van die skou gekroon. ’n Ses-tand Rooikoppersieram van Kingwill Boerdery is as interkleurkampioenram aangewys.
Opkomende produsente
Die Saterdagoggend is ’n skou vir opkomende produsente aangebied, waar Thys Agterdam van Victoria-Wes met die louere weggestap het. Hy vertel dat hy ’n boorling van die dorp is en tans by die munisipaliteit werk, maar dat sy hart steeds by sy boerdery lê.
Om die jongmense meer te betrek, is ’n jeugskou aangebied en leerders van onder meer Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn het die geleentheid aangegryp om deel te neem. Hoewel dit ’n vriendskaplike jeugskou was, beoog die skoukomitee om dit tot een van die top jeugskoue in die land te ontwikkel.
Die vee-afdeling was die hoofaantrekkingspunt van die skou. ’n Interessante skaaphondvertoning het vir vermaak gesorg en die middag is die saalperdkampioenskap aangebied. – Koos du Pisanie, Plaas Media