Tuesday, January 13, 2026

Verwoestende veldbrand tref Dendron – boere veg verwoed

Estimated reading time: 3 minutes

‘n Verwoestende veldbrand wat Sondag opnuut opgevlam het, het drie boere met ernstige brandwonde in die hospitaal laat beland, ʼn plaashuis afgebrand en duisende hektaar weiveld vernietig. Teen vanmiddag (Maandag) het talle boere nog geveg om die brand onder beheer te kry.

Sover vasgestel kon word, het geen beeste gevrek in die brande nie. Die vermoede bestaan dat die brand, wat ‘n paar dae tevore al ontstaan het, kwaadwillig gestig is. Die samewerking van die boeregemeenskap van Dendron en verder weg, het baie gehelp om die boere te midde van die groot skade, positief te hou en saam te laat veg.

Brandbeserings

Franna du Toit, wat in diens is van Hannes Bekker, was vandag nog in die intensiewe eenheid van ‘n hospitaal op Polokwane waar hy glo in ‘n bestendige toestand is. John van Rooyen en sy seun, Fielies, het ook ernstige brandwonde opgedoen en is ná behandeling ontslaan, sodat hulle tuis kan aansterk.

John sê Sondagmiddag het die brand, wat al van die vorige week plek-plek opgevlam het, krisisafmetings aangeneem. Meer as 100 boere en plaaswerkers het die brand beveg met voorbrande en brandbestrydingstoerusting, maar die wind het dikwels van rigting verander en hulle werk bemoeilik.

John sê hy was besig om sy buurman te help om beeste voor die brand weg te kry, toe die vlamme hulle omring het. In sy poging om voor die brand uit te jaag, het hy agter van ‘n bakkie afgeval en brandwonde opgedoen. Sover hy kon vasstel was Fielies en Franna ook deur die vlamme vasgekeer en beseer. Van die ander brandbestryders het ligter brandwonde opgedoen. Boere van so ver as Mara en Legkraal het kom help om die brand te bestry.

Die skade is groot

Hy sê minstens vyf plase is heeltemal of gedeeltelik afgebrand. Van die boere wat skade gely het, is Oubaas Visagie, Danie van Niekerk, Hannes Bekker, Alta Blofield en Al3-Boerdery. Alta se hele plaas, Tweefontein, het afgebrand en haar huis se struktuur is ook deur die vlamme beskadig en waarskynlik nou onbewoonbaar. Sy en haar familie was vandag nog besig om ‘n opname van die skade te doen.

Sy was op die plaas tydens die brand en het haar na die kamp waar haar beeste loop, gehaas. Daar het sy en ‘n brandbestryder die drade afgeknip en kon die beeste uit die pad van die vlamme jaag. Kallie Visagie het Maandagmiddag gesê die brand woed nog en smeul ook op baie plekke. Sy 1 000-hektaar plaas het ook heeltemal afgebrand, maar sy beeste kon na landerye uitwyk voor die vlamme hulle ingehaal het. Hy sê die welwillendheid van die boere van die omgewing is ongelooflik – hy is klaar gehelp met weiding vir sy beeste.

Van die boere glo die brand is die gevolg van brandstigting. Een van die boere beweer hy het gesien hoe ‘n man die veld aan die brand steek waar vier plase se grensheinings bymekaarkom. Toe hy hom konfronteer het hy gesê hy wil ‘n voorbrand maak, maar hy het glo geen hulp by hom gehad om dit te doen nie.

‘n Ander boer meen die aanvanklike brand het dalk op regeringsplase in die omgewing begin, waar struweling onder bure dikwels op hierdie manier opgelos word. Die brand het glo uit die rigting van daardie plase versprei. ‘n Amptelike ondersoek sal hopelik meer duidelikheid gee. – Andries Gouws, Plaas Media

Popular stories