Metereoloog, Johan van den Berg, tydens sy voordrag by die 2024 LRF Veeskool.

Estimated reading time: 2 minutes

Veeskool-afgevaardigdes het op die eerste dag van die jaarlikse geleentheid van die Lewendehawe Registrerende Federasie (LRF) gehoor hoewel Suid-Afrikaanse produsente hulself moet gereed maak vir ‘n droë begin van die somerreënvalseisoen, die land gemiddelde tot bogemiddelde reën van November (ooste) en Desember/Januarie (weste) verwag kan. Dit gaan egter weer met ‘n droër tyd tussen Februarie en Maart opgevolg word. Só het die bekende meteoroloog, Johan van den Berg, tydens die LRF Veeskool by Aldam in die Vrystaat gesê.

“Ons gaan na verwagting weer ‘n bogemiddelde mielie-oes vir 2024/25 in Suid-Afrika sien,” het hy bygevoeg en gesê hy skoei dié opmerkings op die feit dat ‘n effense La Niña-weerstoestand aan die ontwikkel is. “Verlede jaar het ons die teenoorgestelde gesien. Toe het ‘n effense El Niño ontwikkel.”

Veeskool-gangers en mede-produsente moet hulle egter gereed maak vir droër toestande, wat waarskynlik in 2026 gaan begin heers, omdat droër en natter reënseisoene siklies is.

Klimaat skep warmer oseane

Van den Berg sê te midde van klimaatsverandering is oseane besig om al hoe meer hitte te berg. “Dit is belangrik om hiervan kennis te neem, want dit is ‘n dryfkrag van klimaat en weerpatrone.”

Die rede waarom hitte spesifiek in oseane opgeberg word, is omdat die meerderheid van die aardoppervlakte (71%) deur water bedek word. Hierdie hitte skakel om na energie en dít is waar siklone vorm. En siklone is besig om erger te word, het Van den Berg Veeskool-gangers gewaarsku en na Sikloon Freddie, wat tussen Februarie 2023 en Maart 2023 aktief was, verwys om sy punt te staaf. “Hierdie sikloon het naby noordwes-Australië ontstaan en vir 40 dae gewoed. Dis die langste wat ‘n tropiese sikloon nog ooit gewoed het. Dis dubbel die lengte van die vorige rekord.”

Die sekondêre effek van siklone is vir hom baie kommerwekkend. Siklone is laedrukstelsels en meer intense siklone (laedrukstelsels) lei noodwendig tot meer intense hoëdrukstelsels. En dit het ‘n negatiewe invloed op reënval. “Ons kan alreeds sien dat Amerika se westelike dele as gevolg hiervan besig is om warmer en droër te word.” – Susan Marais, Plaas Media