HomeAgri NewsVeeplaas maak sy 2026 Klimaatslim Ambassadeurprojek-finaliste bekend

Veeplaas maak sy 2026 Klimaatslim Ambassadeurprojek-finaliste bekend

Die Veeplaas Klimaatslim Ambassadeurprojek, aangebied deur Plaas Media in samewerking met landbouspesialis, dr Louis du Pisani, keer in 2026 vir die vyfde keer terug met nóg ’n indrukwekkende groep finaliste.

Die projek fokus sedert sy bekendstelling in 2022 daarop om erkenning te gee aan veeprodusente wat klimaatslimbeginsels doelgerig en volhoubaar in hul daaglikse boerderypraktyke toepas. Terselfdertyd skep dit ’n platform waar hierdie produsente hul praktiese kennis en ervaring met die breër landbougemeenskap kan deel.

Volgens dr Du Pisani getuig vanjaar se inskrywings van ’n besonder hoë standaard: “Vyf finaliste is uit al die inskrywings gekies en elkeen is ’n goeie kandidaat met unieke sterkpunte. Elkeen boer ook onder ander omstandighede, wat hierdie jaar se kompetisie besonder interessant maak.”

Hoe die finaliste gekies is

Deelnemers moes ’n omvattende aanlynvraelys voltooi waarin besonderhede van verskeie aspekte van hul boerderystelsels uiteengesit word. Dit sluit onder meer veld- en weidingsbestuur, kuddebestuur, hantering van erosie en bosindringing, droogtebestuur, finansiële volhoubaarheid, asook algemene kennis van klimaatsverandering in.

Elke inskrywing is noukeurig geëvalueer en punte is aan die onderskeie kategorieë toegeken. Die finaliste is vervolgens geïdentifiseer op grond van hul algehele prestasie en die praktiese toepassing van klimaatslim strategieë binne hul unieke produksie-omgewings.

As deel van die finale beoordelingsproses sal dr Du Pisani die komende maande die vyf plase besoek. Hierdie besoeke stel hom in staat om die inligting wat verskaf is te verifieer en eerstehands te sien hoe elke finalis klimaatslim praktyke in hul boerdery geïntegreer het.

Wat gebeur volgende

Sodra alle plaasbesoeke afgehandel is en die finale assessering voltooi is, sal ’n komitee die bevindinge bevestig waarna die 2026 Veeplaas Klimaatslim Ambassadeur aangekondig sal word. Benewens ’n kontantprys, sal die wenner later vanjaar ’n boeredag aanbied waartydens praktiese kennis en ervaring met ander produsente en belanghebbendes in die bedryf gedeel sal word.

2026-finaliste

Inskrywings is van regoor Suid-Afrika ontvang, met produsente wat onder uiteenlopende klimaats- en produksietoestande boer. Die vyf finaliste in vanjaar se kompetisie is (in alfabetiese volgorde):

  • Dr Geofre Heyns, Bloemfontein.
  • Guy Rensburg, Komga.
  • Janice Renton, Amathole.
  • Tiaan Barkhuizen, Garies.
  • Veronica Rorich, Kenhardt.
Dr Geofré Heyns
Van links is Michael Netti, James, Guy en Luke Rensburg, en Wonga Yanga.
Van links is Janice Renton, haar man, Kenneth, hul dogtertjie, Lily, en Cheryl en Mike Galloway.
Tiaan Barkhuizen
Veronica Rorich (left) with her team: Julian Matthys, Rohan Matthys, Winsten Mondsinger, and Johnny Matthys.

Elke finalis volg ’n unieke benadering tot klimaatslim veeproduksie, en hul praktyke illustreer hoe innovasie, aanpasbaarheid en verantwoordelike hulpbronbestuur tot langtermyn volhoubaarheid kan bydra. Plaas Media wens hierdie finaliste geluk en bedank alle deelnemers vir hul betrokkenheid by vanjaar se kompetisie.

Borge

Vanjaar se borge bestaan uit drie maatskappye: Nedbank, Zoetis en UPL. Die organiseerders bedank graag die maatskappye vir hul toewyding tot die projek – sonder hulle ondersteuning, sou niks hiervan moontlik wees nie!

Hou gerus die pers dop vir die aankondiging van vanjaar se wenner en verdere reëlings ten opsigte van die 2026 Veeplaas Klimaatslim-boeredag. – Persverklaring, Plaas Media

Must Read

LandbouRadio: 21 September 2026

Hierdie week se Landbouradio word moontlik gemaak deur Pioneer Saad.In Maandag, 21 September se LandbouRadio, kan jy uitsien na die volgende:Clarissa Pienaar van...