Estimated reading time: 4 minutes
Die Suiwelstandaard-agentskap (SSA) is toegewy tot die bevordering van sy primêre doelwit as selfregulerende inisiatief van die georganiseerde suiwelbedryf. Sy strategiese benadering is daarop gemik om die nakoming van melk- en suiwelproduksamestelling, metrologiestandaarde en voedselveiligheidswette tot voordeel van die bedryf en verbruiker te bevorder.
Die maatskappy se ontstaan, sê Jompie Burger, algemene bestuurder by die SSA, was die resultaat van ’n strategiese benadering uit georganiseerde geledere waarvan talle steeds lede van die SSA is. Dit is onder meer die Suid-Afrikaanse Melkverwerkersorganisasie (Sampro), Melkprodusente-organisasie (MPO), Suid-Afrikaanse Nasionale Verbruikersunie (Sancu) en Suid-Afrikaanse Vereniging van Suiweltegnoloë (SAVST).
In ’n neutedop
Die SSA bevorder die gehalte en veiligheid van melk en ander suiwelprodukte deur duidelike doelwitte, strategiese planne en prosesse wat op gesonde beginsels en wetenskaplike metodes gegrond is. Die maatskappy se hoofaktiwiteit is om suiwelprodukte met behulp van hierdie wetenskaplike metodes te monitor om te verseker dat dit aan wetlike standaarde voldoen.
Die organisasie kontroleer die nakoming van wetlike standaarde en bevorder deurlopende kommunikasie met belanghebbendes. Dit sluit in voedselveiligheidsoudits (goeie vervaardigingspraktyke) by suiwelverwerkers en omvattende landboubestuurspraktykoudits (GAP) op plaasvlak. Die SSA verskaf ook wetenskaplike inligting aan die bedryf.
Die SSA is ’n geregistreerde, nie-winsgewende en onafhanklike entiteit. Sy werksaamhede word gelei deur wetlike, wetenskaplike en suiweltegniese inligting oor die volledige suiwelwaardeketting. Dit sluit in goeie landboupraktyke, dierewelsyn, roumelkgehalte, verwerking, vervaardiging, verpakking, etikettering, verspreiding en die kleinhandel.
Gevorderde tegnologieë, soos by DSA Lab Services, word aangewend vir die bestuur van gehalte-, voedselveiligheids- en metrologierisiko’s, asook risikobepaling en -vermindering. Die wetenskap agter suiwelgehalte is dinamies en noodsaaklik vir volhoubaarheid; dit verg ook deurlopende skakeling met alle belanghebbendes.
Die SSA het aanvanklik gefokus op die monitering van varsmelk in die kleinhandel om wetlike nakoming te verseker. Dit het tot ’n omvattende program saam met die gesondheidsowerhede gelei en oor tyd het die fokus ’n wyer reeks suiwelprodukte ingesluit.
Namate die SSA gegroei het, het dit proaktiewe en reaktiewe strategieë ontwikkel en groter verantwoordelikheid aanvaar vir produksamestelling, voedselveiligheid, dieregesondheid, verwerking, berging en verspreiding. In die proses het die organisasie toenemende erkenning van die regering, bedryf en ander rolspelers ontvang.
Bestuursraamwerk
Die SSA word deur ’n onafhanklike raad sonder kommersiële belange in die melkbedryf bestuur. Die raad se kwalifikasievereistes is in lyn met die Maatskappywet, 2008 (Wet 71 van 2008). Die raad bestaan uit agt lede, waarvan vier direkteure is. Die SSA het 12 personeellede en gebruik twee eksterne kontrakteurs vir projekwerk. Weens die organisasie se grootte word sommige rolle gekombineer en met behulp van duidelike werkstrukture bestuur, terwyl nie-kernfunksies soos finansies uitgekontrakteer word.
’n Tegniese komitee van wetenskaplikes bied leiding oor melkproduksie, dieregesondheid, verwerking en spesifikasies. Die SSA het ook ’n gevestigde ondernemingsrisikobestuursprogram om te verseker dat aktiwiteite in lyn is met die organisasie en doelwitte van Melk SA.
Projekte en prioriteite
Die aktiwiteite wat met SSA-projekte geassosieer word, word op ‘n eerste en tweede vlak geprioritiseer en is in lyn met die ouditkomitee se jaarlikse risiko-ontleding. Beide statutêre en nie-statutêre aktiwiteite word as prioriteite ingesluit. Die organisasie bestuur tans 18 projekte, wat hoofsaaklik deur Melk SA befonds word.
Statutêre projekte sluit in nasionale monitoring deur monsterneming, toetsing, risiko-ontleding en verslagdoening; tegniese ondersteuning en regstellende aksies ten opsigte van gehalteprobleme; spesiale ondersoeke na voedselveiligheid en gehalterisiko’s (verwys ook nie-voldoening vir opvolg); identifisering en analisering van nasionale en internasionale risiko’s (met rapportering van bevindings); regstellende programme rakende bewusmaking van wetlike nie-nakoming en regstellende aksies; handhawing van skakeling tussen SSA, die regering en bedryf; samewerking met statutêre liggame oor wetgewing en bedryfsrapportering via Melk SA; jaarlikse suiweltegniese inligtingsprogramme en voedselveiligheidsessies (opleiding) en ondersteuning van Melk SA se transformasiedoelwitte; mediaskakeling en verbruikerskommunikasie rakende SSA-aktiwiteite en die belangrikheid van suiwelstandaarde; en die ontwikkeling van tegniese riglyne om wetlike nakoming en regstellende maatreëls te ondersteun.
Nie-statutêre projekte word deur middel van die ‘user pay’-konsep en ander organisasies gefinansier en sluit in volhoubare monitering van melk en suiwelprodukte onder diensvlakooreenkomste; jaarlikse veiligheidsoudits by melkerye namens melkkopers; voedselveiligheids- en dierewelsynoudits soos versoek; konsultasies en advies oor wetlike vereistes vir voedselveiligheid en produksamestelling; ’n samewerkingsplatform tussen SSA en insetverskaffers deur middel van die Dairy Quality Club; opleiding oor voedselveiligheidstelsels, interne ouditering en laboratoriumpraktyke; lewering van verwysingstandaarde en mikrobiologiese, produksamestellings-, diagnostiese en metrologiese toetse deur middel van DSA Lab Services; en brusellose-monitering deur vroeë opsporingstoetse wat ook bydra tot veterinêre navorsing oor nuwe toetsmetodes. – Christal-Lize Muller, Veeplaas
Vir meer inligting, stuur ’n e-pos aan Jompie Burger by jompie@dairystandard.co.za of besoek www.dairystandard.co.za


