’n Toename in die mikotoksienvlakke van graan wat deur produsente gelewer word, is in die voorafgaande produksieseisoen opgemerk. Die verwagting is dat vanjaar se oes ook hoër mikotoksienvlakke as normaalweg kan hê.

Hierdie artikel werp lig op die onderwerp van mikotoksiene asook die bydrae wat opbergers soos Agbiz Grain se lede maak om veilige voedsel aan verbruikers te verseker.

Voorkoms van mikotoksiene

Mikotoksiene is chemiese verbindings wat deur swamme geproduseer word wanneer die omgewingsfaktore daarvoor gunstig is. Swambesmetting kan reeds op die landerye plaasvind en sodra die omgewingsvog en -temperatuur gunstig is, produseer die swamme dan spesifieke mikotoksiene. Wanneer graan en oliesade opgeberg word, kan ander mikotoksiene geproduseer word. Daarom is dit belangrik om die voginhoud en temperatuur van die graan tydens opberging te beheer.

In terme van voedselveiligheid is mikotoksiene ’n gevaar – dit is onsigbaar, reukloos en smaakloos, en is selfs in baie lae konsentrasies toksies. Mikotoksiene kan siektes soos kanker en gewasse in mense veroorsaak, asook lewer- en ander siektes in diere. Okratoksien, byvoorbeeld, is as ’n niertoksien bekend en word tydens die opberging van grane soos koring, deur ’n spesifieke swam geproduseer.

Toetse en toelaatbare mikotoksienvlakke

Vir die afgelope nege seisoene toets die Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium (SAGL) die mikotoksienvlakke en -voorkoms in die mielie- en koringoes tydens inname by die graanopbergers. Daar word vir mikotoksiene wat hoofsaaklik in graangewasse voorkom getoets. Hulle is aflatoksien, fumonisien, deoksinivalenol (of vomitoksien), searalenoon en okratoksien A, asook T2- en HT-2-toksiene wat hoofsaaklik in ingevoerde graan waargeneem word.

https://agriorbit.com/agbiz-grain-gesels-mikotoksien-ontledings/

Suid-Afrika het sedert 2004 ’n regulasie in plek vir die maksimum toelaatbare vlak van aflatoksien B1 invoedselprodukte. In 2016 is ’n regulasie vir fumonisien en vomitoksien in onderskeidelik mieliemeel en graan wat vir verdere verwerking bestem is, bekendgemaak.

Daar bestaan ook ’n regulasie vir verskillende mikotoksiene in veevoer. Die maksimum toelaatbare vlakke vir veevoere is hoër.

Plaaslike besmettingsvlakke

Die SAGL se mikotoksien-moniteringsdata toon merkbare verskille in die vlakke en tendense van mikotoksienvoorkoms die afgelope tien seisoene. Die afgelope vier seisoene is ’n toename in beide die voorkoms en vlak van mikotoksienbesmetting met betrekking tot deoksinivalenol en searalenoon op mielies gerapporteer, terwyl fumonisienvlakke redelik konstant gebly het. ’n Geringe toename in deoksinivalenolvlakke op koring is ook gedurende die 2019/20-seisoen gerapporteer.

Dié tendense dui daarop dat die risiko vir mikotoksiene betekenisvol tussen produksiestreke en -seisoene, en tussen wit- en geelmielies wissel. Die resultate van die afgelope nege seisoene bewys ook dat daar geen verband tussen die graderingsresultaat van graan tydens inname en die vlak van mikotoksienbesmetting is nie.

Agbiz Grain speel ’n aktiewe rol

Agbiz Grain se lede beywer hulle om die veilige opberging van graan te verseker en neem daarom deel aan die SAGL se toetsingsprojek met die oog daarop om mikotoksiene beter te verstaan. Agbiz Grain voorsien jaarliks, op eie onkoste, die meerderheid monsters landswyd vir die ontleding van die Suid-Afrikaanse mielie-oes.

Die organisasie se deelname beteken dat die graan- en oliesadesektor vandag ’n beter begrip van mikotoksiene het as ’n dekade gelede.

Voorkoming en beheer

Volgehoue monitering van en voortgesette navorsing oor die voorkoming en verligting van mikotoksienbesmetting, bly van uiterste belang. Elke rolspeler in die waardeketting moet praktyke wat besmettingsvlakke laag hou, volg.

Mikotoksienbesmetting begin reeds op plaasvlak. Die produksiepraktyke wat produsente toepas kan die vlak van mikotoksienbesmetting bepaal. Goeie opbergingspraktyke moet ook gevolg word om besmettingsvlakke te beheer. Verder moet opbergingspraktyke soos deurlugting, en die verband wat dit met mikotoksienbesmetting hou, beter verstaan word.

https://agriorbit.com/high-quality-silage-can-benefit-the-entire-agricultural-value-chain/

Meulenaars en verwerkers van graan volg praktyke eie aan die bedryf om die vlak van mikotoksienbesmetting verder te beheer. Die strewe om voedselveiligheid te verbeter is deel van ’n oorhoofse opvoedkundige proses wat op al die markdeelnemers in die waardeketting van toepassing is.

Mikpunte vir die toekoms

Dit is belangrik dat al die rolspelers in die waardeketting betrokke is by die monitering van mikotoksiene en aan die SAGL se projekte deelneem. Dit sluit almal wat oor opbergingsfasiliteite beskik, soos produsente, meulenaars, veevoervervaardigers, intensiewe veeproduksiestelsels, hawesilo’s en selfs handelaars met persele in. Let wel dat meulenaars en veevoervervaardigers aan die SAGL se na-oesprojek deelneem en monsters vir dié doel instuur.

Die verslae is by die SAGL beskikbaar en die onderskeie trusts word bedank vir befondsing, waarsonder dié projekte nie moontlik sou wees nie.

Dit is belangrik om te weet waar die grane en oliesade wat in die vervaardiging van produkte gebruik word, vandaan kom. Dit behoort afkomstig te wees vanaf opbergers wat geregistreerde voedselbesigheidsoperateurs (VBO’s) – soos Agbiz Grain-lede. Agbiz Grain se lede fokus daarop om mikotoksienvlakke binne die norme van die bepaalde regulasies te bestuur. – Wessel Lemmer, Agbiz Grain, Jolanda Nortjé, Suider-Afrikaanse Graanlaboratorium, en Tom Meintjies, GWK

Vir meer inligting, stuur ’n epos aan Wessel Lemmer by wessel@agbizgrain.co.za.