Met die somerseisoen om die draai, is dit wenslik dat veeprodusente ’n behoorlike bestekopname van hul kuddes se gesondheid doen om voorsorg teen skadelike somerparasiete, wat liefs op ’n veilige afstand gehou moet word, te tref.
Die daarstelling van ’n doeltreffende parasietbestuursprogram om die bose kringloop van inwendige en uitwendige parasiete hok te slaan, is sekerlik dié belangrikste hulpmiddel om kudde- en finansiële verliese te voorkom. So ‘n bestuursplan verg baie deeglike beplanning, verkieslik in oorleg met ’n veearts en/of kundige op die gebied van parasiete.

Is parasiete seisoensgebonde?
Die voorkoms van parasiete in klein- en grootvee wissel van streek tot streek, hoewel insekvektore en parasiete gewoonlik gedurende die somermaande probleme skep. Daar is egter al bewys dat insekgetalle, as gevolg van die veranderende klimaatstoestande, tydens die herfs- en wintermaande kan toeneem.
Asof produsente se hande nie alreeds vol genoeg is nie, moet daar ook gelet word op ’n toename in parasietgetalle gedurende droër tydperke wanneer die veld se voedingswaarde afneem en kuddediere se immuniteit teen parasietinfestasie dus kan verlaag.
Hoewel baie veeprodusente selde aan somerparasiete dink wanneer die temperature gedurende die wintermaande onder vriespunt draai, is dit juis waar hulle die fout maak. Dr Johan van Rooyen is ’n veearts by Steynsburg Dierehospitaal. Hy spesialiseer in kleinveegesondheid en glo dat dit uiters belangrik is om vroegtydig voorsorg teen parasiete te tref, omdat dit feitlik ’n uitgemaakte saak is dat somerparasiete weer gaan kop uitsteek.

Slenkdalkoors
Een van die vernaamste siektes wat geweldige skade onder veekuddes sowel as wilde herkouers kan aanrig, is Slenkdalkoors.
Dr Van Rooyen sê dat die virus nes Ebolavirussiekte (Ebola) en Kongokoors, spontane bloeding kan veroorsaak wat tot inwendige bloeding, asook lewerskade, breinskade, aborsie en abnormale lammers kan lei. Hy som die gevolge van die virussiekte wat deur muskietbyte oorgedra kan word, so op: “Alle soogdiere is vatbaar en uitbrekings kan tot aborsies en vrektes lei.
“Hoewel die virus deur muskiete ook aan mense oorgedra kan word, kan ’n persoon wat met diere werk en byvoorbeeld aborsies of nadoodse ondersoeke op diere doen, daarmee besmet word. Wanneer ’n persoon besmet word, kan dit tot oogskade en blindheid lei.”
Daar is tans nog nie ’n spesifieke behandeling vir die siekte nie, maar ’n dier kan ondersteunende behandeling ontvang wat gewoonlik binneaarse vloeistof en voeding insluit.
Om Slenkdalkoors te voorkom, moet speenlammers en -kalwers met Clone 13 ingeënt word of ’n lewendige entstof moet in nie-dragtige diere alleen gebruik word. Immuniseer volwasse diere jaarliks indien daar ’n hoë risiko vir die siekte bestaan. Die entstof verleen binne twee weke immuniteit, maar die praktiese probleem is dat wanneer ’n uitbreking rugbaar word, daar gewoonlik ’n groot vraag na die entstof ontstaan.
Gedurende ’n uitbreking moet jy jouself teen muskietbyte beskerm wanneer jy met diere werk. Die siekte kan ook deur inspuiting tydens ’n uitbreking oorgedra word. Probeer sover moontlik om muskiete te beheer, hoewel dit prakties amper onmoontlik is om dié insekte uit te roei of te beheer.
Haarwurm
Nog ’n kalant waarmee streng rekening gehou moet word, is haarwurm (Haemonchus contortus), wat eintlik maar net ’n rondewurm is wat die bloed van herkouers suig. Dit kom in ’n mindere mate by bokke voor, hoewel hulle baie vatbaar op weidings is.
Volgens dr Van Rooyen word die parasiet wêreldwyd as die belangrikste siekte en grootste parasietprobleem onder kleinvee beskou. “Dit bring nie net vrektes mee nie, maar ook ’n verlies aan produksie en reproduksie,” sê hy. “Dit kan help om beeste eerste op weidings te laat vreet, aangesien dit van die larwes kan verwyder en die lading daarvan op skape kan verminder.”
Haarwurm kom veral in die somerreënvalgebiede voor en is minder algemeen in die winterreënvalstreke. Die parasiet benodig gras om sy lewensiklus te voltooi en kom dus minder algemeen in bossieveld voor. Haarwurm kom in ’n mindere mate in droë streke voor, maar floreer op plekke waar hoë reënval aangeteken word.
Daar is ’n groot hoeveelheid wurmmiddels op die mark beskikbaar, maar hy waarsku dat baie wurms reeds teen die meeste middels weerstandig is. “Daarom beveel ons gewoonlik geteikende selektiewe behandeling as die beste alternatief aan.”
Kontrolering van weerstandigheid
Baie wurmpopulasies is op hierdie stadium weerstandig teen die vyf hoofgroepe ontwurmingsmiddels. Dit beteken natuurlik nie dat al die wurms in ’n populasie weerstandig is nie. Die gebruik van verskillende soorte ontwurmingsmiddels op ’n rotasiebasis word glad nie aanbeveel nie. Gebruik eerder ’n kombinasie van verskillende ontwurmingsmiddels wat gesamentlik op dieselfde tydstip toegedien word.
Tabel 1 bevat ‘n opsomming van die mees algemene toestande om voor lig te loop, asook die belangrikste bestuursaspekte wat daarmee gepaard gaan. Dit word in twee afdelings uitgebeeld, naamlik kommersiële boerderye en kommunale boerderye waar siektes dikwels oorleef en weer kan terugkeer, soos onder andere brandsiekte.
Tabel 1: Algemene dieresiektes en toepaslike bestuurspraktyke vir kommersiële en kommunale produsente.
Kommersiële produsente | Kommunale produsente (skape slaap in krale) | |
Bloutong | Inenting van speenlammers en jaar oue skape sluit drie afsonderlike entstowwe in. Ooie kan met ABC gespuit word ná speen, en ramme na afloop van die paarseisoen. | Inenting van lammers vind maandeliks plaas vanaf ouderdom drie maande. Merk lammers met ’n blou kol na A-inenting, met ’n tweede blou kol na B-inenting en ’n derde blou kol na C-inenting. |
Brandsiekte | Kwarantyn is nodig omdat dit ’n hoogs aansteeklike siekte is. Streng biosekuriteit is nodig. ’n Jaarlikse dip teen die regte dosis word aanbeveel. | Spuit elke tweede maand al die skape in die kraal met avermektien. |
Vrotpootjie | Pas streng kwarantyn toe, veral by aangekoopte skape. Spuit antibiotika en behandel met 10% sinksulfaat in ’n voetbad indien nodig. Skape kan ook (minstens een uur lank) in ’n voorkomende voetbad staan. | Die voetbad moet by die ingang van die kraal wees. Vul dit elke tweede naweek met 10% sinksulfaat. Behandel die kruppel skape met ’n langwerkende tetrasiklieninspuiting. |
Klontwol | Voeg sinksulfaat by ’n dompeldip en prul erg-besmette skape eerder. Behandeling sluit antibiotika in. | Was die skape elke tweede maand met sinksulfaat. |
Ooginfeksies | Ent voorkomend teen Moraxella. Prul skape wat nie pigment van ooglede toon nie. Beheer gesigvliëe. Doseer met vitamien A en spoorelemente. | Sproei skape elke aand met ’n handspuit met dip om vlieë te beheer. Behandel ooginfeksies met ’n druppel langwerkende tetrasiklien in die oog. |
Slenkdalkoors | Ent jaarliks met ’n lewendige entstof. Begin by speenlammers of jongooie voor eerste paring. | Ent lammers met ’n lewendige entstof ’n maand ná die laaste bloutong en merk hulle met ’n vierde blou kol. |
Johne se siekte | Pas streng biosekuriteit toe. | Beheer is onmoontlik en diere met simptome moet geslag word. |
Jaagsiekte | Streng biosekuriteit word toegepas. | Beheer is onmoontlik en diere met simptome moet geslag word. |
Haarwurm | Geteikende, selektiewe behandeling word aanbeveel. Selekteer jou diere vir weerstand. | Geteikende, selektiewe behandeling word aanbeveel. Haarwurm is dikwels weens baie kort weidings en gereelde avermektien-behandeling nie ’n probleem nie. |
Brommeraanvalle | Seleksie en gereelde bosluisbeheer is belangrik. Voorkomende behandeling word aanbeveel. | Sproei skape elke aand met ’n handspuit met dip. |
Bloednier | Ent speenlammers twee maal en daarna jaarliks. Indien biesmelkoordrag onvoldoende was, kan lammers al vanaf ouderdom drie weke ingeënt word. | Ent alle lammers wat ouer as ’n maand is en merk elkeen met ’n rooi kol. Spuit ’n opvolginspuiting ’n maand later en merk met ’n tweede rooi kol. |
Vir meer inligting, kontak dr Johan van Rooyen by 082 463 3087 of epos veearts.sdh@nokwi.co.za. Lesers kan ook RuVASA (Herkouer Veterinêre Vereniging van Suid-Afrika) se webtuiste, ruvasa.co.za, besoek om siektes wat onlangs aangeteken is, te besigtig en seker te maak hul diere is teen die betrokke siektes ingeënt. – Carin Venter, Veeplaas
