Speen van kalwers en dragtigheidsondersoeke as deel van ’n produksieplan

Estimated reading time: 4 minutes

  • Die Suid-Afrikaanse beesbedryf het ‘n behoefte aan ‘n nasionale vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel.
  • ’n Stelsel wat ook bewyse insluit van die gesondheidstatus van diere wat verkoop of van een eiendom en/of eienaar na die volgende hervestig word, is een van die land se grootste doelstellings.
  • Die produksiedoelwitte van die einde van die teelseisoen en die laaste gedeelte van laktasie, is onderskeidelik om bulle van die teelkudde te verwyder om sodoende die teelperiode tot drie maande te beperk, en om die kondisie van lakterende koeie te handhaaf.
  • Dr Danie Odendaal van Veearts Netwerk sê dragtigheidsondersoeke, saam met kondisietelling, is ’n belangrike bestuursaksie waartydens die resultate wat by teling verkry word, gemeet word.
  • Die beplanning van droëseisoenweiding is ook ’n noodsaaklike beheerpunt en die produksiedoelwit hier is deeglike beplanning, terwyl bestaande weiding aan elke bestuursgroep diere toegeken moet word.

Die Suid-Afrikaanse beesbedryf se behoefte aan ’n nasionale vee-identifikasie- en naspeurbaarheidstelsel, kan nie genoeg beklemtoon word nie.

’n Stelsel van dié aard, wat ook bewyse insluit van die gesondheidstatus van diere wat verkoop of van een eiendom en/of eienaar na die volgende hervestig word, is een van die land se grootste doelstellings.

Dr Danie Odendaal, direkteur van Veearts Netwerk, sê dit is verblydend dat verskeie plaaslike rasgenootskappe reeds uitstekende identifikasie- en rekordhoudingstelsels in plek het, maar ’n 12-maande vooruitbeplande kuddegesondheid- en produksiebestuursplan is in dié geval onafwendbaar. Met die samestelling van dié plan gee dit die onderskeie produksieperiodes – kalwingseisoen, teelseisoen en voorspeengroei van kalwers, speen van kalwers en dragtigheidsondersoeke, asook droëkoeibestuur en voorbereiding vir die kalwingseisoen – meer struktuur. Elkeen van hierdie produksieperiodes se noodsaaklike beheerpunte is ook van belang.

Dr Odendaal sê met die herfsseisoen op hande, is dit noodsaaklik om juis op die speen van kalwers en die belang van dragtigheidsondersoeke te fokus. Dit is die mees besliste punt in beeste se 12-maande produksiesiklus waartydens kuddegesondheid en ’n produksiebeheerplan ontwikkel of herbeplan kan word.

Einde van teelseisoen en laktasie

Die produksiedoelwitte van die einde van die teelseisoen en die laaste gedeelte van laktasie, is onderskeidelik om bulle van die teelkudde te verwyder om sodoende die teelperiode tot drie maande te beperk, en om die kondisie van lakterende koeie te handhaaf. Volgens dr Odendaal moet kondisie op 2,5 en hoër gehandhaaf word deur ’n winterlek toe te dien sodra die proteïenpersentasie in die gras verlaag.

Hy sê bulle moet jaarliks teen die einde van die somer van die kudde verwyder word, en in klein groepe saamgevoeg en korrek bestuur word tot die volgende teelseisoen begin. Kondisieverlies moet deurlopend beperk word deur strategiese seisoenale aanvullings, wat volgens die seisoen en produksiestadium toegedien word, omdat die ruproteïenpersentasie in die gras aan die begin van die droë seisoen na onder 10% afneem. In die latere gedeelte van die droë seisoen kan die vlak van ruproteïen tot selfs onder 7% daal. Die beskikbaarheid van weiding is ook ’n verder beperking.

Lees meer oor die korrekte voeding vir pasgebore melkkalwers.

Kondisietelling

Dr Odendaal sê dragtigheidsondersoeke, saam met kondisietelling, is ’n belangrike bestuursaksie waartydens die resultate wat by teling verkry word, gemeet word. Dragtigheidsondersoeke bestaan uit twee komponente, naamlik ’n rektale ondersoek wat sal bepaal of die vers of koei dragtig is, en kondisiebepaling waartydens ’n veearts die voedingstatus (vetreserwes) van elk van die diere vasstel.

Dragtigheidsondersoeke word gewoonlik vanaf ses weke vir verse en agt weke vir koeie ná die einde van die teelseisoen uitgevoer. Kalwers is dan ses tot agt maande oud en ’n besluit oor wanneer om te speen kan geneem word op grond van die resultate van die dragtigheidsondersoeke en kondisietelling.

’n Koei wat haar kalf soog, kan ’n minimum liggaamskondisietelling (LKT) van 2,5 hê. Wanneer dit laer is moet die kalf gespeen word. Die produksiedoelwit hier is om ’n dragtigheidspersentasie vir alle teelgroepe van 85% en hoër te hê.

Seleksie van vervangingsdiere

Die produksiedoelwit van hierdie noodsaaklike beheerpunt is om vers- en bulkalwers wat goeie groei vóór speen getoon het, as vervangingsdiere aan te wend. Volgens dr Odendaal kan die vrugbaarheid en gesondheid van ’n vleisbeeskudde oor enkele jare in fases gebou word, deur op die bestuur van vervangingsverse te fokus.

In dié geval is die verbetering van vrugbaarheid gegrond op seleksie vir funksionele doeltreffendheid en noukeurige bestuur vanaf speen tot aan die einde van verse se tweede teelseisoen. Dr Odendaal gee die volgende wenke:

  • Kies ’n eenvormige groep funksionele, doeltreffende verse.
  • Behou en bestuur hierdie verse as ’n aparte groep tot aan die einde van hul tweede teelseisoen.
  • Dít word gedoen volgens ’n drie-jaar bestuursplan wat strek vanaf speen, totdat hulle die tweede keer deur ’n veearts as dragtig verklaar word.

Lees meer oor die afronding van kalwers.

Nóg noodsaaklike beheerpunte

Die beplanning van droëseisoenweiding is ook ’n noodsaaklike beheerpunt en die produksiedoelwit hier is deeglike beplanning, terwyl bestaande weiding aan elke bestuursgroep diere toegeken moet word. Dr Odendaal sê ’n begroting en beplanning vir die volgende jaar is ook van belang, want ’n gestruktureerde kuddegesondheids- en produksiebestuursplan verskaf ’n stewige grondslag vir ’n doeltreffende begroting.

“ ’n Finansiële begroting bly die belangrikste bestuursaksie om alle potensiële bronne van uitgawes sowel as inkomste te bepaal en bereken.”

Vir meer inligting kontak dr Danie Odendaal by vnet1@absamail.co.za.