Estimated reading time: 6 minutes

Doeltreffende watervoorsiening in lamhokke – die hart van ’n intensiewe skaapboerderystelsel – speel ’n belangrike rol in kuddegesondheid, veral by lammers, terwyl dit ooie se vermoë om gesonde lammers te produseer, verbeter.

Lees hier oor watervoorsiening vir ekstensiewe veestelsels.

Twee skaapboere van die Oos-Vrystaat volg ’n doelgerigte benadering tot watervoorsiening in hul intensiewe lamstelsels. Veeplaas het by hulle gaan kers opsteek om meer hieroor uit te vind.

Deon glo doeltreffende watervoorsiening in sy lamhokstelsel dra by tot ’n gesonder kudde, terwyl hy ook op water en arbeid bespaar. (Foto: Deon van der Watt)

Deon van der Watt van die plaas Verkykerskop in die Tweeling-gebied, het drie jaar gelede ’n lamskuur met lamhokke vir sy SA Vleismerino-kudde opgerig. Hy het in die proses die waterstelsel volgens sy behoefte aangepas. Sy stelsel was so suksesvol, dat hy nou lamhokke met dié waterstelsel op aanvraag bou en verkoop.

Deon glo sy waterstelsel dra by tot die doeltreffendheid van sy 1,5m2-lamhokke, omdat dit minder arbeidsintensief is en water bespaar.

Die waterstelsel

Deon herlei slegs skoon boorgatwater na die onderskeie waterpunte by sy lamhokke, omdat ’n sementdam alge kan bevat. “Skoon water is noodsaaklik,” sê hy, “want ’n ooi wat nie water suip nie omdat dit suur is, gaan ook nie vreet nie, en sonder kos gaan sy nie melk vir haar lammers produseer nie.”

Boorgatwater word herlei na ’n 1 000ℓ-opgaartenk wat op ’n hoë stellasie in sy lamskuur geplaas is. Dié water word dan in ondergrondse waterpype na vlotterkleppe herlei. Die kleppe kom aan die voorpunt van elke ry hokke, met tien ooie in ’n ry.

Die wateropgaartenk is ook nuttig om minerale en spoorelemente in die water vir sy ooie na die onderskeie waterpunte te versprei. Water word vanuit die vlotterkleppe, wat die watervlak in die waterbakke reguleer, deur middel van plastiekpype na die bakke herlei.

Die waterbakke van harde plastiek word 690mm van die grond af, in die middel van twee rye lamhokke geplaas. Dit het ’n geskikte opening vir die ooie om water te suip, en word só geplaas dat twee ooie in hul onderskeie lamhokke gelyktydig daaruit kan suip.

Die rol van vlotterkleppe

Deon sê sodra ’n ooi water suip, daal die watervlak, maar weens die vlotterkleppe word waterbakke weer vinnig hervul. Daarmee saam is die bakke waterpas om te verhoed dat die water oorloop.

Die bakke kan slegs 1,5ℓ water opgaar, maar volgens hom is dit voldoende, omdat die watervlak onmiddellik herstel nadat ’n skaap gesuip het. Groter waterbakke lei tot vermorsing, omdat die water mettertyd vuil raak en uitgegooi moet word.

Al die waterbakke word weekliks skoongemaak. Die waterpyp van die vlotterklep na die bakke het ook ’n stopkraan wat twee keer per dag oopgedraai word, sodat die water in die stelsel gedreineer word. Dit is nodig, omdat voer aan ooie se bekke in die suipbak beland en die water suur kan maak.

Lodie van Reenen fokus sterk op die voorsiening van skoon water na sy krippe. Dié krippe van staal is in sy kleiner kampe waar die ooie en lammers loop sodra hulle uit die lamhokke kom. (Foto: Chriselle van Reenen)

Nova Barletta Dormers

Lodie van Reenen van Nova Barletta Dormers in die Clocolan-distrik fokus sterk op die doelmatige verspreiding van water na waterpunte in sy lamhokstelsel. Skoon water is onmisbaar en verminder die kans op diarree, veral onder sy lammers.

“Ons doen alles in ons vermoë om te verhoed dat ons lammers siek word, want dit is duur om hulle te behandel,” sê hy. “Boonop is dit hoogs waarskynlik dat ’n lam wat vir diarree behandel is, later ’n swak produseerder is.”

Die wateropgaartenk van 2 500ℓ buite Lodie se lamskuur is hoog geplaas om drukking na die waterpunte te skep. Boorgatwater daarin bly ook skoon.

“Ek dink ’n groot probleem vir boere is waterbesoedeling in ons spruite, riviere en damme.” Daarom gebruik Lodie slegs boorgatwater, wat van die opgaartenk na waterpunte by sy lamhokke herlei word. Elke ry hokke het ’n krip, wat die water na ’n suipkelkie in elke hok herlei.

Die krippe is dieselfde hoogte as die kelkies en die water word deur ’n vlotterklep, wat met ’n pyp na die kelkies verbind is, gereguleer. ’n Kraan is op elke punt by die krippe aangebring vir wateruitvloeidoeleindes. Die krippe word daagliks toegemaak en die waterlyn oopgemaak, sodat die water uitspoel. Skoon water vul weer die kelkies op nadat ’n ooi gesuip het.

Skoon water na kampe

Lodie sê sodra die ooie en lammers ná sowat sewe dae uit die lamhokke kom, loop hulle vir tien dae in kampe, waarna hulle na sy groenvoerkampe verskuif word. Hy let noukeurig op na watervoorsiening aan dié kampe, en maak seker sy kudde kry deurlopend skoon water. Boorgatwater word na ’n sementdam, en vandaar na die onderskeie krippe in die kampe herlei.

Die skoonmaak van die krippe is uiters belangrik. Daar moet geen water rondom die krip opdam nie, want bakterieë kan daarin groei. Dit is dán wanneer Cryptosporidium en E. coli by lammers voorkom. Al die krippe in sy kampe het krane vir die skoonmaakproses, en vuil water word nie naby die krippe uitgetap nie. Skoon water word weekliks in die krippe getap.

Daar is sement rondom dié krippe, wat help dat water nie daar kan opdam nie. Die krippe is klein en kompak en word uit waterverwarmingstoestelle (geisers) gesny, terwyl tussen 15 en 20 ooie in ’n kamp daaruit kan suip.

Die sementdam, wat water na die krippe herlei, word drie keer per jaar skoongemaak. Dit is ’n oop reservoir, wat vir Lodie meer koste-doeltreffend is. Hy gebruik nie chloor nie, want dit kan die goeie bakterieë in sy diere se mae beïnvloed.

Vir meer inligting, kontak Deon van der Watt by 082 783 6408 of odeonbdy@gmail.com, of Lodie van Reenen by 072 597 6047 of novabarletta@gmail.com.

wegholveldbrande
,hartwater, wegholveldbrande, veldbrande, skeerpraktyke, boerbokke, karobboom